COVID-19: Wat is die Koronawierus (Kroonwierus)?

   Die wêreldwye uitbreek van die 2019 nuwe koronawierus of kroonwierus  (SARS-CoV-2) en die gepaardgaande verspreiding van die siekte, COVID-19, is vinnig besig om oral te ontwikkel. 

Wat is die Koronawierus of Kroonwierus?


   Korona of kroonwierusse is 'n groot familie van wierusse wat verskeie siektes by mense veroorsaak; van verkoues tot dodelike infeksies soos MERS (Middle-East Respiratory Syndrome) en SARS (Severe Acute Respiratory Syndrome). 


   Die 2019 koronawierus (kroonwierus) is 'n nuwe wierus wat nooit voorheen by mense voorgekom het nie, en word daarom die novel corornavirus in Engels genoem. Die siekte wat deur die koronawierus (kroonwierus of SARS-CoV-2) veroorsaak word, heet COVID-19. 

   Verspreiding

   Die Wêreldgesondheid Organisasie (World Health Organisation) het op die 31ste Desember, 2019, verslae ontvang van onverklaarbare gevalle longonsteking wat veroorsaak word deur 'n onbekende wierus. Die eerste verslae het uit Woehan in Sjiena gekom. 


   Binne 'n spreekwoordelike oogwink, het COVID-19 soos veldbrand versprei na ander dele van Sjiena, na ander lande, totdat gevalle van die siekte, binne die bestek van 'n paar maande, in elke vasteland op aarde aangemeld is, insluitende Afrika. Op die 11de Maart, 2020, het die Wêreldgesondheid Organisasie hierdie vinnige verspreiding van COVID-19, wêreldwyd, 'n pandemie verklaar.  


   Hoe Versprei die Koronawierus of Kroonwierus en Wat is die Simptome?


   Die Wêreldgesondheid Organisasie het kort daarna berigte uitgestuur dat COVID-19 'n R0 (Afri. uitspr.: ''êr nul'') van tussen 1.4 en 2.5 het. Die geskatte R0 van 'n siekte is 'n wiskundige formule wat aandui, min of meer, hoe vinnig en aansteeklik dit is. Net om COVID-19 se R0 in perspektief te plaas, 'n R0 van minder as 1, beteken elke nuwe geval lei tot minder as 1 nuwe, ander geval; 'n R0 wat gelyk is aan 1, beteken elke nuwe geval lei tot 1 nuwe, ander geval, en 'n R0 van meer as 1, soos COVID-19, beteken elke nuwe geval lei tot meer as 1 nuwe, ander gevalle, en is hoogs aansteeklik.


   Na infeksie, vat dit gewoonlik tussen 2 tot 14 dae voordat simptome ervaar word. Hierdie is ook die tydperk waartydens die koronawierus (kroonwierus) vinnig aanwas in die gasheerliggaam (veral die longe) tot by die punt waar dit simptome veroorsaak. Dit is dan tydens daardie 2 tot 14 dae dat mense wat COVID-19 opgedoen het, die wierus verder versprei deur middel van hul sputum ('n mengsel van slym en speeksel wat uit gehoes word) wanneer hulle nies, hoes, praat of uitasem.


   COVID-19 se simptome sluit in koors, hoes, 'n swaarheid op die bors, 'n gesukkel om asem te haal, spierpyn en moegheid (tamheid). Ernstige gevalle ontwikkel longonsteking of sepsis, wat tot septiese skok kan lei. 


   Dit blyk egter dat ernstige gevalle van COVID-19 hoofsaaklik by ouer persone voorkom en mense met onderliggende gesondheidsprobleme en kroniese siektes; mense met HIV, hoë bloeddruk, hartkwale, suikersiekte, lewerkwale en ander longkwale (asma, longkanker, TB, ensv.) is veral vatbaar. 


   Soos vroeër genoem, is dit nog 'n redelike onbekende siekte met 'n hoë R0, maar tot dusver het 80% van die gevalle getoon dat COVID-19 eintlik 'n ligte koors en longinfeksie is, met minimale of geen longonsteking. Die oorgrote meerderheid van mense herstel volkome daarvan (80%); 14% word ernstig siek as gevolg van COVID-19 en onderliggende gesondheidsprobleme, en 6% is intensiewe noodgevalle. 


   Voorsorg en Veiligheidsmaatreëls


   Enigeen kan aangesteek word, niemand is bestand teen COVID-19 nie, die entstof is in die vroeë ontwikkelingsfase en moet nog behoorlik getoets word, wat 'n dringende beroep om die verspreiding van COVID-19 so gou moontlik te vertraag, onderstreep: 


  1. Was gereeld en deeglik hande met seep en water vir ten minste 20 sekondes (palms van die hand, tussen vingers, die duime en bokant van hande);
  2. Moenie aan jou gesig vat nie, veral jou mond, neus en oë;
  3. Hou 'n tiesjoe voor jou mond en neus wanneer jy hoes of nies, of hoes en nies teen jou binne-arm (in die vou van die elmboog);
  4. Vermy skares, byeenkomste, vergaderings, en plekke waar mense in groepe gewoonlik is;
  5. Bly liewer by die huis as jy siek, verkouerig of grieperig voel, veral as jy 'n ligte, droeë hoes het;
  6. Staan of sit tussen 1,5m en 3 meter weg van ander mense, veral kinders en mense wat opsigtelik koorsig is (die neus loop, byvoorbeeld), en wat hoes en nies. 
   Skakel hierdie tolvrye nommer as jy koorsig voel, hoes en sukkel om asem te haal: 0800 100 100. Om die verspreiding van COVID-19 te verhoed, bel jou huisdokter; moenie dokter toe gaan nie. Jy mag dalk COVID-19 onderlede het en kan dit verder versprei na jou huisdokter en ander mense. Die dokter sal jou inlig wat om te doen.

   Lees verder: 


1. COVID-19: Information and Resources, World Health Organisation: https://www.ersnet.org/the-society/news/novel-coronavirus-outbreak--update-and-information-for-healthcare-professionals 


2. Coronavirus, World Health Organisation: https://www.who.int/health-topics/coronavirus#tab=tab_1 


3. What is R0? Gauging Contagious Infections, Healthline: https://www.healthline.com/health/r-nought-reproduction-number



***

Hierdie artikel was saamgestel en vertaal uit die Engels deur Anya Links, 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep. Gevalle van koronawierus (kroonwierus) was onlangs aangemeld 
in Namibië en ons moedig almal aan om asseblief by openbare gesondheidsmaatreëls soos voorgeskryf en bepaal deur die Ministerie van Gesondheid en Welsyn van Namibië te hou om sodoende die vinnige verspreiding van COVID-19 in ons land te verhoed. 




     

Opmerkings