Kortverhaal: Vryheidslied deur André Izaaks

21 Maart, 1990
Hy neem skuifelend sy plek op die gemakstoel voor die televisie in. 'n Regstreekse uitsending duur sedert vroeg die oggend op die kassie. Daar is al die hele dag 'n feestelike atmosfeer op die dorp. 'n Wit markiestent het op die groot stadion verrys. Hy aanvaar die geleentheid sal regoor die land gevier word. 
    'n Nuwe land word vandag gebore. 'n Land word vandag bevry uit die baarmoeder van rasseskeiding en ongelykhede, die laaste een in Afrika, waarvan die naelstring van tirannie en onderdrukking vandag geknip word. Dis rede vir 'n fees. 
    Dit was chaos in die Casspir. Oral rondom hom het gewonde makkers gelê en kreun. Andere was weer vreemd doodstil. Sy voetpatrollie het in 'n lokval vasgeloop. Hulle het tweede gekom in die skermutseling. Die radio-eenheid kon gelukkig vinning kontak maak met hul basis, en die gepantserde voertuig met versterkings het hulle te hulp snel en die vyand uitgewis. Hy was in die heup getref, en die ondraaglike pyn het hom op die rand van beswyming gehad. Hulle was nog nie heeltemal buite gevaar nie; daar kon nog vyandige eenhede in die omgewing gewees het. Die Casspir was gelukkig mynbestand. Hy het aangevoel van sy makkers sou dit nie maak nie...daarvoor was daar net te veel bloed en bewusteloses in die voertuig.
    Hy sit vasgenael voor die televisie. Die regstreekse uitsending vanaf die nasionale stadion in die hoofstad hou hom geboei. Hy sien die ou leiers en die nuwes. Hy sien hoe die ou vlag gestryk, en die nuwe gehys word, met 'n kloppende hart. Dit wat hy aanskou, besef hy, is die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die land. 
    ʼn Magsoorname vind plaas, gevolg deur ʼn vuurwerkvertoning soos nog nie in hierdie geweste gesien is nie. Ook hier in die dorp beweeg 'n konvooi van toeterende voertuie die strate deur. Op die televisie word die feestelikheid voortgesit met 'n musiekkonsert; Ndilimani, Jackson Kajeuja, Ras Sheehama, en Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Lucky Dube vermaak die skare. Ook Ziggy Marley, seun van die legendariese Bob Marley wat nege jaar tevore oorlede is, doen sy ding op die verhoog met revolusionêre nommers soos Africa Unite en Get up, Stand up, sy pa se liedjie. Hy kan onthou dat hulle nogal baie na Bob Marley se musiek in die weermag geluister het en gedink het dit gaan lekker saam met ʼn zol gerol van die Transkei se beste groen. 
    Hy het genadiglik die aanvaal oorleef; drie van sy eenheid het nie. Behandeling en fisioterapie het saam met die duur van sy diensplig uitgeloop. En, die ontrekking van die weermag uit die noorde van die land. Hy het nooit ten volle na die aanval herstel nie. Hy, 'n ballroom danser van formaat, sou daarna lewenslank met 'n effense skuifel stap. 
    Hy het teleurgesteld van die weermag teruggekeer. Die gebeure wat die land se eerste demokratiese verkiesing ingelui het, het hy met verbasing gadegeslaan. Na al die bloedvergieting, na hulle vermink en gebreek na hulle huise teruggekeer het, na al die lewens wat opgeoffer was, na al die politieke en populistiese propaganda, ingedril oor die jare heen, na alles waarteen hulle glo geveg het, kommunisme en sosialisme veral, word daar 'n nuwe vlag in Windhoek gehys, en staan hul oud-opperbevelvoerder, regterhand plegtig teen die bors, die gebeure meewarig betrag. 
    Soos 'n begrafnisondernemer by 'n oop graf staan die wit Sterkman van gister, onderhou met plegtige formaliteit, die grootste oomblik. 'n Toeskouer, deeglik daarvan bewus dat hy binnekort sou teruggaan na sy land van herkoms; dieselfde land wat vanaand sy vyfde provinsie as 'n soewereine staat afstaan, en aan haar volle onafhanklikheid verleen. 
21 Maart, 2019
Hy neem skuifelend sy plek in. Die ou oorlogswond pla hom elke jaar meer maar dis sy land se nege-en-twintigste jaar van onafhanklikheid vandag, en die vieringe het reeds vroeër die dag in alle erns begin. Die staatshoof en sy gevolg kom die stadion ingery, stadig, al in die ronde met die ovaal atletiekbaan, terwyl hy vriendelik na die skare wuif en glimlag. 
    Hy betrag die gebeure oor die afgelope byna drie dekades.
   Na onafhanklikheid het hy hom as onderwyser bekwaam by die nuutgestigde universiteit. Ironies genoeg, het hierdie instelling onder die apartheidsbedeling 'n ander naam gehad en was dit gebruik vir die onderrig en opleiding van wit onderwys-studente, uitsluitlik. 
   Hy onthou ook sy weermag-bevelvoerder se waarskuwings oor die sosialistiese beleid waaronder ʼn onafhanklike land gebuk sou gaan. Besit van private eiendom sou nie geduld word nie as die ''terroriste'' die land sou regeer, het die man siedend met 'n gebalde vuis gebulder. Deeglik bewus hiervan, het hy onmiddellik na hy sy onderwys opleiding voltooi en ʼn pos in die dorp aanvaar het, ʼn huis deur middel van ʼn banklening gekoop. Hy het dit vyf jaar gelede afbetaal. Die titelakte na die eiendom, sy bewyse van eiendom, lê in die kluis by die huis. 
    Hy onthou ook die waarskuwings van kerkleiers daardie tyd; die nuwe regering is heidene en alle godsdienstige vakansiedae sou weggedoen word mee. Wel, na nege-en-twintig jaar word Paasfees, Hemelvaartdag en Kersfees steeds onderhou as openbare vakansiedae. Hy wonder kopskuddend wat van daardie doemprofete geword het. Daar is selfs nou sprake dat die dagga wat hulle skelm gerook het, uiteindelik gewettig gaan word! 
    Die res van die band hou hom dop terwyl hy die aftelling waarneem sodat hulle saam kan begin speel. Na die oorlog, toe hy nie meer met gemak kon dans nie, het hy hom daarop toegespits om die kitaar te bemeester want hy is lief vir dans en musiek, en het uiteindelik musikante bymekaar gebring om 'n band te begin. Die band het redelike bekendheid geniet tot hulle uiteindelik genooi was deur die onafhanklikheidsvieringe se organiseerders om vanaand hier op te tree. 
    Hy verstel die klank knoppie op Fender Stratocaster-kitaar, druk sy lippe teenaan die yster-gaas van die mikrofoon en begin aftel: 
    “One, two, three!” 
***
Hierdie kortverhaal is geskryf deur André Izaaks van Mariental, in die suide van Namibië. Izaaks is 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep wat hom daarop toespits om die unieke ervaringe, agtergrond, kultuur, verhale en Weltanschauung van bruin en inheemse Afrikaanssprekendes in Namibië te verwoord. Die kopieëreg hiervan rus ten volle by die skrywer van die verhaal. U is welkom om met André in verbinding te tree by andreizaaks@gmail.com

Opmerkings

  1. Wonderlike inisiatief Andrè. Doet so voort

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie, Clarice. Altyd gerusstellend om jou goedkeuring te kry.

      Vee uit

Plaas 'n opmerking