Aardse Kennis: Die Langste Riviere in Namibië

   Riviere word beskryf as weë waardeur varswater vloei van 'n hoogte na 'n laagte. Die meeste riviere ontstaan op hoë hellings vanwaar water afwaarts vloei na laaglande, of tot by die see. Alhoewel riviere as belangrike eienskappe en indrukwekkende kenmerke beskou word van enige omgewing, beslaan hierdie varswaterweë (of, riviere) minder as 1% van die wêreld se oppervlak. Hulle is redelik skaars. 

   Lang, deurgaans vloeiende riviere, ongeag hul breedte, ondersteun 'n wye verskeidenheid ekologiese stelsels wat afhanklik is van varswater, en hoe langer die riviere, hoe groter is hul impak op die onmiddellike omgewing.  

   Ten spyte daarvan dat deurgaans vloeiende riviere oor die algemeen skaars is, word die grootste stede en nedersettings vandag aangetref langs of digby riviere, wat tot die gevolgtrekking lei dat riviere 'n sentrale rol speel in die menslike samelewing, en uiters belangrik is vir ontwikkeling.      

   Die landskap van Namibië, die droogste land in suidelike Afrika, word gekenmerk deur kortstondige binnelandse riviere, ook droë riviere, wat soms net vir 'n paar dae elke jaar vloei na goeie reëns, en groot, deurgaans vloeiende riviere op die noordelike en suidelike grense. Dit is verstommend dat sommige binnelandse riviere ook ondergronds vloei. 

   Omdat riviere sulke belangrike bronne van varswater is vir plante, wild, mense, voëls en insekte, het ek 'n lys saamgestel van die langste riviere wat in hierdie droë land van ons aangetref word: 

   1. Die Sambesi Rivier - 2,574 km: Die Sambesi is die vierde langste rivier in Afrika, die grootste rivier wat in die Indiese Oseaan uitmond en ook die langste rivier wat ooswaarts deur Afrika vloei. Die rivier ontstaan in Sambië (daarvandaan die naam ''Zambezi'' of ''Zambeze''), loop deur oos-Angola, langs die noord-oostelike grens van Namibië en noordelike Botswana, dit vorm die grens tussen Sambië en Simbabwe, en vloei deur Mosambiek tot by die Indiese Oseaan. Die rivier vloei redelik stadig oor die algemeen tot by Shungu Namutitima (Eng. ''Victoria Falls''), een van die wêreld se grootste watervalle, van waar dit vinniger verder vloei. Die Sambesirivier-delta is onskatbaar belangrik vir die voortbestaan en oorlewing van duisende spesies plante, wild, insekte, voëls en ekologiese stelsels, en word dus beskerm deur die Wêreld Natuur Fonds (Eng. ''World Wildlife Fund'').

Shungu Namutitima (Engels: ''Victoria Falls'') waarna die Sambesi versnel (CBL-ACP)

     
   2. Die Groot Gharieb / Kai !garib (Oranjerivier) - 2,200 km: Die Groot Gharieb (of Kai !garib in Khoekhoegowab) vorm die suidelike grens tussen Namibië en Suid-Afrika. Die rivier ontstaan hoog in die Drakensberge van Lesoetoe, byna 3,000 meter bo seevlak, en vloei dan weswaarts na die Atlantiese Oseaan. Die druiwe-landerye op Aussenkehr word besproei met water uit die Groot Gharieb. Die Namaquab barb (Pseudobarbus hospes) en die Gharieb moddervis (Labeo capensis) is twee unieke vissoorte wat slegs in die varswaters van die Groot Gharieb aanteel en leef.       

   3. Die Koebangho Rivier - 1,700 km: Hierdie deurgaans vloeiende rivier op Namibië se noordelike grens was voorheen bekend as die Okavango Rivier, maar omdat dit ontstaan op die hooglande van Angola staan dit derhalwe bekend as die Koebangho, of die ''Rio Cubango'', in Engels en Portugees. ''Rio'' beteken rivier in Spaans.

Die Koebanghorivier, of die Okavangorivier (UNESCO World Heritage Centre)
  
   4. Die Koenêne Rivier - 1,050 km: Die groot Koenêne is 'n deurgaans vloeiende rivier wat dien as die noord-westelike grens tussen Namibië en Angola. Die rivier ontstaan in die hooglande van Angola, vloei suidwaarts deur daardie land, en draai dan skerp links om na die Atlantiese Oseaan te vloei. Die bekende Swartberg Waterval, ook bekend as die Epupa Falls, lok gereeld toeriste na die lowergroen oewers van hierdie rivier. Epupa beteken ''wit skuim'' in Hiembaka, of Siemba, die taal wat mense van die Hiemba kultuur in Namibië praat.

   5. Die Tjobe Rivier - 731 km: Hierdie interessante deurgaans vloeiende rivier het drie (3) name; in Angola staan dit bekend as die Kwando (of ''Cuando'' in Portugees), in noordelike Botswana is dit bekend as die Linjanti, en verder oos is dit die Tjobe. Die rivier is alombekend as die Kwando omdat dit ook in die hooglande van Angola ontstaan en suid-ooswaarts daarvan wegvloei. Die Kwando ekologiese sisteem word deur wetgewing beskerm in ses (6) nasionale parke en deur vier (4) lande: in Namibië (Bwabwata, Mamili en Moedoemoe), in Angola (Coutada Publica do Luiana), in Sambië (Sioma Ngwezi) en in Botswana (Tjobe Nasionale Park).   

   6. Die Visrivier - 650 km: Die Visrivier ontstaan in die Noukloof Berge (''Naukluft Mountains''), die oudste gebergte in Namibië en suider Afrika. Op die oomblik vloei die Vis net tot in Hardap Dam, naby Mariental. Hardap is 'n opgaardam en nadat dit voltooi was, het die rivier nooit gevloei nie behalwe wanneer die dam se sluise oopgemaak word. In die verlede, voor Hardap Dam, het die Visrivier gevloei en by die Groot Garieb (of Oranjerivier) op die grens met Suid-Afrika aangesluit. Die Visrivier Kuil (Eng. ''canyon'') is die wêreld se tweede grootste, en die grootste kuil in Afrika. Dit is vandag 'n beskermde gebied waarvoor besoekers permitte moet hê.

Die sluise van Hardap Dam was oopgemaak in 2017 om die Neckartal Dam te voed (The Namibian)

  
   7. !kuiseb Rivier - 480 km: Die Kuiseb is sekerlik Namibië se bekendste binnelandse rivier en lok skare toeriste elke jaar na die land. ''Kuiseb'' het byna dieselfde betekenis soos utuseb / oetoeseb wat die vorm beskryf van 'n voorwerp wat net half rond is, soos 'n koepel, wat dan ook 'n vanpaste beskrywing is vir die Kuiseb wat 'n half-ronde, groen kuil (of ''canyon'') het. Die rivier ontstaan in die Khomas hoogland en loop deur die Namibwoestyn tot sy mond by Walvisbaai. Ongelukkig haal die Kuiseb amper nooit die Atlantiese Oseaan nie om twee (2) goeie redes: die duine blokkeer sy vloei en daarom loop dit dood in die woestyn, en die groot hoeveelheid woestynsand absorbeer vinnig die Kuiseb se afloop. Die laaste keer dat die Kuiseb dit tot by die see gemaak het was in 2021, en toe slegs omdat die rivier in volle vloed was. 

Die Kuiseb Kuil (TrekEarth)
      
   8. Tsoaxaub Rivier / Tswagaub (Swakoprivier) - 460 km: Hierdie rivier ontstaan in die Khomas hoogland en vloei wyd weswaarts verby Okahandja en Gross Barmen, deur die Namibwoestyn, tot by die Atlantiese Oseaan. Die woord ''swakop'' is 'n verknoeing van tsoaxaub / tswagaub waar tsoa / tswa anus beteken, xaub / gaub beteken ontlasting in Khoekhoegowab, en is 'n koddige, skerpsinnige beskrywing van die rivier se voorkoms. Tsoaxaub / tswagaub se letterlike vertaling in Afrikaans is ''kakgat''.
Die Tsoaxaub / Tswagaub riviermond uit die lug gesien en afgeneem (Alchetron)

   
   9. Uxab / Oegab Rivier - 450 km: Hierdie kortstondige rivier loop deur die noord-westelike gebiede van Namibië en vorm die amptelike grens tussen die Koenêne en die Erongo streke. Die rivier vloei slegs vir 'n paar dae elke jaar maar danksy 'n groot hoeveelheid ondergrondse water wat poele op die oppervlak vorm, dien dit as 'n belangrike waterbron vir die inheemse plante, bome, swart renosters, woestyn olifante en leeus, kameelperde en berg sebra wat in die omgewing rondom die rivier woon.
'n Leeu in die Ugab Rivier (Desert Lion Conservation)

 
   10. Huab / Hoeab Rivier - 300 km: Die Hoeab is ook 'n kortstondige rivier in die Koenêne streek van Namibië. Sy oorsprong is suid van Kamanjab vanwaar dit deur die Skedelkus tot in die Atlantiese Oseaan loop. Bekende dorpe soos Khorixas en !Ui-!Ais wat beteken ''water wat spring'' (ook bekend as Twyfelfontein, in Afrikaans) is naby of langs die Hoeab rivier geleë. 

   Namibië het natuurlik 'n hele klomp riviere wat nie hierbo genoem is of die lys gehaal het nie. Die hoofrede daarvoor was reeds in die tweede paragraaf genoem: lang riviere ondersteun 'n magdom spesies en ekologiese stelsels, of hulle deurgaans vloei of nie, soos die Uxab rivier in Koenêne, en verdien bewaring en beskerming. 

   Riviere is noodsaaklik vir die oorlewing van ons eie en ander aardse spesies.  

   Hierdie artikel was geskryf en hierdie lys saamgestel deur Anya Namaqua Links, stigterslid van die Nossob Groep. Sou u daarin belangstel om 'n bydrae te maak tot hierdie blad, in die vorm van gedigte, resepte, kortverhale, of nuusbrokkies, selfs raaisels, word u genooi om 'n epos te stuur na nossobgroep@gmail.com 

Opmerkings