Mynbou, boorwerk, en die verbranding en verbruik van fossielbrandstowwe is nadelig vir die natuurlike omgewing, ons gesondheid, en toekoms op aarde. Hier is alles wat u moet weet van fossielbrandstowwe, en hoekom ons dringend moet oorskakel na ''groenkrag''.
Vir meer as 'n eeu al verskaf fossielbrandstowwe die energie wat ons motors aandryf, ons huise en geboue belig, en apparate laat werk, hou dit ons besighede oop en organisasies aan die gang. Olie, steenkool, en metaangas (natuurlike gas) verskaf om en by 80% van die wêreld se kragbehoeftes.
Maar, die prys wat ons almal daarvoor betaal is heeltemal te hoog.
Ons toenemende, lang-termyn afhanklikheid van fossielbrandstowwe het negatiewe gevolge vir die menslike spesie, ander spesiesoorte, ons natuurlike omgewing, soos lug en waterbesoedeling byvoorbeeld, wat op hul beurt lei na aardverwarming en klimaatverandering. Dit sluit nie in die negatiewe gevolge van petroleum neweprodukte nie, soos plastiek en chemikalië, wat reeds erge besoedeling en omgewingskade veroorsaak.
Hier volg 'n lys van fossielbrandstowwe, wat hulle ons kos in terme van lewensgehalte en omgewingskade, en waarom ons so vinnig as moontlik na ''groenkrag'' moet oorskakel.
Wat is Fossielbrandstowwe?
Steenkool, ru-olie en metaangas, of natuurlike gas, word fossielbrandstowwe genoem omdat hulle die gefossiliseerde oorskot is van plante en diere wat miljoene jare gelede geleef het. As gevolg van hul oorsprong en samestelling het fossielbrandstowwe 'n baie hoë koolstofinhoud.
Olie
Ru-olie, of petroleum, is 'n vloeibare fossielbrandstof wat hoofsaaklik bestaan uit koolwaterstof (waterstof en koolstof). Dit word gewoonlik ondergronds gevind, in die krake, skeure en porieë van sedimentêre rotse, of in bitumineuse sand, net onder die aarde se oppervlak. Ru-olie word deur middel van boorwerk ontgin, op die seebodem, of in olie-komme op die vasteland, of deur middel van strookmynbou, veral wanneer die olie naby die oppervlak lê. Sodra die ru-olie onttrek is, word dit na raffinaderye vervoer met olieskepe, treine, trokke, of pyplyne, waar dit omskep word in bruikbare brandstowwe soos petrol, diesel, parafien, propaangas, keroseen, en vliegtuigbrandstof, asook plastiek (of polimere) en verf.
Die vervoerbedryf gebruik die meeste petroleum produkte; vanaf petrol, diesel, vliegtuigbrandstof, enjinolie na ghries. Ongelukkig neem die verbruik van hierdie produkte elke jaar toe omdat die oliebedryf en oliemaatskappye daarvoor sorg dat die groothandelprys van ru-olie relatief laag bly sodat voertuie en masjiene wat brandstof gebruik, soos sedanmotors, spogmotors, bakkies, ligte en swaar vragmotors, treine, vliegtuie, in boerdery en nywerhede, terselfdertyd ook aantreklik en bekostigbaar bly vir die verbruikers van hul produkte.
Steenkool
Steenkool is 'n harde, vaste, koolstof-dig gesteente waarvan vier (4) soorte bestaan: bruinkool (ligniet), bitumineuse steenkool, antrasiet en suiwer steenkool. Alhoewel steenkool 'n goeie verskaffer van hitte en krag is wanneer dit verbrand word, is dit ook die mees koolstofintensiewe fossielbrandstof op aarde.
Steenkool word deur middel van oopgroefmynbou, strookmynbou of met boorwerk ontgin, en die wêreld se grootste steenkool reserwes word in Amerika, Rusland, Europa en Sjiena aangetref. Strookmynbou is veral nadelig omdat dit eko-stelsels (ekologiese stelsels) vernietig en besoedel.
Steenkool kragstasies word regoor die wêreld gevind. In Suid-Afrika, wat ook ryk steenkool reserwes het, word 230,000 Gigawatt-ure se krag elke jaar met steenkool vervaardig. Die land se amptelike verskaffer, Eskom, besit vyftien (15) steenkool kragstasies dwarsoor die land. Suid-Afrika verkoop sy oortollige krag aan Swaziland, Botswana, Mosambiek, Lesoetoe, Namibië, Sambië, Simbabwe, en ander Afrikalande.
Metaangas (Natuurlike Gas)
Metaangas (of moerasgas) is konvensioneel of onkonvensioneel afhangend van waar dit ondergronds gevind word. Konvensionele metaangas word gewoonlik in die porieë van deurdringbare rotse gevind en word ontgin met konvensionele boorwerk. Onkonvensionele metaangas kan nie bereik of ontgin word deur konvensionele boorwerk nie en word daarom uitgedwing met behulp van hidro-breking (hidroliese breking). Noord-Amerika veral bevorder die ontwikkeling en toepassing van hidro-breking om onkonvensionele metaangas op hierdie manier te ontgin. Hidro-breking word versigtig in ander dele van die wêreld toegepas omdat dit tot erge besoedeling van die omgewing en ondergrondse waterbronne kan lei.
