Kortverhaal: 'n Tydskrif vir Tante Christina deur Andre Izaaks

   Lees nou laas week dat die druk en verspreiding van 'n aantal bekende Suid- Afrikaanse tydskrifte binnekort gestaak sal word. Dit sluit huishoudelike name soos Sarie, Rooi Rose, Vrouekeur, Garden & Home, Bona en People in. Dié publikasies behoort aan die Associated Media Publishing.

   Die aanbreek van die digitale era het reeds 'n erge negatiewe uitwerking op die gedrukte publikasies gehad, met Kouwid-19 wat die finale nekslag kom toedien het.

   Dit alles maak my nou dink aan 'n storie wat my ontslape tante, Christina, aan my vertel het.

   'n Raakvatter was sy in die gemeenskap. 'n Voorvatter ook.

   Dié twee interessante eienskappe in die werksaamhede van komitees, taakspanne en organisasies die wêreld oor word saamgevat in een onbetwisde feit; nie alle raakvatters is voorvatters nie, en ongelukkig is nie alle voorvatters raakvatters nie.

   Dit is weerspieël in die doen en late van die plaasskool gemeenskap waarin sy haar bevind het.

   Ewenwel, tante Christina het daagliks haar kwota goed aan haar medemens bewys deur haar self bereidwillig vir menige edele saak te verklaar en haar gewig in te gooi, elke pond daarvan suiwer goud werd.

   'n Ywerige leser was sy wel. Wanneer die kans hom voorgedoen het het sy tydskrifte en romans – of dikboeke, soos dit in die volksmond bekend gestaan het – na behae verslind. Dié was hoofsaaklik in Afrikaans; leesgoed was skaars en die lekkerkry kon nie deur 'n gesukkel met Ingels beduiwel word nie.

   Nou is dit mos 'n algemene ding onder ons Kreoolse klomp dat 'n vlytige vrou gewoonlik 'n luidrugtige man trou. Skalks is daar 'n goeie skeut sielkunde hier betrokke: Daar word gesê 'n man vat 'n vrou en hoop sy verander nie; en die vrou vat 'n man en hoop hy verander. Die uiteindelike ontnugtering kan jy boeke skryf oor.

   So het 'n jeugdige tante Christina haar oor oom Klaas ontferm; in so 'n mate dat sy hom as man geneem het.

   Hy was egter 'n wyndrinker van die eerste water, en het male sonder tal eers laat in die aand, of dan, vroeg in die oggend beskonke by die huis aangekom. Die volgende dag moes hy natuurlik 'n skrobbering van die tante verduur, wat op sy beurt tot selfondersoek en boetedoening gelei het. Oom Klaas was ten tyde van die gebeure werksaam in Windhoek, en het besluit om, as soenoffer, 'n tydskrif vir sy Christina op die plaas te koop.

   Laat op 'n Vrydagnamiddag bevind hy hom in een van die Portugese winkels, die koevert met sy fortnight-verdienste knus in sy hempsak. Die verskeidenheid leesstof laat egter sy gedagtes in 'n warboel; die potpourri van voorblaaie heeltemal te veel vir 'n eenvoudige man soos Klaas.

   Met groot vertoon het hy die tydskrif aan haar oorhandig. Tante het met blink oë die leesding geneem, daarna gekyk, en die oom terstond 'n klapsoen gegee. Duidelik in haar noppies. Selfvoldaan het oom Klaas hom op sy stoel in die woonkamer tuisgemaak, op sy beurt hoog in sy skik met die nuut hervestigde status as hoof van die huis.

   Tante Christina het agterna die storie met 'n lag en 'n traan vertel. Enersyds oor sy briljante idee om vir haar 'n tydskrif te koop. En andersyds, omdat dit 'n Ingelse een was.

   Maar, het sy met 'n jammerlike tongklap benadruk, dit was omdat die oom mos nie skool gehad het nie, en nooit in sy lewe leer lees het nie.

   Gedagtig aan die “Die Ossewa” het tante Christina “stom tot die stond van haar sterwe” die feit dat hy 'n Ingelse tydskrif gekoop het aan haar man verswyg.

   Hom nooit daarmee “gesê” nie.

   Want, soos 'n ander volksgesegde lui: Dis die gedagte wat tel.

   Hulle het jare later na Rehoboth verhuis, en rus vandag langs mekaar in die begraafplaas daar.

   Die herinneringe aan hulle het langsaam vergeeld.

   Nes die blaaie van 'n voosgeleesde tydskrif uit vervloë dae.

***

    Hierdie kortverhaal was geskryf deur Andre Izaaks (andreizaaks@gmail.com), met alle regte voorbehou. Izaaks is 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep wat hom daarop toespits om die ervaringe, geskiedenis en kultuur van die Afrikaanssprekende kreoolse gemeenskap in Namibie te verwoord. Die foto is geneem deur Aldo Murillo. 

Opmerkings

Plaas 'n opmerking