'n Haan sit eendag hoog in 'n boom.
Onder staan 'n honger jakkals wat hom wil vang en opeet.
“Haan, kom af, ek het goeie nuus vir jou!” sê die jakkals.
“Watse nuus?” vra die haan.
“Etse, het jy nie gehoor nie? Alle voëls en diere het vrede gemaak. Van nou af is ons almal vriende en gaan ons saam leef soos broers. Kom af sodat ek jou kan gelukwens,” sê die jakkals.
Die haan sê niks. Hy rek net sy nek soos hy na iets in die verte kyk.
“Wat sien jy?” vra die jakkals.
“Ek dink dis die plaasboer se honde.”
Toe is die jakkals skielik haastig om weg te kom.
“Nee, wag!” sê die haan. “Hoekom is jy dan nou haastig? Ons is mos nou almal vriende.”
“Nee, nee, miskien het die plaasboer se honde nog nie die nuus gehoor nie!” sê die jakkals en is blitsvinnig daar weg.
“O, so! Nou verstaan ek!” skree die haan agter hom aan, maar die jakkals is lankal weg.
Fluit-fluit, die storie is uit.
***
Die Kleuterstorieboek is oorspronklik in 1966 saamgestel deur Elizabeth van der Merwe en Anna du Raan. Hierdie verhaal is op die oorspronklike weergawe gebaseer. Die foto is geneem deur Philip Pikart vir birdlife.org.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking