Pad na die Hart: Fatima Sydow se Ingelegde Kaapse Kerrievis

Fatima Sydow (1973 - 2023) is baie mense se gunsteling kok, myne ook, en haar Facebook-blad wat meer as 480,000 volgelinge het is bewyse hiervan. Haar resepte is vlatervry eenvoudig en smaak altyd vorentoe. Dis ook maklik om die aanwysings te volg en daar is niks wat vreemd klink en lyk op die bestanddelelys nie. Ek glo mos dat as jy eers moet wonder wat vir 'n ding iets op 'n bestanddelelys is, hou maar verby.

    In Desember verlede jaar, 2020, het Fatima met ons op Facebook gedeel dat sy met kanker gediagnoseer is, en hou sy almal gereeld op hoogte hoe dit met haar gaan. Ons wens haar alle voorspoed toe en hoop sy word gou gesond.

    'n Aantal jare gelede, het sy, aangevuur deur 'n voorliefde vir lekker kos en kook, op haar eie besluit om 'n Facebook-blad oop te maak vir haar inheemse disse. Haar warm geaardheid, vriendelikheid, oulike giggel, doodgewone kombuis en potte het vinnig harte gewen en haar smaaklike disse het honger mae laat gor. Sy het ook 'n YouTube-kanaal wat baie gewild is en wat deur duisende besoek word. 

    Die gewildheid van haar Facebook-blad, Fatima Sydow Cooks, het daartoe gelei dat sy 'n kookboek, The Journey of Cape Malay Cooking with Fatima Sydow, skryf en 'n kookprogram op Via TV saam met haar suster, Gadija, aanbied. Hulle het saam ook 'n kookboek geskryf. 

    Fatima word beskou as die kreoolse kok wat eiehandig Kaaps-Maleise kos en resepte wêreldbekend gemaak het. Sy het volgelinge van oral op die planeet. 

    Een van haar treffers is 'n goeie, eenvoudige kerrievis resep. As ek sommige mense se resepte só lees smaak dit vir my ek moet op my hande staan en die pot met my voete roer om die ding reg te kan maak want dis ingewikkelde, honderde bestanddele in onse en ponde, klomp skottelgoed wat ek nie wil was nie se tipe resepte. Fatima se kerrievis is rêrig net bak vis, maak die sous, gooi oor, laat staan en trek in die yskas. 

    Kerrievis is 'n gunsteling hoofmaal in Namibië, ons eet emmertjies en bottelsvol daarvan, sommige smous hulle s'n by die werk om 'n ekstra sentjie te maak want niemand wat ordentlik is eet winkelkerrievis nie. Elke kok s'n smaak ook anders; die verskil is, natuurlik, die kok se hand, dié se resep, en klante se smaakkliere. Fatima se ingelegde kerrievis is een van die heerlikste wat ek al gemaak het, en ek deel dit graag hier met ander kerrieviskenners en connoisseurs

Fatima se Ingelegde Kerrievis Resep

Bestanddele

2 kg ferm, witvis stukke, soos stokvis (hake in die Ingels) of snoek

6 groot uie, geskil, en in ringe gesny

Sout

1 koppie koekmeel

1 teelepel swart gemaalde peper

2 teelepels borrie 

1 koppie asyn

1 koppie water

4 - 5 eetlepels suiker

2 eetlepels appelkooskonfyt

1 eetlepel swart peperkorrels

1 eetlepel koljander saad

5 lourierblare

2 eetlepels medium of sterk kerrie (ek hou van 'n byt op die tong)

1 eetlepel mieliestysel (Maizena) gemeng met 3 eetlepels water

'n Halwe koppie sonneblomolie

Hoe maak 'n mens dit?

1. Ontdooi die visstukke, druk liggies droog met servette of servetpapier, bestrooi met sout en swart gemaalde peper, rol elke stuk dan in koekmeel (Nota: Ek het in een van haar videos gesien Fatima gooi ook kerriepoeier en 'n bietjie sout in die koekmeel en bedek dan elke stuk vis met dié meel)

2. Verhit 'n halwe koppie sonneblomolie in 'n groot pan en bak die vis aan albei kante, omtrent 5 minute elke kant. Haal die gebakte visstukke uit die pan en sit eenkant in 'n bak. 

3. Plaas 'n dieperige pot op die stoof, gooi die asyn en water in. Verhit tot warm. 

4. Voeg die uie, suiker, sout (proe of dit reg is), lourierblare, koljander, peperkorrels, kerrie, borrie, appelkooskonfyt by en kook alles saam vir omtrent tien minute. Roer gereeld, en hou die sous dop, moenie laat brand nie. 

5. Voeg die mieliestysel en water mengsel by. Die sous sal verdik. Roer goed met 'n vurk tot die sous glad is.

6. Plaas die gebakte visstukke in 'n bak (met verkieslik 'n deksel). Gooi die kerriesous oor die visstukke en laat alles afkoel. Maak seker al die visstukke is met sous bedek. 

7. Sodra die kerrievis afgekoel het, sit die deksel op, en sit in die yskas om te trek vir so 2 - 3 dae. 

Eet en geniet!

***

Laat weet, asseblief, hoe hierdie resep uitgewerk het en proe. Stuur gerus 'n e-pos na nossobgroep@gmail.comHierdie artikel is geskryf deur Anya Namaqua Links, 'n stigterslid van die Nossob Groep. Volg vir Fatima Sydow op haar Facebook-blad en op YouTube: Fatima Sydow Cooks

    Naskrif: Fatima Sydow (50) is ongelukkig op 19 Desember, 2023, oorlede na 'n brawe en verbete stryd teen sagte-weefsel sarkoom (kankerselle wat in sagte weefsel soos die limf, spiere, en buik ontwikkel). Al is sy nie meer tussen ons nie, is sy steeds die ikoniese kok van Kaapse kreoolse kombuise en is ons dankbaar sy was hier. Dit is nogal 'n bietjie hartseer om haar videos op YouTube te kyk, en haar giggel en stem te hoor. Hier is die skakel vir haar kerrievis resep

Opmerkings