Kortverhaal: “Die Kerkdiens” deur Mûs ||arebē

Ester het nie agtergekom sy slaap nie tot haar tone pyn. Toe sy wakker skrik en afkyk, sien sy die punt van haar ma se swart hofskoen druk met mening op haar voet.

    “Staan op!” sis haar ma. 
    Ester het roos gebloos onder haar ligbruin vel. Sy trek haar bloes en romp reg en staan stadig, selfbewus op. Almal in die kerk staan reeds vir dominee Beukes se gebed. Soos gewoonlik is sy oë toegeknyp asof hy 'n nommer twee op die toiletpot druk, dink sy. 
    Op presies dieselfde oomblik dat Ester opstaan, sak Juffrou Meintjies van die laerskool, in dieselfde ry, maar in die banke naaste aan die kerk se sydeur, inmekaar
    Juffrou Meintjies se hare is mooi gerelax, gekleur, en uitgeblaas in 'n stywe bobJuffrou Swarts, ook van die laerskool, het een Sondag na kerk vir Ester se ma vertel dat Tiekie van Die Wuif Kuif haar vertel het Juffrou Meintjies se kop is glo heeltemal grys maar dat sy, Juffrou Meintjies nou, nog haar lyf jongmeisie wil hou. Om seker weer 'n man te vang, het Ester se ma sarkasties gesê, want Juffrou Meintjies is reeds 'n weduwee. Ester se ma het nie weer vir 'n was-en-kleur na Die Wuif Kuif gegaan nie en liewer haar hare self gedoen want Tiekie bespreek haar klante se grys hare met almal, soos Juffrou Swarts-goed. 
    Al wat die geskokte mense in die kerkbanke langs en agter Juffrou Meintjies kon sien is dat haar bob in 'n ballon helder kleure verdwyn soos haar romp oplig toe sy flou val, en dat Juffrou Meintjies glo vroeër 'n bietjie bleek gelyk het. 
    Dit was amper gekunsteld,” het ou Mnr. Bok agterna opgemerk, wat jare lank vir Juffrou Meintjies bewonder, haar stewige bruin kuite veral. Hy is nooit ver agter haar in die kerk te vinde nie en beaam altyd haar gebede met 'n onbetaamlike harde “Amen!” 
    Toe Juffrou Meintjies inmekaarsak het dominee Beukes se toegeknypte oë oopgegaan en besef hy geloof is dade en nie woorde nie. Hy het hom na haar gehaas waar sy op die sementvloer naby die sydeur lê. Ester se ma het 'n botteltjie vlugsout uit haar handsak gehaal en ook na Juffrou Meintjies gehaas. 
    Toe sy omkyk om te sien of die res van die gemeente dié drama volg, sien Ester hoe 'n skoolmaat in die oorkantste bank, Eben April, sy hand in Antie Doortjie se handsak druk en versigtig haar beurs daaruit verwyder. Antie Doortjie laat staan altyd haar handsak op die bank langs haar en Eben sit skuins agter haar. Niemand sien hom behalwe Ester want almal se oë is op Juffrou Meintjies. 
    Die vlugsout doen niks vir Juffrou Meintjies nie want sy bly lê bleek en bewusteloos op die kerk se vloer. Mev. Beukes, dominee se vrou, kry 'n angsaanval en begin bid soos 'n besetene. 
    Jirre, help ons, Vader Jiesus! Jirre, help ons! Vader! Jiesus!” Dit klink vir die gemeente asof sy laster. 
    Die angs in haar stem, want almal kon sien Juffrou Meintjies se lippe trek blou, spoor Mnr. Jagter aan om uit sy bank op te staan en vir Bleek Ben Bouman uit die agterste banke te gaan haal. Ben is 'n dronklap, het Ester se ma haar vertel, maar hy is lief vir die kerk en het vir baie jare in die hospitaal se ongevalle-eenheid gewerk, dronk, babbelas, nooit nugter. 
    Suster Jansen het met lof van Ben gepraat omdat hy haar “so mooi” gehelp het met die pasiënte; 'n ekstra paar hande is altyd broodnodig. Ongevalle kon morsig raak, veral oor die naweke, met ongelukke, messteke, bevallings, en wat nog, maar Ben se bewende hande het die saal silwerskoon gehou. 
    Dis danksy Suster Jansen dat Ester verpleegster doodgekrap het op haar lys van moontlike toekomstige beroepe omdat Suster Jansen oor die bloederigste besonderhede kon gesels terwyl sy sit en eet. Toe sy klein was wou Ester nie niertjies eet nie nadat Suster Jansen vir Ester se ma van Mnr. Pieters se operasie vertel het. Suster Jansen kon dan selfs vir sterwende mense sê hulle moet nou gaan rus want niks meer kon vir hulle gedoen word nie. “Die Jirre roep jou,” het sy gesê, “gaan hemel toe.” 
