Eendag het 'n wolf reg langsaan 'n skaapplaas gaan woon en elke dag het hy uit sy grot gestap, die skape gesien wei, en het sy mond gewater vir 'n vetterige skaapboud of blad.
Hy het die skape só dopgehou en tot die gevolgtrekking gekom dat hulle dom is; hulle volg dan almal rond. Hulle volg die plaasboer, die skaapwagter, selfs die plaashond. As hulle alleen is, volg hulle mekaar.
Op 'n dag kruip die wolf onderdeur die plaasheining. Hy loop reguit na die skape, wuif hulle nader en sê: ''Kom, kom volg my, skapies!''
Maar die skape was ook nou nie heeltemal dom nie. Hulle is van nature skrikkerig vir wolwe en weier botweg om die wolf te volg. Die skaapwagter gewaar toe die wolf naby die skape, gryp sy kierie gegryp, en jaag die wolf weg.
Die volgende dag hou die wolf toe die skaapwagter die hele dag lank dop. Laat namiddag drink die skaapwagter sy laaste koffietjie, gooi sand oor sy vuurtjie, pak sy rugsak, tel sy kierie op, en jaag die skape vir die aand terug kraal toe. Maar hy los iets agter: 'n skaapvel. Die wolf wag tot hy nie meer die skaapwagter en die skape sien nie, toe sluip hy af en steel die skaapvel. Daardie aand in sy grot, trek hy die skaapvel aan en probeer gedra hom soos 'n skaap.
Namiddag die volgende dag, terwyl die skaapwagter onder 'n boom lê en rus, kruip die wolf weer onderdeur die heining. Hy het die skaapvel aan. Hierdie keer pas hy by die skape in en deins hulle nie weg van hom nie. Hy lyk en ruik mos nou nes hulle.
Toe hy 'n lammetjie sien, fluister hy: ''Volg my, skapie.'' Hy draai om, loop na die heining, kyk om, en sien die lammetjie agtervolg hom getrou. Daardie aand smul die wolf heerlik aan lamsvleis.
Nie lank daarna nie is die wolf weer honger en wéér in die skaapvel tussen die skape. Die skaapwagter lê en rus weereens salig onder 'n boom. Juis op daardie dag besluit die plaasboer om partytjie te hou en wil hy die grootste, vetste skaap vir die geleentheid hê. Hy kyk toe oor sy kudde, sien 'n skaap wat groter as die andere is, vang dit, tel sy byl op en kap die “skaap” se kop af.
Dit was egter die wolf.
Fluit, fluit, die storie is uit.
***
Hierdie verhaal spruit dan uit Matteus 7:15 - 16 van die Nuwe Testament, toe Jesus gewaarsku het: ''Pasop vir die valse profete wat in skaapklere na julle kom maar in werklikheid is hulle roofsugtige wolwe. Aan hul woorde en werke sal julle hulle uitken.'' Mettertyd het 'n Latynse gesegde ook uit hierdie vers ontwikkel, Pelle sub agnina latitat mens saepe lupina, wat direk vertaal na: ''Alhoewel dit soos 'n skaap voorkom, het dit die geaardheid van 'n wolf.'' Die doel van hierdie Bybelse vermaning van Jesus is om Sy volgelinge te waarsku teen diegene wat hulle onder valse voorwendsels benader, veral valse profete en skynheilige leraars.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking