Jou Immuunstelsel en COVID-19: Oefen en Eet Liewer Gesond

   Ons sien hulle meer gereeld: advertensies op Facebook en Twitter wat belowe dat hierdie, daardie en diesmeer jou immuunstelsel sal ''verbeter'' om sodoende die nuwe koronawierussiekte, COVID-19, te kan weerstaan. Of verslaan. 

   'n Mens moet tog wonder: is dit die waarheid? Is dit moontlik dat voedselsoorte, vitamiene-aanvullings, tuisgemaakte (homeopatiese) medisyne, volksrate, kruie en inheemse medisyne iets so ingewikkeld en gesofistikeerd soos die mens se immuunstelsel ''beter'' kan laat werk? 

   Om antwoorde op my vrae te kry het dae se rondkrap en lees gekos omdat die Internet oorvloei van soortgelyke advertensies vir omtrent alle soorte vrugte, groente, diëte en ''eetplanne'' onder die son, en derduisende artikels in elke taal op aarde wat ''gevallestudies'' en ''getuienis'' voorlê, met korrelrige beeldmateriaal daarby, as bewyse dat hulle s'n die waarheid is. Opskrifte soos ''Gee jou Immuunstelsel 'n Hupstoot!'' en ''Jy benodig hierdie Vitamiene om Siekte te Bestry'' is nou so alledaags soos maskers. 

   Baie van hulle is slim geskryf en saamgestel want hulle maak nie melding van spesifieke siektes nie, wat teenstrydig is met Westerse mediese praktyke, en as hulle dit doen, word sulke advertensies gewoonlik nie deur dokters of apteke geplaas nie. Die foto's is van amateur-gehalte en stel ten toon twee of drie eksemplare wat klaarblyklik op kombuistafels of spieëlkaste iewers staan, met 'n plaaslike selnommer vir bestellings. 

   In my soeke na inligting, het ek gelees van vitamiene-aanvullings, kruie, mengsels, olies, poeiers en kosse wat glo enigiets, van oorpyn en longontsteking tot aambeie en voetswamme, en 'n hele reeks ernstige, kroniese kwale ook, kan ''genees''. Gesondheid is 'n winsgewende, mededingende bedryf en elke kwaksalwer ry sy of haar perdjie holrug op sosiale media. 

   Is dit dan nie oneties nie, het ek gewonder, om iemand, byvoorbeeld, wat oorerflike suikersiekte het, te belowe dat aartappels, of tablette en poeiers uit fabrieke in Sjiena, hul toestand sal ''behandel'', as dit ongeneesbaar is? En, is dit nie ook oneties om kankerlyers te belowe dat olies en kruie hulle daarvan sal ''genees'' nie?  

   Met kwellende vrae rondom die etiek van inheemse en tuisgemaakte ''medisyne'', het ek einde ten laaste terug gestrompel na my ou staatmakers vir betroubare inligting: universiteite, veral universiteite wat doktorale grade aanbied omdat hulle ook geld spandeer op navorsing en ontwikkeling. Hierdie instellings verbreed nie net ons gemeenskaplike kennis nie, hulle maak ook waardevolle inligting beskikbaar en toeganklik vir die publiek.

   Hier moet ek dan Kevin R. Smith* se artikel insleep waarin hy die redes uiteensit dat die bemarking van tuisgemaakte medisyne en kombuisrate oneties is, omdat toetse en proewe herhaaldelik bewys het hulle is nutteloos vir die doeltreffende behandeling van siektes. Hy noem, heel eerste, dat mense se gesondheid, en selfs lewens, in gevaar gestel word deur mense wat nie opgelei is om siektes te diagnoseer of behandel nie. Tweedens, en belangrikste, verswyg hulle dit om aan siek mense te noem dat Westerse medisyne en behandeling ook beskikbaar is, wat daarop wys dat hulle nie die pasiënt se belange op die hart dra nie, maar optree in eie belang, wat hoogs oneties is. Derdens, is hulle nie gretig om siek mense te verwys vir behandeling na Westerse dokters nie, wat ook daarop dui dat dit vir hulle gaan oor eie gewin, en nie die gesondheid van andere nie. Pasop.  

   Die woord ''siekte'' is deesdae 'n kragtige woord wat roekeloos rond gesmyt word op sosiale media, om die bloeddruk op te stoot sodat beurse moet oopmaak en kaarte moet uitkom. Veral nou. Met COVID-19. 

   Dis onmoontlik om op Facebook of Twitter ''gediagnoseer'' te word, om jouself te diagnoseer is nog gevaarliker, en om ''medisyne'' op 'n sosiale media-blad te koop, van onopgeleide en ongekwalifiseerde mense, is hoogs onverantwoordelik. Die goue reël vir enige diagnose, medisyne en behandeling bly nog steeds 'n dokter se voorskrif of 'n apteker se woord.     

   Travis Thomas van die Universiteit van Kentucky* het weer in April vanjaar geskryf dat daar nie ''oefeninge, kossoorte en aanvullings'' bestaan wat ons immuunstelsels kan ''verbeter'' nie, en het bygevoeg dat 'n ooraktiewe immuunstelsel ongesond is want dit veroorsaak ontsteking (inflammasie) en outo-immuunsiektes. 

