Wanneer Kinders Hul Ouers Vermoor: Romeo Schiefer

Vrydagaand, 18 Januarie, 2008, sit Jo-Ann Dixon* in die sitkamer van 'n buitekamer op die hoek van Kanna en Gladiola strate te Khomasdal. Die buitekamer is agter die groot huis op Frans en Francina Schiefer se erf, langs die wasgoedlyn, en bietjie meer as 'n meter weg van die groot huis. Oorkant die Schiefers se huis is 'n kroeg met net 'n paar motors voor dit geparkeer want die aand is nog jonk. 

    Ongeveer tienuur daardie aand hoor Jo-Ann harde stemme klink op uit die Schiefers se kombuis en herken onmiddellik vir Francina (50) en Romeo (18), die Schiefers se jongste seun. 

    Jo-Ann woon al vir ses maande in die buitekamer en ken die inwoners van die groot huis goed. Dit is duidelik vir haar dat Francina en Romeo vir die soveelste keer weer stry. 

    Omtrent kwart-voor-elf ruk Jo-Ann soos sy skrik toe sy skote hoor. Na die eerste skoot hoor sy Francina skree ''Romeo!'' Daarna hoor Jo-Ann 'n deur slaan hard toe in die Schiefers se huis, gevolg deur nóg skote. Sy hoor Romeo skree: “Wat is dit!”

    Jo-Ann skakel Francina se selnommer angstig om uit te vind wat fout is. Iemand druk die luiende telefoon dood. Sy bel vir Frans Schiefer; die nommer lui net. Sy bel die Schiefers se landlyn; dit lui ook net.

    Hermanus Louw, 'n polisie reservis, ontvang net voor elfuur daardie aand 'n oproep van Jo-Ann Dixon. Sy vertel sy het skote in die Schiefers se huis gehoor, deure is toegeslaan, mense het geskree. 

    Louw jaag onmiddellik na die Schiefers se huis waar hy vir Jo-Ann en haar kêrel op die sypaadjie voor die Schiefers se huis kry. Sy herhaal wat sy oor die telefoon gesê het. Louw bel vir inspekteur Ismael Basson, 'n senior polisiebeampte, en inspekteur Basson daag half-twaalf op. 

    Reservis Louw en inspekteur Basson benader die Schiefers se huis saam om voorlopig ondersoek in te stel. Nóg polisiebeamptes daag mettertyd op en hulle loop aanvanklik om die huis en kyk deur die vensters. Tussen twee motors op die erf sien Louw twee (2) messe op die grond; een se lem is gebuig en die ander het net 'n hef. 

    Deur 'n venster sien hulle bloed op die kombuis se vloer. Hulle stap verder om die huis en sien deur 'n ander venster 'n man lê bewegingloos op 'n bed en 'n vrou lê bewegingloos op die vloer, tussen die bed en 'n ingeboude hangkas. Hulle sien bloed op die vrou se bene. Vóór die hoek van die huis lê leë koeëldoppies op die grond. 

    Louw maak die kombuisdeur versigtig oop en merk op dat die buitekant van die deur beskadig is asof dit met 'n mes bygedam is. In die kombuis sien hy 'n stel brille, twee (2) koeëlgate in die kombuiskas, twee (2) koeëlgate in die kombuis muur. Op die vloer, langs die kombuiskas, is 'n swart sak, 'n vuurwapen, en twee (2) selfone. 

    'n Bloederige skoenspoor lei hulle na 'n slaapkamer. Daar is iets in die vrou op die vloer se keel en 'n koeëlgat in haar bobeen. Dit lyk asof sy dood is. Die man op die bed se kop is vol bloed. Dit lyk ook asof hy dood is. Louw sien 'n leë koeëldoppie lê langs die man op die bed, en twee (2) leë koeëldoppies lê op die vloer. 

    In die en suite badkamer, langs die slaapkamer, is 'n bloederige skoenspoor en 'n koeëlgat in die badkamer se deur. Nóg 'n koeëlgat is in die plafon van die slaapkamer en in die hangkas, langs die vrou op die vloer, staan 'n elektroniese kluis oop met 'n kamera en horlosie binne-in. 

    Romeo Schiefer is uit saam met vriende toe sy broer hom bel en in kennis stel daar is “probleme by die huis.” Hy moet dadelik huis toe.

    Na aanleiding van Jo-Ann se inligting is Romeo Schiefer na die naaste polisiestasie geneem om 'n verklaring af te lê. Hy is ook deur die polisie ondersoek en die bankkaart van een van sy ouers en 'n dokument met die PIN-nommer is in sy besit gevind. Romeo sukkel om aan die polisie te verduidelik hoekom hy een van sy ouers se bankkaart en PIN-nommer op hom het. 

    Hy is daarna deur die polisie ondervra en erken hy het sy ouers vermoor. Hy sal later hierdie bekentenis ontken. Sy bekentenis is egter toegelaat in die hooggeregshof en vertel, in sy eie woorde, die skokkende gebeure van daardie aand: 

