21-Dae Koronawierus-Grendelstatus: Reëls en Riglyne (Landwyd)

President Hage Geingob het op 24 Maart, 2020, 'n gedeeltelike grendelstatus (Eng. ''partial lockdown'') aangekondig vir Namibië om die plaaslike verspreiding van die koronawierus (kroonwierus) en sy gepaardgaande siekte, COVID-19, in die land te inhibeer, veral in die Khomas en Erongo streke. Die bepalinge van die koronawierus-grendelstatus is nou van krag landwyd, in alle streke, en nie meer net van toepassing op die Khomas en Erongo streke nie. 

Die koronawierus-grendelstatus bepalinge het om middernag, Vrydag, 27 Maart, 2020, slegs in hierdie twee (2) streke, Khomas en Erongo, in werking getree tot middernag, Donderdag, 16 April, 2020. Die regering se amptelike woordvoerder, Mnr. Peya Mushelenga, het Sondag, 29 Maart, 2020, bekend gemaak dat die grendelstatus bepalinge van krag is landwyd. Die bepalinge vereis van hulle dat elke Namibiese burger die reëls daarvan noukeurig moet navolg, en om aanpassings en toegewings daarvoor te maak. 

Hier volg dan 'n vertaling van die regering se amptelike Guidelines & Regulations for 21-Day Lockdown of Khomas and Erongo Regions, including Okahandja and Rehoboth (Government of the Republic of Namibia, 2020):

1. Wanneer tree die koronawierus-grendelstatus in werking? 
   1.1. Die koronawierus-grendelstatus begin amptelik om 23:59, Vrydag, 27 Maart, 2020, tot 23:59, Donderdag, 16 April, 2020, in die Khomas en Erongo streke, insluitende Okahandja en Rehoboth.
   1.2. Die grendelstatus is van krag vir een-en-twintig (21) dae. 

2. Hierdie persone is vrygestel van die koronawierus-grendelstatus bepalinge: 
   2.1. Almal wat werksamig is in openbare en private gesondheidsdienste;
   2.2. Almal wat werksamig is in nooddienste, insluitende paramedisie, brandweerpersone, nood-en kontaksentrum personeel.
   2.3. Almal wat werksamig is in veiligheidsdienste soos die polisie, gevangenisdienste, verkeersbeamptes, weermag en personeel, soldate, immigrasie, doeane en grensbeheer, private veiligheidsdienste, en ander persone noodsaaklik in die stryd teen die koronawierus-pandemie;
   2.4. Almal betrokke by die vervaardiging, verspreiding en verskaffing van goedere en voedsel in die landboubedryf; in die regspraktyk, in finansies en bankwese; krag, waterwese en telekommunikasie; laboratoriumdienste en veeartseny; riool-en vullisverwydering; verskaffers van mediese en higiëniese goedere; skoonmaakdienste; vliegtuig en vliegvrag, en ingenieurswese; parkwagte; welsyndienste; humanitêrehulp werkers en die media (radio, koerante, televisie, Internet) is ook vrygestel van die bepalinge van die koronawierus-grendelstatus. 

3. Wanneer mag ek die huis verlaat? 
   3.1. Inwoners van die ingeperkte streke en dorpe (grendelstatusgebiede), insluitende Okahandja en Rehoboth, mag nie hul huise verlaat ingevolge die koronawierus-grendelstatus bepalinge, behalwe: 
   a) As vrygestelde persone, ingevolge Artikel 2 hierbo;
   b) Om apteke, voedselverskaffers (soos winkels), howe en banke te besoek, en om mediese hulp en dienste te verkry;
   c) Vir oefening, in groepe van nie meer as drie (3) persone nie. 
   3.2. Slegs een (1) persoon op 'n slag, uit een huis, mag 'n winkel te besoek om noodsaaklike goedere en dienste te bekom. Binne-in winkels moet almal streng die voorgeskrewe afstande tussen mekaar behou; dit wil sê, afstande tussen een (1) meter en meer weg van die volgende persoon. 
   3.3. Verlaat jou huis slegs wanneer dit noodsaaklik is; soos byvoorbeeld, om voedsel (kos) te verkry, om mediese dienste te gebruik of soortgelyke noodsaaklike dienste.
   3.4. Beperkinge op passiers: Meer as drie (3) persone mag nie vervoer word in 'n voertuig met vier (4) sitplekke nie. Meer as vier (4) persone mag nie vervoer word in 'n voertuig met sewe (7) sitplekke nie. Busse wat sestien (16) persone kan vervoer, mag net die helfte aantal passiers vervoer. Slegs twee (2) persone word toegelaat op 'n donkiekar en een (1) persoon op 'n motorfiets, fiets en driewiel. 

4. Watter besighede en dienste moet oop wees tydens die 21-dae grendelstatus?
   4.1. Die meeste winkels en besighede sal moet sluit, behalwe besighede wat geklassifiseer is as noodsaaklik;
   4.2. Die polisie, weermag en nooddienste;
   4.3. Gesondheidsdienste soos openbare en private hospitale, klinieke, dokters, apteke en laboratoria;
   4.4. Banke, die regspraktyk, regsadvies en dienste, finansiële dienste en mediese fondse;
   4.5. Groot-en kleinhandel winkels, slegs gedurende gewone werksure;
   4.6. Verkope van alkohol en drank is streng verbode; 
   4.7. Diensstasies moet 24-uur oop wees vir petrol, olie en diesel verkope;
   4.8. Munisipale en openbare busdienste sal opgeskort word behalwe om met die pandemie te help;
   4.9. Nagklubs, kroeë, sjebiens, opelug markte en informele handel moet sluit tydens die 21-dae grendelstatus tydperk;
   4.10. Restaurante, kafees en koffiewinkels mag oop wees, en mag slegs wegneem dienste verskaf;
   4.11. Besighede en organisasies wat noodsaaklik is vir die vervaardiging en vervoer van voedsel, goedere, medisyne, mediese goedere en hul administratiewe ondersteuning; 
   4.12. Banke word aangemoedig om hoofsaaklik te steun op hul elektroniese bankwese. 

5. Wie mag by die huis werk?
   5.1. Die regering moedig aan werkgewers om hul werkers, so vêr dit moontlik is, by die huis te laat werk. 
   5.2. Dit word vereis van werkers, in noodsaaklike bedrywe, besighede, organisasies en diensverskaffers, om voltyds te werk, gewone werksure. 
   5.3. Werkgewers moet streng beheer hou oor die aantal werkers op hul perseel. 
   5.4. Alle werkers moet, te alle tye, hou by die voorgeskrewe higiëniese reëls en by die afstande, soos voorgeskryf deur die Ministerie van Gesondheid en Welsyn, van meer as 1 meter tussen persone. 


***
  
Hierdie vertaling uit die Engels is onderneem deur Anya Links, 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep. Gevalle van koronawierus (kroonwierus) was onlangs aangemeld in Namibië en ons moedig almal aan om asseblief by openbare gesondheidsmaatreëls soos voorgeskryf en bepaal deur die Ministerie van Gesondheid en Welsyn van Namibië te hou om sodoende die vinnige verspreiding van COVID-19 in ons land te verhoed.  



Opmerkings