   Hy het ook genoem dat dit net sin maak, onder omstandighede, om gesond te eet en gesonde gewoontes te hê om sodoende ons immuunstelsels beter te kan ondersteun in hul rolle. Daar is voedingstowwe wat ons gereeld moet inneem omdat hulle dieselfde ondersteuning bied vir ons algehele liggaamlike gesondheid. 

   Ons immuunstelsels werk nie selfstandig nie; die hele organisme se gesondheid moet bevorder word. 

   Ek het ook gelees van bespiegelinge aangaande die oorerflikheid van immuniteit. Normale vrae en mymeringe soos, as jou biologiese pa so sterk en gesond was soos 'n os, is jy, outomaties, ook 'n os? En, as jy na jou moeder trek, beteken dit dat jy haar niertjies ook geërf het? 

   Hierdie bespiegelinge was egter ter syde gestel deur navorsing in 2015.

   Esther Landhuis het in Scientific American* geskryf oor 'n tweelingstudie wat bewys het dat omgewingsfaktore, soos eetgewoontes, leefwyse en vorige siektes, groter rolle speel in ons immuunstelsels, as genetika. Ons lewensgewoontes en ervaringe dra meer by tot ons liggame se vermoëns om hulself teen siektes te verdedig en te beskerm, as die DNS wat ons ouers aan ons oordra.

   Travis Thomas het benadruk dat ''geen voedselsoort, aanvulling of natuurlike gesondheidsproduk'' enigiemand kan beskerm teen COVID-19 nie, en dat dit kommerwekkend is dat sulke koronawierus-verneukspulle tans onbeheersd wêreldwyd versprei en onkundige mense van derduisende beroof. Die Administrasie vir Voedsel-en Medisyne (Food and Drug Administration) in Amerika het reeds waarskuwingsbriewe uitgestuur aan talle maatskappye in verband met hul dienste, produkte of goedere wat onwaarhede in verband met COVID-19 versprei. Thomas waarsku teen enige produk wat voorhou dat dit immuunstelsels kan ''verbeter'' of selfs 'n ''hupstoot'' gee. 

   Hier volg 'n paar goeie wenke om so gesond as moontlik te bly in hierdie moeilike, onvoorspelbare tye. 

   Vergeet van Strawwe Oefening en Diëte tydens die Pandemie

Strawwe oefening wat gepaard gaan met 'n dieët kan tot 'n onderdrukte immuunstelsel en verwante gesondheidsprobleme lei. Hou liewer by die voorgeskrewe afstande tussen mense, dra altyd 'n masker en was gereeld hande, om veilig te bly en COVID-19 te vermy. Bly ook aktief, beweeg rond, doen huistake, ligte oefeninge, stap 'n entjie, en fokus op aktiwiteite wat ontspanning en gesondheid bevorder soos om langer te slaap en te rus. 

   Kos is nie Medisyne nie, maar Eet liewer Gesond

   Sommige voedselsoorte is meer waardevol vir die menslike liggaam as ander. Hul samestelling, vitamiene en mineraal-inhoud hou dus meer voordele in vir ons algehele gesondheid, insluitend ons immuunstelsels. 

   Kosbare proteine en sink is verkrygbaar deur vis, maer beesvleis, hoender, kalkoen, suiwelprodukte, eiers en peulgewasse (soos ertjies en lensies) te eet. 

   Omega-3 vetsure is verkrygbaar deur salm, perdmakriel (Eng. ''horse mackerel''), toena, vlasaad en okkerneute te eet. 

   Vitamiene D is verkrygbaar van sonlig, en ook perdmakriel, salm, lemoensap, sampioene en eierwitte. 

   Sitrusvrugte soos lemoene, naartjies en suurlemoene is ryk aan vitamiene C en antioksidante, so ook druiwe, appels, donker sjokolade, soetpatats, spinasie, wortels, soetrissies (groen, rooi en geel), uie en rooibeet. 

   Natuurlike probiotika sluit in jogurt, volgraan brood en suurmelk om die maag, dun en dik derms gesond te hou.

   Bly Gesond in Afsondering

   In geval jy COVID-19 opdoen en in afsondering moet bly, drink gereeld water, in plaas van sappe, koffie, tee en alkohol. 

***

  Hierdie artikel was saamgestel en geskryf deur Anya Links. Die foto was verskaf deur MIMS Malaysia. 

   Lees hier verder: 

  1. Why Homeopathy is Unethical: https://onlinelibrary.wiley.com/doi/pdf/10.1111/j.2042-7166.2011.01109.x
  2. Can You ''Boost'' Your Immune System against COVID-19?: https://medicalxpress.com/news/2020-04-boost-immune-covid-.html  
  3. Your Immune System is Made, Not Bornhttps://www.scientificamerican.com/article/your-immune-system-is-made-not-born/
As jy vermoed jy het COVID-19, skakel asseblief 0800 100 100 vir verdere inligting, moenie dokter toe gaan nie, en besoek die naaste toetssentrum. 


 


 

Opmerkings