Wanneer iemand jou 'n guns bewys, doen dieselfde vir hulle. - Esopus (620 - 564 v. C.)
'n Mier is eendag by die rivier om water te drink. Ongelukkig beland die mier op 'n manier in die rivier en word hy met die stroom meegesleur.
Die miertjie hyg en spartel, en probeer klim op stokkies en takkies, maar hy is hopeloos te lig en klein.
'n Bosduif sit op 'n tak in 'n boom langs die rivier en koer. Die duif sien die mier spartel in die rivier, pik 'n blaar van die boom af, en laat val die blaar naby die mier in die rivier.
Die mier klim bo-op die blaar en haal veilig die oewer.
'n Rukkie later kom 'n voëljagter daar aan.
Hy gaan staan onder die boom en sien die bosduif. Stilletjies en versigtig haal hy 'n kettie (rekker) uit sy sak om die bosduif mee te skiet.
Die mier sien wat die voëljagter doen.
Toe die voëljagter afbuk om 'n klip op te tel, byt die mier hom tussen die tone. Die voëljagter stamp met sy voete op die grond om die mier af te skud.
En danksy die mier, sien die bosduif die voëljagter en vlieg weg.
Fluit, fluit, die storie is uit.
***
Hierdie verhaal word toegeskryf aan Esopus (Aesop), 'n beroemde slaaf wat tussen 620 - 564 voor Christus (v. C.) in antieke Griekeland gewoon het. Dit is maar slegs een van die honderde verhale wat vandag sy naam dra.
'n Groot aantal verhale wat aan hom toegeskryf word, behels motiewe en simbole vreemd aan die Griekse kultuur, geloof, en leefstyl van Esopus se tyd, en die vermoede is daarom sterk dat baie van hulle oorspronklik in die mondelingse tradisie van ander kulture ontstaan het en toe summier onder Esopus se naam oorvertel is.
Alhoewel betroubare inligting oor hom nou baie skaars is, het die slaaf, Esopus, daarin gespesialiseer om doodgewone verskynsels en voorvalle te gebruik om boeiende en treffende verhale te vertel.
Appolonius van Tiana, 'n filosoof in die eerste eeu n. C., het die volgende geskryf oor hom: “...nes iemand wat 'n eenvoudige bordkos met smaak geniet, gebruik hy die nederigste voorbeelde om groot waarhede te openbaar, en nadat hy die storie smaaklik opgedis het, het hy goeie advies bygevoeg oor wat om te doen en nie te doen nie. Ook was hy vreeslik lief vir die waarheid; veel meer as enigeen van die digters...”
Alhoewel Esopus se verhale vandag hoofsaaklik aan kinders deur middel van storieboeke oorgedra word, is hulle oorspronklik geskep en bedoel vir volwassenes.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking