!aidas Sit Haar Voet Neer deur Sylvia Kootjie, Isabella Guriras, Sonia Nangolo, Magdalena Masinako, Alwina Kooper, en Mubasen Eibes

   Ou Nanab het op 'n dag, uit die bloute, by sy skoonma se huis opgedaag. Sy was die moeder van sy oorlede vrou.

'n Dama-vrou naby die Brandberg, in die Erongostreek (foto: Xenia Ivanoff-Erb)

   Ou Nanab: Middag, Moeder, hoe gaan dit met u?

   Ditoahes: Dit gaan goed met my, seun. Ons gaan aan. Hoe gaan dit met jou en hoe gaan dit met my kleinkinders?

   Ou Nanab: Dit gaan goed met my, dankie. Dit gaan goed met ons almal... Ek het 'n paar goed saam gebring. Vat vir u, Moeder. 

   Ditoahes: Dankie, dankie, seun. Ek kan nie onthou wanneer laas ek koffie of tee gedrink het nie. 

   Ou Nanab: Ek het iets op die hart wat ek met u wil bespreek, Moeder. Nadat u dogter gesterf het, het ek alle verpligtinge teenoor haar, en julle, nagekom. Ek het selfs 'n grafsteen vir haar opgerig. Ek loop al jare alleen en wil graag weer deel word van die gemeenskap, en tussen ander mense verkeer. Ek het hierheen gekom sodat ons koppe bymekaar kan sit want u sou nie daarvan hou as ek iewers anders gegaan het nie. Ek het kom vra of daar 'n moontlikheid is dat ek met die jongste dogter kan trou omdat ek nie met iemand buite hierdie familie wil trou nie. Op hierdie manier bly alles dan ook in die familie. Ek is ook nie gretig dat 'n vreemde vrou my seuns moet grootmaak nie...

   Ditoahes: Ja, my seun. Ek het gewag dat jy moet kom. Ek het al gewonder of jy nie dalk verhoudings vermy nie omdat jou hart nog seer is. Hierdie is ook jou huis. Wat jy daar sê is die waarheid. Ek verstaan. Ek is 'n grootmens. 

   Ou Nanab: Ek wil graag met !aidas trou, Moeder. Sy is net die regte mens om te sorg vir haar suster se kinders. Haar bene is jonk en sterk, en sy sal my ook versorg wanneer ek oud is. 

   Ditoahes: Dis so, dis so. As die ouer vrou sterf moet die jonger suster met die wewenaar trou. Sy moet haar suster se plek inneem. Dis so. Die jonger suster is die diensmaagd. Jy is die enigste een wat vir my gereeld kos bring en iets om te drink. Ek het geen rede om jou versoek te weier. 

   Ou Nanab: Amase, amase. Totsiens, Moeder, ek gaan nou huis toe. Ek sal Saterdag terugkom. 

***

   !aidas sit langs haar ma onder die boom. 

   Ditoahes: !aidas, ek moet iets belangrik met jou bespreek. Jy moet mooi luister. Jy weet dit miskien nog nie maar dis gebruiklik onder ons mense dat die jonger suster die ouer suster se huis en gesin erf, wanneer die ouer suster sterf. Die jonger suster moet die vuur in haar suster se herd aan die gang hou. Jy het mos gesien Nanab was nou die dag hier. Dis net Nanab wat ons help; hy sit kos op ons tafel. Hy het nooit jou suster sleg behandel nie. Luister nou, mooi. Jy is nou 'n groot meisie. Ons kan nie meer saambly onder een dak nie. Jy moet Nanab se huis toe gaan om jou suster se kinders te versorg. Jy moet Nanab se wasgoed was en sy vuur maak. 

   !aidas: Is daar iets fout met Ou Nanab? Is hy siek? 

   Ditoahes: Nee, daar is niks fout nie. Hy is ook nie siek nie. Jy kan nie ons ou gebruike teenstaan nie. Om die grootmense se versoeke te minag, sal net ongeluk oor jou pad bring. Doen wat jy verplig is om te doen.

   !aidas: Mamma...

   Ditoahes: Bly stil en moenie my onderbreek nie terwyl ek praat. Gaan kyk agter Nanab se vee en maak sy seuns groot. Wanneer Nanab sterf, erf jy alles. Luister vir my. 

   !aidas: Ek kan nie by Ou Nanab en sy seuns gaan bly nie. Ek is in Graad 12. Ons skryf eindeksamen oor twee weke. Hy kan mos die kinders hiernatoe bring. 

   Ditoahes: Verstaan jy nie wat ek vir jou probeer sê nie, !aidas? Ons lewens word nie bepaal deur dit wat jy in boeke leer nie. 'n Vrou moet by die huis bly. Sy moet trou en kinders kry. 

   !aidas: Mamma, sê u vir my dat ek met Ou Nanab moet trou? Hy is dan 'n ou man! 'n Oupa van vyf-en-vyftig. Is dit wat u bedoel...! Hoe kan u so iets sê? (sy gil woedend en histeries) Ek sal nie...ek sal nie! 

***

   !aidas se pa kom buitentoe om uit te vind wat aangaan. 

   Ditoahes: Ou Jan, praat met jou dogter. Hierdie besigheid loop nou skeef...

   Ou Jan: My kind, hierdie is nie 'n nuwe ding nie. Jou eie ma moes dieselfde doen. Sy was eers met my oom getroud maar na sy sterfte het ek haar ge-erf, want dit gaan oor die welsyn van die kinders, die grond en die vee. Goedere soos bees moet in die familie bly. Jou ma het na die grootmense geluister en vandag is jy Khoes ('n mens). Doen, asseblief, jou plig want ek gaan nie weer hieroor praat nie. Jy kan ons nie skaam maak nie. 

   Ditoahes: Moenie na jou vriende luister nie, !aidas. Vandag se jong manne het siektes. Trou met 'n ouer man sodat jy 'n goeie lewe mag hê

   !aidas: Maar, Ousie was dan ook siek...

   Ditoahes: Ons het TB in die familie. Jou suster was siek van kindsbeen af. Sy is oorlede aan TB. Nanab het nie TB nie, ook nie sy kinders nie. Hulle was almal by die kliniek. Hy het sy kaart... Ek het al baie dae op hierdie aarde gesien. Ons mense doen dinge so - dis ons gebruike...

***

   !aidas het haar ma en pa onder die boom gelos en na haar vriendin se huis gehardloop. 

   !aidas: (huil) Hoe kan hulle so iets aan my doen? Ek sal nie, ek sal nie. Mi!oas sal weet wat om te doen. 

   Mi!oas: Hallo, tjomma, hoe gaan dit? Hoekom huil jy?

   !aidas: Ai, Mi!oas! Ek het 'n groot probleem en weet nie waar om te begin nie! (sy begin huil weer)

   Mi!oas: !aidas, moenie huil nie. Wat is fout? Watse probleem kry dan die slimste meisie in ons skool onder? 

   !aidas: Jy ken mos daai ou man wat met my suster getroud was? Hulle het twee seuns. Daai outab (oupa) wil met my trou. My ma en pa sê dis glo hoe onse mense dit doen. Hulle dwing my nou om met hom te trou. 

   Mi!oas: (lag) Moenie so sê nie! Rêrig? Daai outab nogal... Ja, dis groot moeilikheid.

   !aidas: Dis nie 'n grap nie! Ek weier om met hom te trou. Ek sterf liewer. Ek maak my eerder dood. Wat word van my drome om 'n wetenskaplike te word? My suster het dalk VIGS gehad. Hulle het gesê sy's dood aan TB. (huil weer)

   Mi!oas: !aidas, moenie huil nie. Kom, laat ons liewer dink aan iets om te doen. Ek het mos 'n kort kursus by die Women's Leadership Centre in Windhoek bygewoon. Hulle het ons geleer dat vroue regte het. Jy kan onmoontlik nie met daai ou man trou nie, al is dit die gebruik. Woon jou antie, die onderwyseres, nog in Windhoek?

   !aidas: Ja, maar wat help dit my? Ai, wat gaan ek doen?

***

   Die volgende oggend daag Ditoahes en Ou Jan op by Mi!oas se huis.

   Ditoahes: Mi!oas, het jy vir !aidas gesien? Sy het nie vanoggend my tee gebring nie en ons kan haar nêrens kry nie. 

   Mi!oas: Nee, jammer, Ousie Ditoahes. Ek het haar nog nie vandag gesien nie. 

   Ditoahes: Wat gaan ons doen? Ek vermoed sy het weggehardloop. Enigiets kan met haar gebeur!

   Ou Jan: Dis alles jou skuld, vroumens! (hy slaan vir Ditoahes)

***

   Ses maande later, is hulle by Ou Nanab se begrafnis. 

   Ditoahes: Ek kan nou nog nie glo dat Nanab die Groot Siek gehad het nie. Dit wys jou net... Hierdie wêreld is nie dieselfde een waarin ons groot geword het nie. 

   Ou Jan: Besef jy dat ons oudste dogter miskien ook die Groot Siek gehad het?

   Ditoahes: Ja... Ai, Ou Jan... Ek dank die Here dat !aidas so hardkoppig is en ons nie gehoorsaam was nie! Sy sou ook in 'n graf gewees het. Ek is so trots op haar dat sy haar eindeksamen geskryf en geslaag het. Sy wil mos 'n wetenskaplike word. 

   Ou Jan: Jy kan dit weer sê. Ons moet heroorweeg hoe ons dinge doen, veral ons gewoontes en gebruike. Ons kan nie ons kinders dwing om die voetspore van die verlede te volg nie. Hierdie is ander tye. Ons kinders moet hul stemme dik maak ten einde hulself te beskerm. 

***

    Hierdie verhaal het aanvanklik in die samestelling, We Must Choose Life: Writings by Namibian Women on Culture, Violence, HIV and AIDS (2008) verskyn, saamgestel en geredigeer deur Elizabeth !Khaxas. Die vertaling daarvan is behartig deur Anya Namaqua Links. Die Engelse kortverhaalbundel is te koop by die Women's Leadership Centre, vir N$ 200, per epos: wlc@mweb.com.naSou u daarin belangstel om 'n bydrae te maak tot hierdie blad, in die vorm van gedigte, resepte, kortverhale, of nuusbrokkies, selfs raaisels, word u genooi om 'n epos te stuur na nossobgroep@gmail.com  

Opmerkings

  1. Dankie vir die vertaling en plasing, Anya.
    Ja, ons word soms deur gebeure genoop om verouderde sienings en gebruike in oënskou te neem.

    AntwoordVee uit

Plaas 'n opmerking