Klassieke Khoekhoense Verhale: Die Maan se Boodskap

    Kai ǁkhâb (Heilige Maan) het vir Haas na die Khoekhoena (Afr. kô-ê-kô-ên-a) gestuur om 'n belangrike boodskap van Hom aan hulle oor te dra: 

   ''Net soos Ek doodgaan, en terwyl Ek dood is word Ek weer daarna gebore, so ook sal julle sterwe en weer daarna lewe.'' 

    Toe Haas die boodskap hoor, het hy heeltemal deurmekaar geword en hy verdraai toe die boodskap in hierdie vreeslike verwarring. 

    Haas dra toe die volgende boodskap aan die Khoekhoena oor: 

    ''Kai ǁkhâb het vir my gesê om vir julle te sê: Net soos Ek doodgaan, en terwyl Ek dood is word Ek weer gebore, so ook sal julle sterwe en nie weer lewe nie.'' 

    Toe Haas aan Heilige Maan die boodskap herhaal wat hy aan die Khoekhoena oorgedra het, is Heilige Maan woedend vir die onnosele haas. Heilige Maan het 'n stok opgegryp, vir Haas op sy neus daarmee geslaan, en Haas se bolip middeldeur geskeur. 

   En, verewig daarna, tot nou toe, het Haas 'n gesplete bolip omdat hy die verkeerde boodskap aan die Khoekhoena oorgedra het, en 'n vloek, in plaas van 'n seëning, oor hulle uitgespreek het. 

    Dit is dan hoe die Dood die wêreld ingekom het. 

***

    Hierdie foto is van 'n tipiese skrophaas / grashaas (Lepus saxatilis) wat slegs in Mosambiek, Suid-Afrika, Swasiland, Lesoto, en die suide van Namibië aangetref word. Dit is uniek aan suider Afrika en word nêrens anders op aarde gevind nie. 

    Die skrophaas het baie lang ore en 'n kort stert en hul liggaamsgrootte wissel tussen gebiede. Dit is 'n nagdier wat van grasgebiede hou. Alhoewel die skrophaas nie 'n bedreigde spesie beskou word nie, het hul getalle afgeneem in daardie lande waar hulle 'n tuiste het as gevolg van boerdery en vergifting.

    Die Maan se Boodskap is 'n antieke Khoekhoense verhaal met dier motiewe. Beide die Maan en die Haas, soos hierbo genoem, is verskynsels van die nag en sommige plaaslike verhale voer tot vandag toe aan dat hase bonatuurlike boodskappers is. Dit is van die oudste, oorblywende verhale van Khoekhoense mitologie wat filosofies en godsdienstig van aard is, en is inderdaad iets besonders. 

    Die vertaling van hierdie verhaal was behartig deur vryskut skrywer, Anya Namaqua Links, 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep. Sou u daarin belangstel om 'n bydrae te maak tot hierdie blad, in die vorm van gedigte, resepte, kortverhale, of nuusbrokkies, selfs raaisels, word u uitgenooi om 'n epos te stuur na nossobgroep@gmail.com

Opmerkings