Jakes Gerwel se Nalatenskap: “Afrikaans Moet Verdraagsaamheid Bevorder”

In Mei, 2004, het die anti-apartheid aktivis en Professor emeritus, Jakes Gerwel (1946 - 2012), 'n toespraak gelewer op uitnodiging van die Universiteit van die Vrystaat (UV). Dit is een van daardie toesprake wat geraam moet word of in klip vasgelê moet word omdat dit Gerwel se uitkyk, denkwyse, en filosofie aangaande die rol van Afrikaans in 'n nuwe demokratiese bedeling omvattend uitlê. 

In sy toespraak het Professor Gerwel die volgende gesê
    “As daar een onderwerp is wat my redelik deurlopend aan die dink hou, is dit oor hoe, tot watter mate en om watter redes Afrikaans, of meer presies 'n leefruimte waarin Afrikaans belangrik en van belang is, in die veranderde en veranderende omstandighede van ons land en wêreld sal bly voortbestaan en groei. En nie net in tel- en meetbare terme nie, maar veral ook in die gehalte van daardie leefruimte. Die afloop en einde van die ou Suid-Afrika, om nou maar daardie snelskrif-beskrywing te gebruik, het implikasies vir die toekomsgehalte van die Afrikaanse leefwêreld, meer en meer diepgaande as vir die van enige ander taal in die land, vermoed ek.”
Ná onafhanklikheid in 1990, het die Namibiese regering Engels as amptelike taal aangeneem om nasionale eenheid en versoening te bevorder. Om meer presies te wees, die nuwe regering het 'n beleid aangeneem om her-versoening te bewerkstellig tussen die veeltalige en multikulturele groepe wat Namibië hul tuiste beskou (gebaseer op die veronderstelling dat Namibiërs versoen met mekaar was vóór die aanvang van Duitse kolonialisme en apartheid). Die slagspreuk van die eerste Swapo-regering lui gevolglik dan in Engels: “One Namibia, one nation.” 
    Met die onttrekking van die Suid-Afrikaanse weermag uit Namibië en na die afloop van die eerste demokratiese verkiesings in 1989, het meer as 45 000 mense, wat in ballingskap in Afrika-buurlande en oorsee gewoon het, teruggekeer na Namibië. Engels is onmiddellik aanvaar en toegepas as amptelike voertaal tot op die hoogste vlakke. 'n Paar jaar na onafhanklikheid, het gerugte die rondte begin doen dat die regering ook 'n ongeskrewe taalbeleid handhaaf wat staatsamptenare verbied om Afrikaans te praat. 
    Dit is slegs een van vele voorvalle wat daartoe bydra dat baie Namibiërs, ook in die kreoolse gemeenskap, geleidelik, met 'n soort verset, rug op Afrikaans draai. Die hoofrede is alombekend: die taal se rol as dryfveer van apartheid, rassisme, en wit nasionalisme. Voorafgaande verwys dan na die “gehalte van die leefruimte” waarvan Professor Gerwel in sy toespraak in 2004 melding gemaak het. 
    Die aanname van Engels as amptelike taal, met ander woorde, die verwerping van Afrikaans wat tot op daardie tydstip, in 1990, nog die amptelike taal in Namibië was, het 'n wending in die toekoms van die voortbestaan van Afrikaans in Namibië te weë gebring. Die taal se “leefruimte” het aansienlik gekrimp. Sommige mense wat die taal uitstekend kon praat, lees en verstaan, het botweg geweier om 'n woord Afrikaans te praat om hul ondersteuning vir die nuwe bedeling te wys, om te bewys dat hulle die vorige, onderdrukkende bedeling verwerp, en dat hulle Namibië se nuwe beleide (insluitend sy taalbeleid) volkome aanvaar.
    Professor Gerwel het tydens sy toespraak gevra: 
“Hoe kan mens nou...die verskynsel Afrikaans sien? Daardie politieke omwenteling het, moet mens onthou, onder andere 'n paar eeue van blanke oorheersing, en meer ter sake, 'n halfeeu van Afrikaner-oorheersing, tot 'n einde gebring. Die groei en verfyning van Afrikaans was intiem verbonde aan die politieke status (en nasionalisme) van Afrikaners; hoe kyk mens nou na Afrikaans in hierdie radikaal veranderde omstandighede?”
    Afrikaanssprekende Namibiërs het die afgelope dertig jaar sedert onafhanklikheid aanskou hoe daardie einste “politieke omwenteling” waarvan Professor Gerwel gepraat het, ook radikale veranderinge teweegbring in hul omgangstaal. Die ruimte en geleenthede om hulself in Afrikaans uit te druk, het kleiner en nouer geword. Dit het nie oornag gebeur nie, maar dit is opvallend dat Engels ook stelselmatig die besigheidstaal in Namibië geword het. Ook het plaaslike universiteite en gemeenskapskolleges Engels as onderrigtaal aangeneem met die gevolg dat 'n groter aantal leerlinge, veral in kreoolse gemeenskappe, skole dwarsoor die land bywoon om onderrig in Engels te ontvang. Die skrif is natuurlik nog steeds teen die muur vir Afrikaans: die toekoms blyk Engelssprekend te wees. 
    Professor Gerwel kom agter die kap van die byl met hierdie stelling: 
“Die gesondheid van Afrikaans is egter nie net 'n gevolg van hoe die taal en sy leefwêreld vanuit owerheidsweë en deur ander behandel en benader word nie; die gesondheid word ewe belangrik bepaal deur hoe die sprekers en gebruikers van die taal hulself handhaaf as deelnemers aan die onderliggende waardestelsel en definierende praktyke...soos beoog in en deur ons grondwet. Nie-rassigheid is een van die sleutelwaardes waardeur die nuwe Suid-Afrika onderskei word van die vorige politieke en samelewingsbestel.”
    Gegewe Afrikaans se rol en geskiedenis in Namibië, die feit dat die taal deur 'n groot hoeveelheid mense steeds beskou word as die taal van die verdrukker (in Engels: “the language of the oppressor”), dertig jaar later, en blanke Namibiërs, ongeag hul moedertaal, vereenselwig word met die “onderdrukker”, rus die verantwoordelikheid op die skouers van Afrikaanssprekende kreoolse gemeenskap, wat ook onderdruk is onder apartheid, om nie die taal te verwerp nie soos hul nie-blanke landgenote maar om die “gesondheid” daarvan te behou, te onderskraag, en te bevorder soos Professor Gerwel in sy toespraak gesê het, om uiteindelik verdraagsaamheid en versoening te bewerkstellig. Hy beklemtoon dat die gedrag (in sy woorde, hoe hulle hulself “handhaaf”) van die “sprekers en gebruikers” van die taal die voortbestaan van Afrikaans sal bevorder mits hulle die “sleutelwaardes”, veral nie-rassigheid, wat in beide die nuwe Suid-Afrikaanse en Namibiese grondwette vervat word, navolg en toepas. 
    Professor Gerwel brei verder uit op hierdie onderwerp: 
“Alhoewel vryheid van assosiasie, een van die bepalings in ons handves van menseregte, sekerlik ook insluit mense se reg om binne bepaalde groepsverbande te assosieer solank dit nie ander se regte skend nie, bly dinamiese nie-rassigheid die toetssteen om te oordeel oor aanpassing by die gees van die nuwe Suid-Afrika (of Namibië). Die vraag is in hoe 'n mate die breë wêreld van Afrikaanssprekendheid daardie gees van nie-rassigheid en inklusiwiteit aangeneem het en in praktyk uitleef en dinamies nastreef.”
    Afrikaans is 'n redelike ou taal in Namibië en geskiedkundige verslae dui daarop dat die taal reeds duskant die 1700s al in hierdie geweste gehoor is. Dit beteken ongeveer drie-honderd jaar van die “verskynsel” van Afrikaans, soos Professor Gerwel dit genoem het, in Namibië
    Hierdie verskynsel is dan verder versterk deur die vestiging van verskeie kreoolse gemeenskappe (uit verskillende oorde van suider Afrika) in die sentrale gebiede, suide, en kusgebiede van hedendaagse Namibië, almal Afrikaanssprekend (Nama, Baster, Dama, en Kleurling, ingevolge die rasregister van die vorige bedeling). 
    Ook volgens geskiedkundige verslae het nie een van die kreoolse gemeenskappe 'n spesifieke kultuur nagevolg nie; die meeste van hul lede het westerse klere gedra en leefwyses aangehang, mans het Christelike sendingskole bygewoon en het die groepe hulle geestelikheid uitgeleef deur westerse-tipe kerke te bou en die Christelike geloof na te volg. Al wat die oorspronklike kreoolse gemeenskappe in destydse Namibië, vóór Duitse kolonialisme en apartheid, in gemeen gehad het, is hul taal, Christelike geloof, en leefwyse. Die groepe se waardes het ook nie geweldig van mekaar verskil nie wat vrede tussen hulle help handhaaf het en dit ook maklik gemaak het vir 'n vloeiende soort lidmaatskap om te bestaan. 
    Apartheid het hierdie samesyn en eenheid verbreek. Hopelik, net tydelik. Die amptelike bevolkingsregister wat in 1950 saamgestel is en wetgewing daarna geword het, het die plaaslike kreoolse gemeenskappe opgedeel in verskillende “rasgroepe.” 
    Ingevolge die bevolkingsregister is Kleurling as 'n verskillende ras verklaar met vyf verskillende “kleurling” groepe, Baster, Kaapse kleurling, Griekwa, Kaapse Maleier, en iets genaamd “ander” (wat basies enigeen is wat nie iewers in die bevolkingsregister gepas het nie, insluitende Sjinese). 
    Die ander kreoolse groepe in Namibië, soos Nama en Dama mense, is “swart” stamme geklassifiseer. Dit moes, myns insiens, 'n administratiewe nagmerrie gewees het. Die Groepsgebiedewet van 1950, gevolg deur die Wet op Bantoe-owerhede van 1951, het die nie-blanke plaaslike bevolking verder volgens rasgroep verdeel in afgebakende landelike en stedelike gebiede, ingevolge die apartheid regering se beleid van “afsonderlike ontwikkeling” (oftewel ''apart-heid''). 
    Om terug te draai na sy redenasie in Professor Gerwel se toespraak, in verband met die voortbestaan van Afrikaans, moedig hy die kreoolse gemeenskap aan om ten volle die sleutelwaarde van “nie-rassigheid”, soos omvattend uitgelê is in die nuwe grondwet, te aanvaar en toe te pas. Hy het profeties bygevoeg: 
    “Solank Afrikaanssprekendheid homself in sy dominante uitdrukkingsvorme uitleef as 'n hoofsaaklik wit onderneming, word sy kanse om 'n plek in die sentrum van die nuwe Suid-Afrika in te neem, ernstig ondermyn en selfs op die lange duur heeltemal vernietig. ...Afrikaanssprekendheid is eintlik op homself - sy sprekers en sy instellings - aangewese om vir sy heil om te sien.”
    Noudat nuwe grondwette die hoogste gesag in beide Namibië en Suid-Afrika is om gelykheid te herstel en bevorder, die oppergesag van die gereg ingestel is vir die beslissing van geskille in howe om geregtelikheid te laat geskied, en nie meer deur middel van kapteins, stamhoofde, inheemse reg, en konings nie, is daar weereens ruimte vir plaaslike kreoolse groepe om 'n gesonde “leefruimte” vir hulself en hul moedertaal, Afrikaans, te skep, die ou bevolkingsregister in die vuur te smyt en weg te stap van die ras-en stamgebonde verdelings afgedwing onder apartheid. 
    Alhoewel daar steeds in Namibië groot uitdagings in Afrikaans se pad staan, wat mettertyd groter sal word soos Engels se bevordering as amptelike taal in die regering, in besigheid, die taal van onderrig op universiteite, beskik die Afrikaanssprekende kreoolse gemeenskap oor die vermoë en moet hulle gebruik maak van geleenthede om alle fasette van hul kultuur (geskrifte, musiek en kuns), geskiedenis, geloof en perspektiewe ten volle uit te leef deur middel van Afrikaans, nes enige ander taalgroep in die land, sonder om te skroom of hulle te skaam vir die taal se geskiedenis. 
    Sy belangrikste boodskap en nalatenskap is Professor Gerwel se opdrag dat, in teënstelling met die taal se geskiedkundige aanwending om verdeeldheid te bevorder en sy verbintenis met apartheid, Afrikaans vorentoe aangewend moet word om verdraagsaamheid, versoening en nasionale eenheid te bevorder, met nie-rassigheid as 'n sleutelwaarde, ook in Namibië.   
***
Geskryf deur Anya Links te Windhoek, Namibië. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.       
    

Opmerkings

  1. Dankie vir die vertaling, jou insigte in die breë en gevolglike plasing, Anya.
    Professor Gerwel se edele vooruitsigte spruit natuurlik uit sy lewensuitkyk as humanis en onwrikbare passie vir die Afrikaanse taal.
    Die situasie ter plaatse is egter nie sonder uitdagings nie.
    Soos tereg genoem in jou artikel, was die politieke omwenteling - broodnodig om n gelyke speelveld daar te stel- na eeue van Wit oorheersing, die einste katalisator wat as't ware die doodskoot vir Afrikaans teweeggebring het.
    n Terloopse blik na een van die sosiale media formate en die taalgebruik, of gebrek daaraan, is genoeg om mens die papelellekoors te gee!
    Die redes daarvoor het jy in die artikel deurgegee.
    Mens bemerk egter ook n soort traak-my-nie-agtigheid, veral onder millenniërs. In die kitswêreld waarin ons onsself bevind, word woorde eenvoudig sonder klinkers geskryf, neologismes geskep, ens.
    Die taal word egter nog gepraat. Ek hoor al hoe meer studente by die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NUST)met mekaar in Afrikaans gesels.
    As luisteraar van Kosmos,n plaaslike kommersiële radiostasie, moes ek verskeie kere hoor hoedat oud-minister Bernhard Esau (hy van fishrot-faam!), en adjunk-minister van sport, Agnes Tjongarero onderhoude in Afrikaans voer. Dit sou ondenkbaar 25 jaar gelede wees.
    Daar is dalk tog n geleidelike, en veral welkome, ommeswaai in hoe ander kultuurgroepe Afrikaans, en haar sprekers, bejeën.
    Die uiteindelike gevolg kan dus die welkome "verdraagsaamheid, versoening en (om) nasionale eenheid te bevorder, met nie-rassigheid as 'n sleutelwaarde", die versugting van wyle Professor Gerwel.
    Die verwesenliking van hierdie ideaal behels ook die totstandkoming en onderhouding van n behoorlike letterkundige nalatenskap. Dit berus dus op plaaslike Afrikaanse skrywers om hul merk te maak, in mate sodanig dat dit blywende belangstelling in Afrikaans mag prikkel, en die sprekers daarvan ontmoedig om n oordrewe kultuur-identiteit na te volg.
    Een van Gerwel se gunsteling digters was NP van Wyk Louw, wie ons met die volgende stof tot nadenke laat:
    "n Taal groei nie net deurdat hy op al hoe meer plekke gebruik word nie,(dit sou uitbreiding wees soos van kweekgras wat al hoe wyer oor die grond uitsprei); n taal groei ook deurdat sy letterkunde al hoe dieper in die mens se lewe ingraaf (en dit is groei soos van n boom wat al hoe dieper wortels afstuur, dat hy al hoe hoër opreik)."





    AntwoordVee uit

Plaas 'n opmerking