    Mnr. Jagter, met sy hoed in een hand en Bleek Ben se arm in die ander, dwing vir Ben tot by Juffrou Meintjies op die kerkvloer, druk hom afwaarts, soos hy 'n dier sou maak water drink. 
    O,” sê Ben toe hy vir Juffrou Meintjies daar sien lê en knip sy oë om beter te sien, “is hy dood of flou?” 
    Ester se ma draai haar kop weg toe Ben se drank walm haar tref. Sy bedek haar neus en mond met 'n hand en frons, maar alle oë is op Ben se bewende hande wat met die knopies op Juffrou Meintjies se blomrok sukkel. 
    Ou Mnr. Bok vergelyk toe Ben se bewende vingers met die hoeveelheid knope op die rok en spring in om te help. Hy het later vertel dat Juffrou Meintjies lankal koud en twee meter onder sou wees as dit nie vir hom was nie, want Ben se bewerasies sou nooit die knope oopgekry het nie. 
    Aob,” het Mnr. Bok agterna gesê, “daai man se drank kom nie by sy mond uit nie, nie met dáái hande nie.” 
    Ester kyk weer om en sien hoe Eben April in die smal gang tussen die kerkbanke wegloop, oppad na die kerkdeur heelagter. Dit lyk asof hy loop en bid want sy hande is voor sy bors gevou en sy oë sedig op die vloer. Sy agterste broeksak bult met Antie Doortjie se beurs. 
    Langs haar staan en hou Mnr. de Druppel en sy dogter, Miena, die gedoente rondom Juffrou Meintjies dop. Mnr. de Druppel se bynaam is Old Spice na die mans naskeermiddel wat hy gebruik. Ester trek aan sy hempsmou en fluister in sy oor van Antie Doortjie se beurs in Eben se broeksak. Mnr. de Druppel knik sy kop, draai dadelik om, sien vir Eben wegsluip tussen die banke, en skree bo-oor die gemeente se koppe: 
    Kroos!” vir Jakobus Kroos wat gesangboeke by die kerkdeur uitdeel, “vang daai fokken jong!” 
    Die gemeente trek skerp asem in. Alle oë kleef aan Mnr. de Druppel. Mev. Beukes hou op bid. Of laster. 
    'n Oomblik later hoes Juffrou Meintjies op die vloer en Bleek Ben help sit haar regop. Alle knope op haar rok was oop, die stywe band om haar middel was los, en almal sien 'n vleeskleurige onderrok en 'n stywe step-in strek van haar bobene tot onder haar bra. 
    Hierdie ding het jou amper vrek gemaak, Meintjies,” sê Bleek Ben en wys met 'n bewende, beskuldigende vinger na die groot step-in. “Watse ding is dié?” 
    Juffrou Meintjies bloos donkerrooi van haar voorkop tot in haar nek. Ester se ma druk vir Ben en sy vinger uit die pad, ruk Juffrou Meintjies se rok vinnig toe en help haar van die vloer af op. Die twee vroue verdwyn by die kerk se sydeur uit. 
    Die hele gemeente is oënskynlik verlig dat Juffrou Meintjies uiteindelik bygekom het en nie voor hul oë, in die kerk van alle plekke, beswyk het nie. Sy is altyd vriendelik en werk so mooi met die kindertjies by die laerskool. 
    Agter in die kerk, naby die deur, vang Jakobus Kroos Eben April se oog en wag hom in. Kroos weet nie presies wat aangaan nie maar die uitdrukking op April se gesig vertel hom alles wat hy wil weet: dié mannetjie het met kak in die kerk kom staan. 
    Toe Eben sien Jakobus Kroos staan voor die kerkdeur met 'n houding dat Kroos weet wat waarmee hy besig is, draai hy skerp regs by die naaste bank in en beweeg haastig in die rigting van die sydeur waar Juffrou Meintjies 'n paar minute gelede nog flou op die vloer gelê het. 
    Mnr. de Druppel sien dit, klim bo-oor die bank voor Ester en Miena, en hardloop na die sydeur met sy Old Spice walm soos Ben se drank walm om Eben te blok. 
    Die hele gemeente, dominee en Mev. Beukes, wie opslag ophou bid het toe Mnr. de Druppel “fokken jong” geskree het, se oë is nou op Kroos, Eben April, en Mnr. de Druppel. Afwagting spoel oor die gemeente. Oom Uiltjie se Piet wat veertig-jaar oud en nog kind is omdat hy glo kleintyd op sy kop geval het, lag skielik histeries. 
    Toe Jakobus Kroos vlak naby hulle oor ou Mev. Fortuin se rolstoel duik om by Eben April uit te kom, skarrel die jeugkoor soos bokke in die banke rond
    Kroos was 'n gedugte rugbyspeler in die bosliga onder apartheid vóór hy water op sy knieë opgedoen het. Dokters in Windhoek het gesê sy toestand is so sleg, sy knieskywe swem glo in sy bene. Hy het 'n laaste tackle vir Eben April oorgehou, en gemis. 
    Ou Mev. Fortuin, wat gewoonlik die hele kerkdiens in haar rolstoel sit en slaap, skrik wakker toe Kroos teen haar rolstoel stamp. Met 'n seepgladde skep tel sy haar kierie op en slat hom op die knieë, op sy skywe. 
    Ewige sleg tril!” gil sy ontstoke. Sy was by daai biduur toe hy getuienis afgelê het oor die pyn waarmee hy deur die lewe wandel as gevolg van sy swemende skywe. “Vir wat stamp jy teen my stoel? Ongeskik!” 
    As Kroos nie sy bene teen sy lyf ingetrek het nie, was sy lyding dalk ses grade erger. 
    Dominee Beukes het onmiddellik weer terug na die sydeur gehardloop om orde te probeer handhaaf, veral oor Mev. Fortuin se tong, en nie omdat sy vir Kroos in die kerk aanrand nie, maar omdat die ou rugbyspeler hom nogal geïntimideer
    Mnr. de Druppel het reeds met sy logge lyf voor die sydeur vir Eben ingewag. Toe Eben sien hy is weereens vasgekeer, draai hy net weer skerp links en hardloop terug na die groot deure agter in die kerk want Kroos, die deurwag, is op die vloer langs Mev. Fortuin waar hy kreun van die pyn, albei hande om sy knieë
    Die sondaars in die agterste banke wou Eben ook nou aankeer sonder om te weet hoekom. Hulle kon aanvoel, na alles wat hulle aanskou het, dat hy het iets verkeerd aangevang het. 
    Toe Eben sy hand op die kerkdeur se handvatsel sit, gryp Oom Jan Ketels daai einste hand en vou dit agter Eben se rug sodat sy gesig skeef trek van die pyn, nes Jakobus Kroos s'n, en hy op sy knieë voor die kerk se deure neersak, asof hy bid. Mnr. de Druppel was teen daardie tyd ook by die kerkdeure. 
    Antie Doortjie! Eben het iets van jou.” Toe hy die beurs uit Eben se broeksak pluk, brom die gemeente soos bye. 
    Die eerste ding wat Antie Doortjie toe doen is om in haar handsak te krap asof sy dit nie glo nie. Sonder om Mnr. de Druppel, arme Jakobus Kroos, en Oom Jan Ketels te bedank, begin sy vir Eben April te skel van sy “slegheid” en “skelmgeit” en dat hy 'n “nikswerd fokkol” soos sy pa is. 
    “Ons moet die polisie bel, dominee Beukes! Nou, dadelik!” het sy haar preek afgesluit. “Hierdie jong sal dit net weer doen. Hy moet 'n les leer.” 
    Voor in die kerk, na Antie Doortjie se woorde, voel Ester hoe haar derms knoop. Sy was benoud vir Eben se onthalwe. Sy en Eben het dieselfde hoërskool bygewoon; hulle was in een klas. Almal weet hy het lang vingers behalwe die grootmense en onderwysers. 
    Oom Jan Ketels, wat nog steeds Eben se arm agter sy rug vou, stem saam. “Ek sal hom vat, Dominee. Die mannetjie moet leer wat reg en verkeerd is.” 
    Terwyl dominee Beukes 'n Bybelvers prewel en pleit om vergifnis, “...sewentig maal sewe keer vir arme Ebentjie,” druk Mnr. de Druppel die kerk se deure oop en is Oom Jan Ketels daar weg met Eben. 
    Jy praat nooit weer met daai April-jong nie, hoor jy, Ester?” het haar ma in Ester se oor gefluister. “Hy's 'n vrot eier.” 
    Tien minute later, na die afdankgebed, toe alles skynbaar weer normaal is, staan Ester en haar ma buite die kerk en gesels met kennisse. Almal het óf van Juffrou Meintjies óf van Eben April gepraat. Haar ma se vriendinne het ook oor Mev. Beukes se geestestoestand bespiegel. 
    Ek verstaan nou hoekom ou Mev. Fortuin se man haar doerie jare gelos het,” het Joelien Kroos gesê. “Daai antie is gevaarlik. My arme man.” 
    Ester het op daardie oomblik gewens sy kon by die jeugkoor aansluit; die jong mans en vroue van haar ouderdom wat eenkant gestaan en met mekaar gelag en gesels het. Van die gemeentelede het hulle bedank oor hulle mooi gesing het. 
    En toe dink sy aan Eben, en hoe hy voor die kerkdeure gekniel het, en Oom Jan Ketels wat hom so hardhandig by die deure uitgestoot het. Sy het gewonder wat van hom sou word en of hy ooit weer skool toe sou gaan. 
    'n Paar minute later, tot almal se verbasing, stoot Jakobus Kroos vir ou Mev. Fortuin in haar rolstoel by die kerk se deure uit. Sy het haar handsak teen haar bors vasgedruk want “jou beurs is nie eens veilig in die kerk nie.” Haar kierie het onskuldig in haar skoot gelê soos 'n geweer op 'n tafel. 
    Mnr. de Druppel het vir Jakobus benader en gevra of hy oraait is. Jakobus het sy kop geskud. 
    Daai tackle was die laaste van my lewe, Old Spice,” het hy gesê. “Ek is klaar met rugby. Die droom is verby.” 
    Mnr. de Druppel het hom agter die blad geklop en met Miena kort op sy hakke na sy kar gestap. 
    Kroos, met sy mankolieke knieë, en sy vrou, Joelien, het vir Mev. Fortuin in haar rolstoel huistoe vergesel; gelukkig was dit heelpad teerpad tot by haar hek. 
    Na nog 'n paar minute, stap ou Mnr. Bok en Juffrou Meintjies arms ingehaak by die kerk uit soos 'n pasgetroude paartjie, gevolg deur Bleek Ben met sy hoed in sy bewende hande. 
    Ester se ma is verstom oor Juffrou Meintjies se ydelheid. Juffrou Meintjies se rok is netjies toegeknoop en die band om haar middellyf is weer styf vasgemaak soos vantevore, wat haar dun middeltjie, danksy daai groot step-in, beklemtoon het. 
    Ou Mnr. Bok het vir Juffrou Meintjies glimlaggend na sy bakkie begelei en toe hy hoflik die deur vir haar oopmaak om in te klim, sak sy, pap soos 'n lappop, in 'n stofwolk langs die bakkie neer. 
    O got, daar flou hy weer!” gil Bleek Ben op die kerk se trappe. 
    Van die gemeentelede het onmiddellik na Mnr. Bok se bakkie gehardloop om met Juffrou Meintjies te help, maar Bleek Ben het prewelend weggestap.
    “Kom ons gaan huis toe, Ester,” het haar ma gesê. 
    In die vroue se toilette het hulle eers hul kerkskoene uitgetrek en toe tekkies aangetrek om gemaklik deur die dorp se stofstrate te stap. Niemand het hulle ooit 'n saamry-geleentheid aangebied nie. 
    Dominee Beukes het een Sondag gesê dat “vroue met slap sedes en hul onskuldige kindertjies” veral welkom is in die huis van die Here omdat Jiesus 'n sagte plekkie vir hulle in Sy hart het. Die gemeente het hul koppe geknik en dit beaam want Jiesus was mos so anders. 
    Onthou die balk,” het dominee Beukes die gemeente toe-oog vermaan, “die balk!” 
    Ester kon nie verstaan hoekom haar ma bloedrooi bloos nie, en gewonder hoekom haar ma die hele kerkdiens nie eenkeer opkyk nie, selfs nie eens om na die preek te luister nie. 
    Toe hulle wegstap van die kerk, kyk Ester vir 'n laaste keer om. Dominee en Mev. Beukes het almal se hande vriendelik buite die kerk geskud. 
    Sy het nie meer sleg gevoel omdat die dominee en sy vrou hulle nooit groet nie; nooit nie, nie eens in die winkel nie. Die gelowige paartjie het eenvoudig gemaak asof hulle nie vir Ester en haar ma sien nie. 
   Slap sedes, besluit sy, lig haar neus, kyk vorentoe, en stap vinniger om haar ma in te haal. 
   Fluit, fluit, die storie is uit. 

© Mûs ||arebē, 2020
***

Hierdie kortverhaal is geskryf deur Mûs ||arebē met alle regte voorbehou. ||arebēsa is 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep wat hom daarop toespits om die ervaringe, geskiedenis, en kultuur van die inheemse Afrikaanssprekende gemeenskap in Namibië te verwoord. Hierdie foto is in Windhoek geneem deur Garwin Beukes (Facebook: Garwin the Camera Guy).

Opmerkings