Keurverse van P. J. Philander: Alles Behalwe 'n ''Kleurlingdigter''

Die kreoolse digter en skrywer, Peter John Philander, was op die 25ste November, 1921, te Caledon, in die Overbergstreek van die Wes-Kaap, gebore. Tussen 1936 en 1939 het hy die Opleidingskollege Zonnebloem bygewoon en die Kleurling Primêre Laer Onderwyskursus voltooi. Terwyl hy skool hou op Plettenbergbaai, ontmoet hy ook sy toekomstige vrou, Alice Harker. Die paartjie het vier kinders gehad, drie seuns, George, Dennis en Peter, en 'n dogter, Elsa. Elsa is oorlede op tweejarige ouderdom. Philander se eerste digbundel, Uurglas, het in 1955 verskyn en bevat treffende indrukke van die platteland, gewone mense en verskynsels in die heelal, soos sonsverduistering en komete. Sy tweede digbundel, Vuurklip (1960), het as tema die geskiedenis en mense van die voormalige Suidwes-Afrika (nou Namibië) waarin die land vergelyk word met 'n stuk lont wat die wêreld aan die brand steek. In 1969 word hy deur die toepassing van die Groepsgebiedewet gedwing om afstand te doen van sy huis in Rondebosch en emigreer hy met sy gesin dan na die V. S. A. In 1988, beswyk Alice aan 'n hartkwaal. P. J. Philander is op 7 Februarie, 2006, oorlede in Las Vegas waar sy jongste seun, Peter, woon. Philander het bekendheid verwerf nadat hy die eerste ''kleurling'' skrywer was wie se werke ''goedgekeur'' was deur apartheidsowerhede. Hierna het Philander 'n filosofiese vraag gestel: ''Ek voel myself net digter, maar is ek 'n kleurlingdigter?''     

Sonsverduistering (Uurglas, 1955)


Langsamerhand, geruisloos skuif die vlek

van skadu en verklein die sekelboog
van son tot dreigend swart die kol daar hoog
'n koue vreemde skemerte laat trek
wyd oor die vlakte waarvandaan, swygsaam, 
'n vaal streep donkies met die kortste pad
oorhaastig stalwaarts swingel nog voordat
die skape blêr-blêr na die kraal toe gaan. 
Oor gans die mensdom hang 'n skaduwee
wat alle lig van God en Christus
so verduister dat Sy pad onsigbaar is. 
En ons, aan hierdie duisternis gedwee, 
het nie 'n skaap se voorgevoel of glo
dat ons moet tydig Huiswaarts keer vir rus. 


*

Veldblomtuin (Uurglas, 1955)

Blou lug waarin die wolke groter klont

en vygies laag gesambreel bo die grond, 
is in hierdie dam van wal tot wal
'n troewele rimpeling, 'n aaklige verval

As die waterhondjies speelsiek skaats

en skielik opsy skiet weg van hul maats, 
en die swaan, 'n sneeuskots met sy slungelnek, 
oor alles heen help rimpels trek. 

Gepolde toppe van die hoë bloekombome, 

stilswyende siddering deur my trotse drome:
Alles verval, word bleek en kil
en die windjie waai rimpels net soos hy wil. 


*

Die Hotnotsriel (Uurglas, 1955)


Met asemstote en lyfgebare

as die speler tokkel aan die fynste snare
dans hul stampend paar aan paar
na die binnekroon toe waar
hul bul-le, bokspring, askoekslaan, 
deurmekaar in die buitelugbaan. 

Deur die stofdamp sien mens hul...

die askoekslaner, bok en bul. 
Hul tors die meisies, trap en spring
in wilde, woes wedywering. 
En warrelend gaan die stofwolk om
soos paar-paar na die kroon toe kom. 

Eentonig die musiek, die mal plesier

in die stofdamp hier
waar hulle bulk en askoekslaan. 
En kleinvannag glim die sekelmaan
dowwer en kouer, 
trek die stofkringetjie nouer. 


*

Plaaspadliedjie (Uurglas, 1955)


Die grys volstruisveer in die wind

en die hasiestert se fyn, wit punt...
Wie kan my keer, wie kan my keer, 
ek word mos groot vir wind en weer. 

Agter die bultjie is my stroois

en 'n lang voetpad na die plaaskombuis...
Tussen die kanniedood, o die kanniedood
lewe ek van koffie en brood. 

O hoe breë bors, hoe breë bors

stap ek nou huis toe met 'n tweede dors...
Die vaaljapie is uitgetrek, is uitgetrek, 
en 'n snaakse onrus is in sy plek. 

O die bladsak agter my rug, 

o die platsak agter my rug...
Wie weet die ghitaarbak is glad
waar ek die snare van my hart raak vat. 


*

Haar Uitvaart (Uurglas, 1955)


Al oor my dak het hul gemaal...

die voëltjies het vir haar kom haal. 

Half-toegevoue vuisies klein

het ylings na die doodsgordyn

gegryp en dan weer moeg verslap...

die sweet het langs haar slapies afgetap. 

Haar ogies sien ek duidelik nog, 

hul het vir my gesmeek om tog

te help...die pyn te stil, 

maar ek was magteloos teen Sy wil, 

en halfweg na die hospitaal

het, asemloos, die dood ons ingehaal. 


*




****************

Alle regte tot hierdie keurverse, geskryf deur P. J. Philander (Uurglas, 1955), is beperk met voordeel tot die skrywer/digter. Anya Links is 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep wat hom daarop toespits om die uiteenlopende ervaringe en kulturele invloede van die Afrikaanssprekende kreoolse gemeenskap in Namibi
ë te verwoord. 

Sou u daarin belangstel om 'n bydrae te maak tot hierdie blad, of om by die groep aan te sluit, is u baie welkom om 'n e-pos te rig aan nossobgroep@gmail.com








Opmerkings