Een dag, iewers op aarde, was daar 'n ma-vark met drie klein varkies wat sy gesukkel het om te voer want daar was nie genoeg kos vir hulle almal nie.
Toe die drie varkies 'n bietjie ouer is, het sy hulle gegroet en met goeie wense en wyse woorde die wye wêreld ingestuur. Die varkies het eers snot en trane gehuil, toe hul oë en snoete afgevee, en die pad gevat.
Na 'n lang reis kom hulle aan by 'n plek met genoeg kos vir almal en besluit om daar te bly.
Elke varkie sou vir homself sy eie huisie bou.
Die eerste varkie was baie lui en het nie van werk gehou nie. Hy bou vir hom 'n grashuisie om in te woon.
Die tweede varkie het 'n kleinvingertjie harder gewerk maar was ook oor die algemeen lui en bou vir hom 'n stokhuisie.
En toe sing en dans en speel die twee lui varkies vir die res van die dag.
Die derde varkie het die hele dag lank hard geswoeg om vir hom 'n kliphuisie te bou. Syne was 'n stewige huis met 'n skoorsteen bo die herd in die kombuis. Dit het gelyk sy huisie kon die hardste, sterkste storms trotseer.
Die volgende dag het 'n honger wolf in die kontrei rondgeloop en die eerste varkie se grashuisie gesien. Hy ruik daar is 'n varkie binne-in en sy spoeg tap vir varkvleis.
Die wolf klop aan die deur en skree: “Varkie! Varkie, maak die deur oop!”
Die varkie loer deur die sleutelgat, sien die wolf se groot, harige pote en antwoord: “Nee! Ek sal nie!”
Die wolf lek sy slagtande af. “Ek gaan blaas, varkie, en blaas tot ek jou grashuis om blaas!”
Toe bol hy sy wange en blaas totdat die varkie se grashuisie omval! Die wolf rek sy kakebene oop en hap na die varkie, maar die varkie hardloop vinnig na die tweede varkie se stokhuisie toe.
Die wolf agtervolg hom en kom te staan voor die tweede varkie se stokkiesdeur. Hy ruik nou twee varkies en sy spoeg spat vir varkvleis.
“Varkies!” skree die wolf. “Maak die deur oop! Ek wil inkom!”
Maar die varkies loer deur die sleutelgat, hulle sien die wolf se skerppunt ore, en skree: “Nee! Ons sal nie!”
Die wolf lek weer sy groot slagtande af. “Ek gaan blaas, varkies, en blaas tot ek hierdie stokhuis om blaas!”
Toe bol hy sy wange en blaas totdat die tweede varkie se stokhuisie ineenstort. Die wolf is uitgevreet en probeer om albei varkies terselfdetyd te vang, maar kon nie één vang nie! Hulle was te rats en hardloop vinnig op hul kloutjies na die derde varkie se kliphuisie.
Die drie varkies was baie angstig en benoud. Die wolf het hulle amper gevang. Hulle besef hy hulle wil opvreet.
Die wolf het heeldag nog niks geëet nie en is rasend honger. Om boonop varkies te probeer vang op 'n leë maag is moeilik. Hy ruik al drie van hulle in die kliphuisie en sy spoeg loop soos water vir varkvleis.
Die wolf hamer teen die deur. “Varkies! Maak oop die deur! Ek wil inkom!”
Die varkies loer deur die sleutelgat, sien die wolf se groot slagtande en skree: “Nee! Nooit! Ons sal nie!”
Die wolf lek sy slagtande en skerp kloue af. “Ek gaan blaas, varkies, en blaas tot ek hierdie kliphuis omblaas!”
Hy bol sy wange en blaas. En blaas. En blaas. En hy bol weer sy wange en blaas en blaas nogmaals. Die wolf blaas en blaas maar die kliphuisie bly staande. Hy is woedend en honger. Hy hou op blaas en gaan sit eenkant om te dink.
Ná 'n ruk spring hy bo-op die kliphuisie se dak en klim in die skoorsteen af.
Terwyl die wolf sit en dink, maak die derde varkie 'n vuur in die herd en sit 'n groot pot vol water op.
Toe die wolf in die skoorsteen afgly, haal die varkie die pot se deksel af en die wolf val in die kokende water. Hy brand hom morsdood. Dit was die einde van die wolf.
Die drie varkies verlang soms na hul ma en wonder hoe dit met haar gaan, maar hulle speel vir baie jare gelukkig saam en woon veilig in die kliphuisie.
Fluit, fluit, die storie is uit.
***
Hierdie bekende kinderverhaal van die drie varkies en die wolf het vir die eerste keer in 'n boek in Engeland in die middel van die 1800s verskyn. Kenners wat westerse volksverhale bestudeer is egter van mening die verhaal is baie ouer as daardie eeu na aanleiding van die motiewe en simbole daarin. Hulle voer ook aan dat dit die gewoonte van die (ongeletterde) landelike volk was om 'n verhaal mondelings aan kinders oor baie geslagte heen oor te dra voordat verhale in die geskrewe vorm verskyn.
Die drie varkies en die wolf se verhaal het deur middel van Britse koloniale beleid na ander lande versprei en sodoende ook in Afrika beland waar dit mettertyd in Afrikaans vertaal is. Dit word steeds aan kinders oorgedra in geskrewe en getekende vorme deur middel van kinderboeke, en ook mondelings. Afrikaanssprekende kreoolse en inheemse gemeenskappe in Namibië het hierdie verhaal in die sestiger en sewentigerjare ontvang.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking