Broer Haas en die Teerpop soos vertel deur Oom Remus (1881)

Joel Chandler Harris was 'n blanke Amerikaanse skrywer wat in 1881 'n versameling didaktiese verhale onder 'n skuilnaam, Oom Remus (Eng. ''Uncle Remus''), geskryf het. Harris se skuilnaam en skryfstyl het daarop gesinspeel dat die verteller van die verhale 'n Amerikaner van Afrika-herkoms is. Sy verhale was baie gewild voortspruitend uit die mondelingse kultuur van Afrika-Amerikaners in die suide van die VSA.
    Broer Haas en die Teerpop is in 1881 hoofsaaklik aan kinders oorvertel maar dit is baie meer as net 'n oulike kinderstorie. Skrywers en studente het oor die jare heen daarop gewys dat ''teerpop'' 'n neerhalende verwysing na Afrika-Amerikaners is, maar volgens Joel Chandler Harris waarsku die verhaal mense om nie betrokke te raak by kwessies wat hulle nie aangaan nie omdat hulle vasgevang sal word in taai, klein besonderhede daarvan, en agterna sal sukkel om hulle daarvan te onttrek. 
    Die Engelse naam van hierdie verhaal is Br'er Rabbit and the Tar Baby. In Georgia, 'n staat in die suidooste van die VSA, het die landelike bevolking die woord ''brother'' of broer op verskillende maniere uitgespreek maar dit was ook 'n spesifieke gebruik onder die Afrika-Amerikaanse bevolking in die staat om ''broer'' voor selfstandige naamwoorde te voeg in spraak en skrewe. 
*** 
Broer Jakkals kon nie vir Broer Haas verdra nie. Broer Haas was altyd besig met poetse bak en het gedink hy is almal se baas. Eendag besluit Broer Jakkals toe hy net mooi genoeg gehad en die tyd is ryp om Broer Haas te vang en dood te maak. Hy het vir 'n lang ruk gesit en gedink en gedink en toe met 'n plan vorendag gekom. Hy sou 'n teerpop maak! 

    Broer Jakkals het toe teer gaan haal en met 'n bietjie turpentyn gemeng en daarna soos 'n wafferse beeldhouer 'n pop van die mengsel gemaak, in die vorm van 'n oulike meisie. Hy het 'n hoedjie op die teerpop se kop gesit en haar gemaak staan in die middel van die pad. 
    Broer Jakkals het toe in die bosse langs die pad weggekruip en gewag en gewag vir Broer Haas. Uiteindelik hoor hy iemand kom aangestap, fluitend en skertsend, en hy reken reg dat Broer Haas oppad was, teen die bult op. 
    Toe Broer Haas oor die rug van die bult stap, gewaar hy die teerpop in die middel van die pad. Hy was verbaas. Hy het gaan staan en staar na die teerpop. Hy het nog nooit so iets in sy lewe gesien nie!
    “Goeie more,” het Broer Haas baie hoflik gesê en sy hoed gelig vir die teerpop. “Die weer is mooi vandag.”
    Die teerpop het doodstil gesit en voor haar uitgestaar. In die bosse langs die pad, het Broer Jakkals laag gelê met 'n glimlag op sy gesig. 
    Broer Haas het weer probeer. “En hoe gaan dit met jou vandag?” 
    Hy het gefrons. Sy was nie baie vriendelik nie, dog hy. Dit het hom nogal vies gemaak. 
    “Gmf!” het Broer Haas hardop gesê en gewonder of die teerpop doof was. “Ek het nou net gevra: hoe gaan dit met jou vandag?” 
    Die teerpop het doodstil gesit en niks gesê nie. In die bosse het Broer Jakkals een van sy pote in sy mond gedruk sodat Haas nie kon hoor hoe hy lag nie.  
    “Is jy doof of net onbeskof?” het Broer Haas die teerpop ergerlik gevra. “Ek verdra nie hoogmoedige mense nie! Haal jou hoed af en vra my ook hoe dit met my gaan of ek moer jou!”
    Die oulike teerpop het net doodstil gesit en niks gesê nie. In die bosse langs die pad het Broer Jakkals op die naat van sy rug gelê, sy pens vasgehou en saggies agter sy pote gelag. 
    “Ek sal jou wys!” het Broer Haas op die teerpop geskree. Hy het 'n arm gelig, 'n vuis gemaak en die teerpop in die gesig geslaan. Sy hand het onmiddellik in die taai teer vasgesit en hy kon dit nie los wikkel nie. 
    “Los my, los my, of ek slaan jou weer!” het Broer Haas woedend geskree. Die teerpop het nie 'n woord gesê nie. 
    “Goed! Gaan voort!” Hy het sy ander arm gelig en ook met dié die teerpop bygedam. Dit het ook onmiddellik vasgesit. Albei sy pote was nou vas. Broer Jakkals het in die bosse langs die pad rond gedans en gehuppel van lekkerkry. 
    “Ek sal jou wind-uit skop!” het Broer Haas op die teerpop gegil en hard met albei voete begin geskop. Sy voete het in die teerpop weggesink en was ook vinnig vas. Broer Haas was woedend en het sy nek agtertoe geruk om die teerpop 'n kopstamp te gee. Sy kop was nou ook vas. Hy het probeer los wikkel maar dit was tevergeefs. 
    Net op daardie oomblik het Broer Jakkals uit die bosse uitgespring en doodluiters na die teerpop gestap. Daar gekom, sien hy Broer Haas vasgevang in die teer. 
    “My hemel, Haas,” vra hy vals verbaas, “watse goed gaan hier aan?”
    Broer Haas het geskrik en diep gesluk toe hy Broer Jakkals daar sien staan. Hy was vasgevang en weerloos. Haas het benoud gedink en gedink aan 'n plan terwyl Broer Jakkals in die pad rondgerol en geskaterlag het. 
    “Ek het jou met 'n slap riem gevang, Haas,” het Jakkals gesê, nadat hy opgestaan en sy klere afgestof het. “Ek het genoeg gehad van jou streke en baasspelerigheid. Wat kan ek nou met jou aanvang?”
    Broer Haas se oë het groot gerek. “Asseblief tog, Jakkals,” het hy gesmeek, “dit maak nie saak wat jy aan my doen nie, maar moenie my in die doringbos gooi nie?” 
    Broer Jakkals het kamma gestaan en dink. “Miskien moet ek jou op 'n spit smyt en braai,” het hy hardop gewonder. “Nee, man, dis te veel werk. Ek sal jou sommer net ophang.” 
    Broer Haas het weer diep gesluk. “Braai my maar! Hang my op! Moet my net nie in die doringbos gooi nie, asseblief!” het hy gesmeek. 
    “As ek jou moet ophang, sal ek tou moet kry,” het Broer Jakkals gesê en gemaak asof hy niks hoor nie, “en ek het nie nou 'n stuk tou by my nie. Kom verby, ek sal jou sommer in die stroom verdrink.” 
    “Ja, verdrink my! Braai my ook! Hang my maar op!” het Broer Haas histeries gegil. “Moet my asseblief net nie in die doringbos gooi nie. Ek smeek jou, Jakkals!”
    Broer Jakkals het opeens gehuiwer. “Waarom gaan jy so aan oor die doringbos?” Sy gesig het skielik verhelder. “Die doringbos, Haas! Dis mos 'n wonderlike idee, man! Die dorings sal jou mos fyn en flenters verskeur!”
    Broer Jakkals het net daar woord by daad gevoeg en vir Broer Haas opgegryp. Broer Haas was taai en oortrek met teer. Broer Jakkals het vir Broer Haas om en om in die rondte geswaai en hom toe die doringbos ingesmyt. Broer Haas het so bloedstollend geskree dat die hare op Broer Jakkals se rug regop gestaan het. Daar was 'n harde knars geluid toe Broer Haas in die bos val, gevolg deur 'n dowwe plofgeluid, en toe...doodse stilte. 
    Broer Jakkals het een oor in die rigting van die doringbos gedraai en aandagtig geluister om kermgeluide te hoor. Maar dit was doodstil. Hy het toe sy ander oor ook in die rigting van die doringbos gedraai om Broer Haas se roggelgeluide te hoor soos hy kamma sterf. Maar dit was nog steeds net doodstil. 
    Iemand het Broer Jakkals se naam geroep. Hy het stadig omgedraai en omgekyk na die bult in die pad. Daar sien hy Broer Haas rustig op 'n houtstomp sit, besig om die teer uit sy pels te kam met 'n doringtak. Broer Haas het vir jou in sy noppies gelyk. 
    “Ek is gebore en getoë in 'n doringbos, Jakkals,” het hy smalend gesê. “Gebore en getoë.” 
    En toe het Broer Haas opgestaan, uitgestrek en weggespring met 'n harde lag en sulke groot, wye spronge. Broer Jakkals was opeens woedend en het met swaar treë huistoe geloop. 
***
Hierdie verhaal is uit die Engels na Afrikaans vertaal deur Anya Namaqua Links. Links is 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep wat hom daarop toespits om die ervaringe, geskiedenis en kultuur van die Afrikaanssprekende Khoekhoense en Saanse gemeenskappe in Namibië te verwoord. 

Opmerkings