Daaglikse Woord: KAMPONG (oorsprong: Maleisië)

   Ons daaglikse woord het 'n baie interessante geskiedenis en alhoewel dit 'n bietjie rondkrap en speurwerk geverg het om die oorsprong en agtergrond daarvan vas te stel, is alles nog nie heeltemal uitgepluis nie.  

    Op die tonge van Maleisiërs en Indonesiërs beteken kampong (of ''kampoeng'') gehuggie, dorpie, nedersetting, of verwys dit na die groepering van geboue wat om 'n spesifieke doel opgerig was. In Namibië praat kreoolse mense dan ook van hul ''blok'', buurt, die lokasie soms, en hierdie selfstandige naamwoorde kwalifiseer dan om as sinonieme vir kampong te dien. 

   Kampong word ook in Kambodja gebruik om hawens te beskryf waar kusdorpies geleë is en word nog steeds in Maleisië, Indonesië, Brunei en Singapoer gebruik. In hierdie lande verwys dit ook na buurte, dorpe en nedersettings waar verskillende taal-en etniese groepe woon; soos byvoorbeeld kampong jawa (vir mense van Jawa) of kampong arab (die Arabiese buurt).  

   Die Maleise kampong het 'n ander betekenis aan die Engelse selfstandige naamwoord, compound, verskaf wat nes die oorspronklike woord, in hierdie sin, ook verwys na 'n tipe nedersetting.  

   ''Ek het 'n vorm van hierdie woord gehoor in die suide van Johannesburg, jare gelede, vroeg in die oggend, toe mynwerkers die pad voor my oorsteek,'' skryf Anya Links. 

   ''Hulle was tot die man vaal van die stof, hul rubber stewels was grys, en die lampies op sommige helmette het nog gebrand. Hulle was oor die algemeen stil behalwe vir 'n jongeling, kan ek onthou, wat hardop in Zoeloe met 'n kollega gesels het. Net toe die verkeerslig groen word, en die stowwerige ry in die donker gange langs die snelweg verdwyn, hoor ek toe hy sê kampong. En, dit het my getref want dis 'n ou Maleise woord.

   ''Dit is opvallend dat die woord se wortel, kamp, in Afrikaans, (Laag) Duits en Nederlands gevind word en dat dit dieselfde betekenis het in al drie tale; 'n afgebakende of tydelike plek om te bly, soos 'n kampeerplek. Die eiland, Jawa, en Batawja, die voormalige hoofstad van die VOC (Vereenigde Oostindische Compagniein Indonesië, was tussen 1602 en 1799 deur Nederland gekoloniseer. 

   ''Ek is seker kruisbestuiwing tussen die Maleise en Nederlandse tale het plaasgevind wat op sy beurt neologismes geskep het, soos kampong.'' 


***

Sou u daarin belangstel om die geskiedenis, herkoms en gebruik van woorde met ander Afrikaanssprekendes, lesers en intekenaars te deel, word u hiermee uitgenooi om 'n epos te rig aan nossobgroep@gmail.com.

Opmerkings