Fossielbrandstowwe en die Omgewing
Grondagteruitgang
Om steenkool, ru-olie en metaangas te ontgin, het ten gevolge dat eko-stelsels versteur, en in baie gevalle, vernietig word. Die fossielbrandstofbedryf huur groot stukke grond om olieputte, pyplyne, paaie en boustrukture op te rig, en om afvalprodukte te stoor (soms op die oppervlak en soms ondergronds). Strookmynbou verg dat hele stukke veld, bos en bome gestroop word, en veroorsaak dat die grond in so 'n mate versteur word dat dieselfde gewasse en plante nooit weer daar groei nie, al maak die myn toe.
Waterbesoedeling
Die ontginning van steenkool, ru-olie en metaangas beskadig dikwels ondergrondse water-reserwes, watertafels, en veral deesdae, oseaniese eko-stelsels. Olieskepe het gereeld ongelukke langs kuslyne met die gevolg dat ru-olie in die see stort en onherroepelike skade oor etlike kilometers aanrig. Dit word as 'n ramp beskou. Voëls, seediere, plante en die omgewing word sodanig beskadig, en die gemors kos derduisende om skoon te maak. Hidro-breking maak gebruik van chemikalië om metaangas uit ondergrondse rotse te dwing en beskadig kosbare water-reserwes en vergiftig watertafels. Soms word giftige gasse ook vrygestel wat lugbesoedeling en gesondheidsprobleme veroorsaak. Die ergste is seker dat die mynbedryf baie water gebruik, maar dat die water daarna nutteloos en onbruikbaar is as gevolg van bykomende chemikalië, swaar ertse, radioaktiewe stowwe, en soortgelyke besoedeling.
Uitlaatgasse
Ons word daagliks blootgestel aan honderde soorte giftige uitlaatgasse soos koolstofmonoksied, 'n kleurlose, smaaklose gas wat deur motors met petrol en dieselenjins uitgelaat word. Koolstofmonoksied is verskriklik giftig veral wanneer 'n groot hoeveelheid daarvan, soos byvoorbeeld deur 'n motor se uitlaatpyp, in 'n klein spasie saamtrek, kan mense sterf.
Steenkool-aangedrewe kragstasies, soos die Van Eck-kragstasie in Windhoek, het hoë skoorstene wat giftige gasse soos koolstofdioksied en swaweldioksied, hoog in die lug vrystel.
Hierdie gasse, soos koolstofmonoksied uit motors en masjiene, en koolstofdioksied uit steenkool kragstasies, ''verdwyn'' ongelukkig nie in die atmosfeer nie, of breek nie wonderbaarlik op nie, maar verbind met ander chemiese elemente en keer terug aarde toe in die reën veral en word dan deur plante en in die grond geabsorbeer, en vergiftig sodoende die omgewing en ondergrondse watertafels. Dit is 'n bose siklus maar een wat ons kan breek deur die regte besluite te maak.
'n Beter Toekoms met Groenkrag
Dit is tyd dat ons ernstig dink aan hernubare krag, soos sonkrag en windkrag, waterkrag, en branderkrag (van die see). Dit is moontlik vir ons om die helfte van die krag wat ons benodig van hernubarebronne te kry en sodoende ons afhanklikheid en verbruiking van fossielbrandstowwe met die helfte te besny. Dit sal kos dat ons druk sal moet uitoefen op plaaslike owerhede, die regering sal moet vra vir beleidsverandering ten opsigte van energieverskaffing en verbruik, dat ons ekonomie en nywerhede sal verander, en dat ons ons houding teenoor die omgewing sal moet hersien.
As gevolg van die monopolisering van die energiebedryf, met ander woorde, lande, maatskappye en verskaffers wat fossielbrandstofreserwes besit bepaal die prys en tempo van ontwikkeling in lande wat nie soortgelyke reserwes het nie, is daar tans 'n gejaag om nuwe fossielbrandstofvelde te ontdek en ontgin. Op eie bodem, is verskeie oorsese maatskappye reeds besig om vir olie te boor in ekologiese sensitiewe gebiede soos Kavango-Wes, en langs die Namibiese kuslyn.
Ons kan nie, en moet ook nie, toelaat dat ons toekoms, ons gesondheid en ons natuurlike omgewing gevange gehou word deur die fossielbrandstofbedryf nie. Ons moet, en kan, ''groenkrag'' 'n kans gee vir 'n beter toekoms vir almal.
***
Hierdie artikel was saamgestel en geskryf deur Anya Namaqua Links, 'n stigterslid van die Nossob Groep. Die foto van 'n petrol of dieseltrok by 'n verskaffer se brandstoftenk in Walvisbaai was verskaf deur Exstream Energy Solutions Ltd.
Sou u daarin belangstel om 'n bydrae te maak tot hierdie blad, in die vorm van artikels, gedigte, resepte, kortverhale, of nuusbrokkies, selfs raaisels, word u hiermee uitgenooi om 'n epos te stuur na nossobgroep@gmail.com.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking