Gedig: Kô, Lat Ons Sing deur Adam Small (1936 - 2016)

Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies - 
o Allahoegste Gies
lat hierie woorde na onse harte gaan! 
Yt die twiere boek van Mosas
yt die Exodus
yt die viere hoefstuk die ee'ste en die twiere verse - 
o God
maak vi' ons lig moet hierie woorde soes moet kerse! 
Toe antwoord Mosas en hy sê: ma' wat
as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat
as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?

ma' die Here sê vi' hom: djy sal djou mense lei
wat's in djou hand?
en Mosas sê: 'n staf

nou vrinne
dit was al wat hy gahad het
hierie man van God
'n staf
'n dooie stok
en boenop het hy nog gahakkel ok

ma' die Here het toe lank moet hom gapraat
oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat
het die Egiptanaar
en Mosas het sy groote kop lat hang
en toe 
toe skielak was daai selfde kierie in sy hand 'n slang!

nou vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gavra wat's in my hand
en vrinne
in my hand was my kitaar

Kô, lat ons sing.

***
Adam Small is op die 21ste Desember, 1936, te Wellington gebore. Saam met Peter Snyders word hy as een van die belangrikste digters, wat uit die Afrikaanssprekende kreoolse gemeenskap in suider Afrika ontwikkel het, beskou. 
    Small het in 1953 gematrikuleer en daarna aan die universiteite van Kaapstad, Londen, en Oxford gestudeer. Hy het in 1963 sy meestersgraad in filosofie behaal. Daarna het hy gedoseer by oorwegend kreoolse universiteite, Fort Hare en UWK (Wes-Kaap). Sy betrokkenheid by die swartbewussyns-en anti-apartheidsbewegings van daardie tyd het daarvoor gesorg dat sy loopbaan as dosent gebroke en ongemaklik was; hy was ten tye gedwing om sy bedanking in te dien as gevolg van sy politieke uitgesprokenheid. 
    Small se debuutbundel, Verse van die Liefde, het in 1957 verskyn maar dit is sy opspraakwekkende toneelstuk, Kanna Hy kô Hystoe (1965), wat sy naam in die gemeenskap se monde en geheue vasgemessel het. Hy het verkies om foneties te dig in die Kaapse-Afrikaanse (Afrikaapse) dialek. Sy bydrae tot die geskrewe werke en lewende leksikon van die kreoolse gemeenskap is van onskatbare waarde. 
    Small het in 1997 afgetree en in Kaapstad op die 25ste Junie, 2016, gesterf. 

Opmerkings