Daaglikse Woord: Lanie / Lannie (oorsprong: Suid-Afrika)

   Ons het dit al so baie kere gehoor, en oral ook: 

   ''Hoe gaan dit, my lanie (of lannie)?'' of, ''Hoe sê die lanie?'' 

   Die woord, ''lanie (of lannie)'', word soms deur kreoolse mans gebruik om te verwys na blanke of wit mans, selfs in gesprekke met laasgenoemde; trouens, ek het dit nog nie gehoor gebruik word deur kreoolse vroue nie. Vir enigiemand wat dit al gehoor het, is dit ook duidelik dat die kreoolse persoon wat die woord gebruik die ander persoon hoër ag.  

   Dit laat 'n mens wonder, wat beteken die woord en waar kom dit vandaan? 

   Volgens die aanlyn-weergawe van die Collins English Dictionary, is die woord oorspronklik van Suid-Afrika, en word dit gebruik in flaaitaal, of slang (Eng.), informele woorde en uitdrukkings wat algemeen gebruik word, hoofsaaklik in maniere van praat meer as wat dit in skryftaal gebruik word. 


   Die aanlyn-weergawe van die DSAE (Dictionary of South African English) dui die spelling van die woord aan as ''larney'' en verduidelik dit het twee gebruike in Suid-Afrikaanse flaaitaal: 

   1) as 'n selfstandige naamwoord wat neerhalend verwys na 'n wit / blanke persoon, of 'n wit / blanke persoon wat 'n pos van gesag (soos 'n ''baas'') beklee; 
   2) as 'n byvoeglike naamwoord wat iemand of iets beskryf, min of meer 'n sinoniem vir gesofistikeerd, elegant, welgesteld of hooggeplaas.        

   Nog 'n bietjie rondkrap het my gelei na 'n artikel geskryf deur L. A. Barnes, met die titel, South African Indian English (UNISA Press Journals). In hierdie artikel het Barnes geskryf dat sekere woorde deur die Indiese gemeenskap in Suid-Afrika gebruik word om verskillende sosiale klasse (verskillende range, vlakke van inkomste en leefwyses) aan te dui, en een van hulle is lahnee (die ander is mota). Barnes het verduidelik dat die woord na hooggeplaastes in die Indiese gemeenskap verwys, mense met aansien, maar ook soms aangewend word om te verwys na wit mense of blankes. 


   In 1980 het Ronnie Govender, 'n Suid-Afrikaanse dramaturg met Hiendoe / Tamil herkoms, ook 'n satiriese drama geskryf genaamd The Lahnee's Pleasure, wat afspeel in 'n kroeg in Durban, om die hervestiging van Indiërs in Suid-Afrika te herdenk. 

   My gevolgtrekkinge is die volgende: die kreoolse gemeenskap skryf die woord neer as ''lanie'' of ''lannie'', en spreek dit uit met 'n lang of 'n kort eerste klinker (''a''). Die betekenis van die woord in ons gemeenskap, soos dit tans aangewend word, is ''hooggeplaaste'', ''baas'' of ''wit'' (dus nie vêr weg van die oorspronklike Indiese betekenis nie). Byvoorbeeld, ek het al gehoor 'n manspersoon sê aan iemand: 

   ''Jy gedra jou soos 'n lanie''. Met ander woorde, die ander persoon dink hy / sy is ''beter'' as die spreker. 

   Alhoewel die woord nou deel is van die Suid-Afrikaanse Engelse leksikon (veral flaaitaal), en word dit oral ook verskillend gespel, bly sy betekenis basies dieselfde. Ek kan nie met sekerheid sê of ''larney'' oorgewaai het van Engeland in 1820, of ''lahnee'' van 'n skip uit Indië in 1860 afgeklim het nie, maar as ek my vermoede mag hê, sou ek my geld op Indië plaas, om rede daar in Maleisië en Indonesië glo 'n woord is wat ''ryk'' of ''welgesteld'' beteken en dit word as volg geskryf: rani


 ***
  
Onse Daaglikse Woord was nagevors en verskaf deur Anya Links, 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep (2018). Sou u daarin belangstel om die geskiedenis, herkoms en gebruik van woorde met ander Afrikaanssprekendes, lesers en intekenaars te deel, word u hiermee hartelik uitgenooi om 'n epos te stuur aan nossobgroep@gmail.com.  

Opmerkings