Aarduur 2021: Saterdag, 27 Maart (20:30 - 21:30)

   Komende Saterdag, die 27ste Maart, 2021, is die 14de Aarduur-herdenking en soos gewoonlik, sal miljoene mense wêreldwyd hul krag afskakel vir 'n uur, van 20:30 tot 21:30, om teen klimaatverandering en besoedeling te protesteer.   

   Agtergrond

   In 2004 het die Wêreld Natuur Fonds, in Australië, 'n bemarkingsagentskap genader vir idees en voorstelle hoe om die breë gemeenskap bewus te maak en te betrek by aardverwarming en klimaatverandering. In 2006, het die Wêreld Natuur Fonds hul idee bespreek met die burgemeester van Sydney en die volgende jaar, in 2007, het die eerste Aarduur plaasgevind. Sedertdien het dit elke daaropvolgende jaar uitgebrei en ook versprei na ander dele van die wêreld.

   In 2020 het miljoene mense in 190 lande deelgeneem aan Aarduur om te wys dat hulle bewus is van, en ook bekommerd is oor, die klimaatskrisis en die impak op ons natuurlike omgewing. 

   Op hul webwerf, www.earthhour.org, verskyn die volgende verklaring: 

   Aarduur word onderneem om mense, besighede en regerings, regoor die wêreld, aan te spoor om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul impak op ekologiese stelsels en om deur middel van dialoog, die uitruiling van idees en hulpbronne daadwerklike oplossings te bied vir probleme rakende die omgewing. Deelname aan Aarduur simboliseer 'n toegewydenheid aan die idee dat toekomstige verandering moontlik is, en nie net vir 'n uur nie.

   Die Aarduur-beweging word gereeld gekritiseer omdat dit hoofsaaklik fokus op mensegedrag, of individue, en klein huishoudings, en sodoende regerings, energieverskaffers en fossielbrandstofmaatskappye vryskeld van hul optrede en verpligtinge teenoor die natuurlike omgewing. Sommige ekonome is van mening dat krag noodsaaklik is vir menslike ontwikkeling en dus om die krag af te skakel ons terugvat na die ''donker eeue''. Andere het weer voorgestel dat om werklik 'n verskil te sien in die verbruikingsvlakke van krag wat deur middel van fossielbrandstowwe opgewek word, moet die hele wêreld vir 'n maand, ten minste, sonder elektrisiteit klaarkom.     

   Ten spyte hiervan, is Aarduur 'n simboliese gebaar en 'n gewilde radikale protesaksie teen die dominante fossielbrandstofbedryf. 

   Ter ondersteuning van die natuurlike omgewing, ons enigste tuiste, die aarde, en in protes teen die skade wat ons leefwyse dit berokken, word u hiermee genooi om die krag af te skakel vir 'n uur, gedurende spitstyd, van 20:30 to 21:30, Saterdagaand, by die huis te bly en nie eens petrol te gebruik nie. Danksy navorsing en ontwikkeling, is daar nou ''groener'' en skoner alternatiewe kragbronne beskikbaar wat baie meer demokraties en regverdig is teenoor kleiner, inheemse gemeenskappe, en gesonder vir die natuur.

***    

   Hierdie artikel was saamgestel en geskryf deur vryskut skrywer en navorser, Anya Namaqua Links, 'n stigterslid van die Nossob Groep. 

   Sou u daarin belangstel om 'n bydrae te maak tot hierdie blad, in die vorm van artikels, gedigte, resepte, kortverhale, of nuusbrokkies, selfs raaisels, word u hiermee uitgenooi om 'n epos te stuur na nossobgroep@gmail.com     

               

Opmerkings