Griekse Tragedie: Iekarus van Kreta deur Owied (8 N. C.)

Dedalus was alombekend as 'n slim, bekwame man. Hy was beroemd daarvoor dat daar nie 'n probleem onder hierdie son was waarvoor hy nie 'n oplossing kon vind nie en sy goeie naam het hom dus ver vooruit geloop. Hy was gereken die beste argitek, bouer, en ambagsman in die land. 
    Dedalus het in Atene, ou Griekeland, gewoon en gewerk. Sy susterskind, Talus, was sy handlanger. Talus was 'n buitengewone intelligente jong man en te oordeel aan die gehalte van sy werk en briljante idees was dit duidelik dat hy, een dag, meer beroemd sou wees as sy oom. 
    Soos die persoonlikheid van die man nou maar was, was Dedalus derhalwe jaloers en afgunstig op Talus. 
    Op 'n dag, nadat hulle saam die tempel van die wyse godin, Atene, besoek het, stamp Dedalus vir Talus van 'n hoë krans af. Atene, die godin, het dit gesien en Talus in 'n arend verander voordat hy die rotse onder die krans kon tref. Die arend het teen die krans opgestyg en weg gevlieg.
    Ná Talus se onverklaarbare verdwyning, is Dedalus inhegtenis geneem en aangekla van moord. Die hooggeregshof in Atene het hom skuldig bevind en lewenslank verban na die eiland, Kreta. 
    Kreta was die koningryk van Koning Minos. 
   Dedalus was voorspoedig op Kreta en het sommer dadelik betrekkinge gekry vir bouwerk. Hy het mettertyd verlief op 'n plaaslike meisie verlief geraak, met haar getrou, en die paartjie is geseën met 'n seun, Iekarus. 
    Dedalus se lewe op Kreta was rustig en voorspelbaar totdat Koning Minos hom na sy paleis ontbied het. Daar aangekom vra die koning vir Dedalus om 'n gebou te ontwerp wat die minotourus, 'n ondier met die liggaam van 'n man en die kop en stert van 'n bul, verewig gevange sou hou. Koning Minos wou ook hê die gebou moet 'n doolhof insluit waarin mense kon verdwaal sonder om die minotourus te vind. 
    Dedalus het gretig aan die werk gespring en die doolhof ondergronds ontwerp. Dit was so goed beplan en gebou dat hy self daarin verdwaal het! Die minotourus is toe in die middel van die doolhof vasgemaak waar die ondier se teenwoordigheid die mense van Kreta met vrees en afgryse vervul het. 
    In plaas daarvan om vir Dedalus vir sy goeie werk te bedank en beloon, beopdrag Koning Minos sy soldate om vir Dedalus en sy seun, Iekarus, lewenslank in 'n hoë toring toe te sluit. Hy wou seker maak hulle vertel vir niemand van die uitleg van die doolhof nie. 
    Dedalus en Iekarus was vir 'n lang tyd baie mismoedig in die toring, maar Dedalus was 'n slim man wat 'n oplossing kon vind vir elke probleem onder die son en het elke dag aan verskillende maniere gedink om uit die toring te ontsnap. 
    Op 'n dag besef hy die ope lug is die enigste pad uit want die skepe op die see en in die hawens behoort aan Koning Minos, en die koning se soldate en wagte het alle paaie beheer. 
    Dedalus hou toe die voëls wat daagliks om en om die toring vlieg noukeurig dop. Hy bestudeer hul bewegings. Hy sien hoe hulle saam met die wind van rigting verander en hoe hulle hul vlerke lig en laat sak om vinniger of stadiger te vlieg. 
    Hy versamel toe die vere wat die voëls afskud en na baie jare had hy genoeg vere om twee stelle vlerke te maak; 'n paar vir hom en 'n paar vir Iekarus. Hy lym die vlerke sorgvuldig aanmekaar met byewas. 
    Die dag waarop hulle beplan het om te ontsnap, breek toe uiteindelik aan. Dedalus waarsku vir Iekarus om nie te hoog te vlieg nie want die hitte van die son sal die byewas laat smelt, en om ook nie te laag te vlieg nie want die klam seelug sal die vlerke te swaar maak. 
    Hulle klim op die toring se dak, vou hul vlerke oop, en spring in die lug in. 
   Eers sukkel hulle om op dreef te kom, maar daarna sweef hulle soos twee groot voëls op die wind. 'n Ruk later vlieg hulle hoog bo die see en weg van Kreta. 
    Iekarus is verheug dat hy kan vlieg. Hy vergeet heeltemal van Dedalus se waarskuwings. Hy voel magtig en onoorwinbaar. Hy sweef hoër en hoër in die lug op. Sy pa roep na hom, maar Iekarus kan nie hoor nie. Hy styg selfs nóg hoëen hoër in die lug op, bo die wolke uit, en vlieg té na aan die son. 
    Nes Dedalus gewaarsku het, smelt die son se hitte die byewas wat die vlerke aanmekaar hou. Vere val in bondels van Iekarus se vlerke af, waai weg, en los groot gate. 
    Skielik, nes 'n klip, val Iekarus aarde toe en sterf opslag toe hy die see tref. Sy liggaam het onder die golwe verdwyn. 
    Dedalus is geskok om te sien sy seun val soos 'n pyl uit die lug en sterf in die see onder hom. Smart en verwyte het hom oorweldig. 
    Hy doop toe die plek waar Iekarus se liggaam onder die water verdwyn het, die Iekariese See, en 'n eilandjie daar naby doop hy Iekarja. 
    Dedalus vlieg toe verder met 'n swaar gemoed tot in Sisilië waar hy 'n tempel oprig ter ere van Apollo, die songod. Toe die tempel voltooi is, plaas hy sy vlerke op Apollo se altaar as offerande. 
    Fluit, fluit, die storie is uit. 
***
Publius Owiedius Naso, alombekend as Owied, was 'n Romeinse digter tydens die bewind van Keiser Augustinus. Hy is vandag bekend vir Die Metamorfose, 'n aaneenlopende, uitgebreide mitologiese verhaal wat vyftien (15) boeke beslaan. Owied het Dedalus en Iekarus se tragiese verhaal in Boek Nommer III (drie) van Die Metamorfose geskryf, in die agtste jaar anno domini (8 N. C.). Die verhaal handel oor mense wat daarvan droom om die onmoontlike te bereik en vermaan hulle om nederig te wees, want alhoewel die mens se intelligensie en vindingrykheid iets groots is wat hom mag bo ander diere gee, het hierdie mag ook perke. Hierdie verhaal wys ook daarop dat omstandighede mense soms daartoe kan dryf om dinge te doen wat nooit vir hulle bedoel is nie, en sodoende hul eie ondergang bewerkstellig. 

Opmerkings