Klassieke Khoekhoense Verhale: Haitsî'haibeb Skei die Waters

    Haitsî'haibeb (Kabeb of Haiseb) is 'n belangrike mitologiese held in die Khoekhoense (uitspr. kô-ê-kô-ên) gemeenskap in suider Afrika, veral in die noord-weste en suide van Namibië
    Alle avonture en gebeure wat aan hom toegeskryf word beskryf die doen-dinge van 'n man met bonatuurlike kragte en magte. Só het hy telkemale gesterf en uit die dood weer opgestaan, ook was hy 'n skatryk opperhoof, 'n siener, 'n toordokter, 'n magtige towenaar, 'n gedugte jagter, en 'n vreeslose vegter. 

   Haitsî'haibeb is blykbaar onnutsig en hou daarvan om poetse op onskuldige mense te bak wat aandui dat sy mitologiese persoonlikheid 'n sin vir humor het, en nie heeltemal onberuspelik en onskuldig in sy gemoed is nie. 

   Sy kenmerkende grafte, daar was baie as gevolg van sy vele sterftes en heropstandinge, soos vroeër genoem, is opvallende kliphope wat hoog gestapel op die landskap gestaan het. Hulle was regdeur suider Afrika te vinde. Dit was die gewoonte van Khoekhoena wat daar verby gegaan het om 'n klip, 'n tak, water, heuning, of iets soortgelyk, by hierdie kliphope te voeg, en vir Haitsî'haibeb te vra om beskerming en voorspoedige jagtogte. Dit was ook 'n algemene reël onder die Khoekhoen om nooit terug om te kyk na Haitsî'haibeb se graf nie wanneer hulle 'n gebied verlaat het. 

   Hy het nie dieselfde verering en aanbidding ontvang soos Tsûǁgoab (||gûb / |nanub) nie, die oppergod en hemelse voorvader van alle Khoe-stamme. Tsûǁgoab, die Stoeier of Vegter, is die gedugte vyand van ǁgaunab, die Dood, of Bose Gees. 

   Haitsî'haibeb se voorkoms het ook gereeld verander; hy is, byvoorbeeld, baie aantreklik in sommige verhale, of sy hare is baie lank uitgegroei (leeukop), en in ander avonture is sy hare weer baie kort. 

   Eendag het Haitsî'haibeb en 'n groep Khoena (Afr. ''mense'') deur die land gereis toe 'n verbitterde vyand hulle agternasit en jaag. 

    Haitsî'haibeb en die Khoena het te voet gevlug en uiteindelik Groot, Wye Waters bereik. 

   By die Groot, Wye Waters het Haitsî'haibeb gesê:

    ''My Pa se Pa se Pa, skei die Waters sodat ek mag deurgaan, en maak weer agter my toe.'' 

    Die waters het wonderbaarlik geskei, en die Khoena het veilig tesame met Haitsî'haibeb, wat heel laaste deur geloop het, die ander kant bereik. 

    Hul vyande het hulle deur die skei-water probeer volg maar toe hulle in die middel van die deurgang is het die Groot, Wye Waters weer saam gevloei. 

    Almal het gesterf.

*** 

    Hierdie foto van Haitsî'haibeb se kliphoop is verskaf deur Tracking Haiseb in West Namibia geskryf deur Chris Low: https://www.futurepasts.net/post/2017/02/05/tracking-haiseb-in-west-namibia 
 
    Die vertaling is behartig deur Anya Namaqua Links, 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep. Sou u daarin belangstel om 'n bydrae te maak tot hierdie blad, in die vorm van gedigte, resepte, kortverhale, of nuusbrokkies, selfs raaisels, word u hiermee uitgenooi om 'n epos te stuur na nossobgroep@gmail.com

Opmerkings