Die Heilige, die Leeu, en die Jakkals deur Sarah Cone Bryant

Eendag het 'n heilige man deur die veld gewandel en op 'n groot ysterhok afgekom waarin 'n leeu toegesluit is. Omdat hy oortuig was daarvan dat die heelal daarna streef om harmonie te handhaaf en dus oorvloei met onvoorwaardelike liefde, het die heilige groot deernis vir alle skepsels op aarde. 

   “Heilige man, o, heilige man,” smeek die leeu hom, “ek het nie water nie en vrek van die dors. Maak tog die hok oop sodat ek 'n bietjie water kan drink?” 
    “Maar, Leeu,'' sê die Heilige verbaas, “as ek jou uitlaat, sal jy my bespring en opvreet. Dis dan jou geaardheid.”     Nooit, my liewe heilige,” belowe die leeu doodernstig. “Ek sal nooit so ondankbaar wees nie. Maak net die hok oop vir 'n kort rukkie sodat ek 'n bietjie water kan drink, asseblief?” 
    Die Heilige het toe die ysterhok se hek oopgemaak en die leeu klim uit. Skaars 'n oomblik later, bespring die leeu die Heilige van agter en rek sy groot kake wyd oop om die arme man te verslind. 
    Hoe nou, Leeu?” vra die Heilige hom angstig. “Dit is mos nie regverdig dat jy my nou wil opvreet nadat ek jou vrygelaat het nie.” 
    Grommm!'' grom die leeu. “Ek gaan jou opvreet! Dis dan my geaardheid.” 
    Maar die Heilige redeneer met die leeu totdat die leeu teënsinnig instem dat hulle vyf ander wesens kan vra of dit regverdig is of nie vir die leeu om die Heilige op te vreet. 
    Die eerste lewende wese wat hulle teëkom is 'n ou, groot vyeboom. 
    Ou Vy,” vra die Heilige hom, “klink dit vir jou regverdig dat hierdie leeu my moet opvreet nadat ek hom uit 'n hok vrygelaat het?” 
    Die ou vyeboom kyk ondertoe met 'n moeë, uitgeputte uitdrukking op sy vyeboomgesig. 
    Wanneer dit baie warm is,” sê hy, “kom rus mense in die koelte van my skaduwee en eet hulle my vrugte. Sodra die son sak, en hulle is uitgerus, dan breek hulle my takke af, krap my stam, en gooi my met klippe om meer van my vrugte te kry. Die mens is 'n ondankbare skepsel. Dit is regverdig dat die leeu jou opvreet.” 
    Die leeu bespring toe onmiddellik die Heilige om hom te verslind maar die Heilige stol sy lus: “Wag nou eers, Leeu, ons het nog net een lewende wese gevra. Daar is nog vier oor.” 
    Daarna kom hulle 'n ou bul teë wat langs die pad lê. Die Heilige groet die ou bul gegroet en vra: “Ou Bul, is dit regverdig dat hierdie Leeu my opvreet nadat ek hom uit 'n hok vrygelaat het?” 
    Die bul maak sy oë met moeite oop en antwoord: 
    “Toe ek jonk en sterk was, het my baas my verskriklik hard laat werk. Ek het hom goed en getrou gedien en sy swaar laste vir hom gedra. Noudat ek oud en swak is, het hy my net hier langs die pad gelos, sonder kos of water, om te vrek. Mense is selfsugtig en buit andere uit. Dit is regverdig dat die leeu jou opvreet.” 
    Die leeu is weer reg om die Heilige te bespring toe laasgenoemde vinning sê:  “Hierdie is slegs die tweede lewende wese wat ons gevra het, Leeu, daar is mos nog drie oor, of hoe?” 
    Na 'n lang ruk het hulle 'n arend deur die lug sien sweef. Die Heilige roep uit na hom: 
    O, Arend, Arend! Moet die leeu my opvreet nadat ek hom vrygelaat het uit 'n aaklige hok?” 
    Die Arend sweef stadig in die lug bo hulle en daal toe af. Hy sê baie duidelik
    Ek berokken die mens geen skade en los hulle uit, maar hulle steel my kuikens en skiet na my met koeëls uit hul gewere. Mense is wreed. Vreet hom gerus, Leeu!” 
    Die leeu laat wag nie op hom nie en bespring onmiddellik weer die Heilige om hom te verslind. Die Heilige sukkel om die Leeu te oortuig om nog 'n bietjie te wag. 
    'n Ruk later kom hulle 'n ou krokodil teë wat op die oewer van 'n rivier in die son lê en bak. “Krokodil,” vra die Heilige, “klink dit vir jou regverdig dat hierdie leeu my wil opvreet nadat ek hom uit 'n hok vrygelaat het?” 
    Die ou krokodil sug swaar. 
    Ek lê elke dag rustig langs hierdie rivier, so mak en skadeloos soos 'n lammetjie, maar elke keer wanneer mense hier verbystap, gooi hulle my met klippe en jaag hulle my hiervandaan weg. Mense is sleg. Vreet hom maar op, Leeu!” 
    Die leeu bespring weer die Heilige vasbeslote om hom op te vreet, en die arme Heilige smeek behoorlik en herinner hom herhaaldelik daaraan dat hulle nog net vier lewende wesens gevra het. 
    Terwyl hulle verder deur die veld stap, ontmoet hulle toe 'n jakkals oppad na sy gat in die grond. 
    Jakkals, liewe Jakkals,” sê die Heilige, “mag hierdie leeu my opvreet nadat ek hom vrygelaat het uit 'n hok?” 
    Verskoon my?” sê die jakkals. “Sal u 'n bietjie harder praat, asseblief? My gehoor is 'n bietjie swak en ek verstaan nie aldag so mooi nie. Wat gaan hier aan?” 
    Die Heilige praat toe harder en herhaal die vraag. 
    Eerstens, watse soort hok is dit?” vra die jakkals. “Hoe lyk die ding?” 
    Dis 'n gewone ysterhok,” sê die Heilige
    Dit sê vir my niks,'' haak die jakkals af. “Ek staan en dink nou, as ons hierdie kwessie wil oplos stel ek voor ons gaan liewer almal terug na die plek waar hierdie hele besigheid begin het. Sien, julle?” 
    En daar stap die Heilige, die leeu, en die jakkals toe deur die veld, terug na die plek waar die heilige man die leeu in die hok gekry het. 
    Goed,” sê die jakkals toe hulle daar aankom, “laat ek nou die storie mooi verstaan. Heilige, waar presies was u?” 
    Ek was hier, oppad, verby die hok,” sê die Heilige
    Leeu, tjomma, en waar was jy?'' vra die jakkals. 
    In die hok, natuurlik,” grom die leeu. 
    Ai, ek vra om verskoning, Leeu,” sê die jakkals. “Weet jy, ek is nou maar net 'n dom bliksem, vra net my ma. Jammer, man, maar hoe en waar presies in die hok het jy gestaan?”     Net hier, en so,” sê die leeu en spring terug in die hok. “My kop was hier en my skouers so.” 
    Dankie, man,” sê die jakkals. “Dis nou baie duidelik vir my. Maar, ek verstaan nog steeds nie...waarom kon jy dan nie self uit die hok nie?” 
    Kan jy nie sien dat die hek my binne gehou het nie?” grom die leeu ergerlik. 
    Ai, weet jy, Leeu, my bra, verskoon my,” sê die jakkals. “Jy weet mos, ek verstaan nie aldag so mooi nie tensy ek die ding gewys word. Sal jy tog maar vir my wys hoe die hok se hek sluit sodat ek jou reg kan verstaan? Hoe presies werk dit?” 
    Die hek sluit so,” sê die Heilige en druk die hek toe. 
    Ja, dit verstaan ek,” sê die jakkals, “maar, ek sien nie 'n slot nie. Word die hek van binne of buite gesluit?” 
    Dit sluit so,” antwoord die Heilige en sluit die hek toe met die leeu binne-in die hok. 
    Dis nogal interessant,” sê die jakkals toe. “In hierdie geval, Heilige, sal ek u aanraai om liewer die hok gesluit te hou aangesien bra Leeu u wil opvreet. En Leeu, jy sal nou baie lank wag voordat iemand jou weer sal vertrou en uitlaat! 
    “Totsiens, heilige man, en alle voorspoed! Ons paaie skei hier,” en met hierdie woorde verdwyn die slim jakkals tussen die vaal gras.

***

Hierdie kortverhaal is uit die Engels in Afrikaans vertaal deur Anya Namaqua Links. Die oorspronklike verhaal, The Brahmin, the Tiger and the Jackal (1968), geskryf deur Sarah Cone Bryant, is aangepas vir Namibiese lesers. Die foto van die “Heilige” wat hierdie verhaal vergesel, is afgelaai van die Internet en staan eenvoudig bekend as “Ju|hoansi-San Hunter. Living Museum. Tsumkwe” (geen naam en van is verskaf) op die webtuiste van Human Food Project. Sou u daarin belangstel om by te dra tot hierdie blad, is u baie welkom om te skryf na nossobgroep@gmail.com

Opmerkings