    In 2006 het ek my Graad 10 eksamen gedruip en in 2007 het ek herhaal deur NamCol. Ek het nie die laaste opdragte vir vier vakke ingehandig nie. My ma was baie kwaad vir my en het gesê ek mors haar geld. Ek het saam met my broer NamCol toe gegaan. Hulle het gesê die uitslae sou Maandag, die 21ste, vrygestel word. My ma was baie kwaad. Sy het my gevloek en rondgeruk. Vrydag, die 18de, het ek my ma in die kombuis gehelp en later saam met my pa TV gekyk. Omtrent nege-uur is ek winkel toe. Die winkel is langsaan die kroeg oorkant. Ek het 'n los sigaret gekoop en terug huis toe gegaan. Toe ek by die huis kom, was my vriend, Lee-Roy, daar. Ons het in sy kar gesit en bespreek wat ons vir die aand wil doen en waarheen ons wil gaan. Ek het vir Lee-Roy gevra om my later te kom oplaai want ek wou my intussen regkry. Ek het die sigaret buite die huis gerook, en toe die huis binne gegaan en my ma vir geld gevra. My ma het gesê ek moet Tango krediet vir haar gaan koop. Sy het my weer gevloek en daarvan beskuldig dat ek nie wil leer nie, dat ek net haar geld mors deur rond te loop en niks te doen. Dit het my woedend gemaak. Ek het die laai met die messe oopgemaak en een uitgehaal. Ek het my ma met die mes gesteek. Ek weet nie waar ek haar gesteek het nie. Ek het toe na die slaapkamer gegaan waar my pa gelê en slaap het. Ek het die kamer se deur agter my toegemaak en my pa se pistool uit die kluis in hangkas gehaal. Ek het begin huil en 'n traandruppel het op hom geval. Hy het wakker geword en my kant toe omgedraai. Ek het 'n kussing voor die pistool se loop gehou en hom geskiet. Terug in die kombuis het ek my ma weer teëgekom. Ek het uit die kombuis na buite geloop maar toe maak my ma die kombuis se deur agter my toe. Ek het drie of vier skote in die deur geskiet, dit oopgedwing, en weer die huis binne gegaan. My ma was in die slaapkamer en die slaapkamer se deur was gesluit. Ek het die deur oopgeskop en binne gegaan. Ek het een skoot in die lug geskiet en toe bestorm my ma my. Ek het haar verskeie kere geskiet. Ek het toe uit die slaapkamer geloop. Lee-Roy het opgedaag. Ek het vir hom gevra om vir my ma Tango krediet by die winkel oorkant te koop. Terwyl hy by die winkel was, het ek skoon jeans, tekkies en 'n T-hemp aangetrek. My broek was vol bloed. Toe Lee-Roy die krediet bring het ek gemaak asof ek dit vir my ma gaan gee. Terwyl ek in die huis was het ek my ma weer met 'n mes gesteek maar ek kan nie onthou waar ek haar gesteek het nie. Ek het die pistool op die kombuistafel gelos. Ek het die mes tussen die karre gesmyt en die motorhuisdeure toegemaak. Ek en Lee-Roy het toe gery. Hy het my gevra wat fout is maar ek het niks gesê nie. Ons het in Vaalhoek gaan uithang. Ek dink daar is iets fout met my al vandat ek klein is. Ek was al baie kere by 'n sielkundige.  

    Die nadoodse ondersoek en verslag, uitgevoer en saamgestel deur staatspatoloog, oorlede Dr. Elizabeth Shangula (1953 - 2008), dui aan dat sy drie (3) koeëls en die lem van 'n mes uit Francina Schiefer se liggaam verwyder het. Francina het beserings op haar kop, in haar nek, bors, bene en maag opgedoen. Frans Schiefer is dood as gevolg van 'n enkele koeëlwond.

    Deel van die belangrikste bewysstukke voor die hof was 'n pistool, reeksnommer D 65476, agt (8) gevuurde koeëls, vyftien (15) leë koeëldoppies, 'n klein wit kussing, 'n klein oranje kussingsloop, 'n mes met 'n gebuigde lem, die lem van 'n mes, 'n Bank Windhoek VISA bankkaart, en 'n dokument vir die PIN-nommer.

    Op die 25ste September, 2013, vind regter Naomi Shivute vir Romeo Manelitto Schiefer, verteenwoordig deur advokaat Winnie Christians, skuldig op twee (2) klagte van moord en een van roof. Vir die dubbele moord en roof van sy ouers, lê sy vir Schiefer 48-jaar se tronkstraf op. In 2017, na hy teen sy vonnis geapelleer het, is sy vonnis na 42-jaar verminder. Schiefer het in 2019 weer teen sy vonnis geappelleer. 

    Verskeie mense het voor die hof getuig dat Romeo Schiefer 'n ''verstoute kind'' is wat gehuil het wanneer sy ouers hom berispe. Ten spyte daarvan het hy, volgens een getuie, tog 'n goeie verhouding met sy ouers gehad. Een klein detail weerspreek egter hierdie getuie: terwyl sy broers toegelaat is om hul pa se vuurwapen te leer gebruik het sy ouers geweier dat Romeo leer om 'n vuurwapen te gebruik omdat hy, volgens hulle, nog te jonk was. 

    Dit is 'n misdaad wat mense, regoor Namibië, met afgryse vervul het. Maar, moet ons vra, wat dra moontlik by tot die algehele verbrokkeling van die verhouding tussen ouers en hul kinders tot so 'n mate, en in soortgelyke gevalle? 

    Volgens navorsers op hierdie gebied, soos Dr. Sarah G. West, en Dr. Mendel Fescher, is ouermoord (Eng. ''parricide''), redelik skaars. Wanneer dit wel plaasvind het hul navorsing gevind dat 86% van ouermoordenaars manlik is en dat hulle ongewone verhoudinge met hul ouers het. Die oorgrote meerderheid ouermoordenaars is enkellopend en het ten tyde van die moorde saam met hul ouers gewoon.  

    In verhoudinge en gevalle waar seuns hul vaders vermoor het, was die ouer wreed, afbrekend, dominerend, afknouend óf aggressief teenoor die kind. Die kind het derhalwe die ouer as 'n bedreiging vir sy eie lewe beskou. Onder hierdie omstandighede wou die kind sy aggressiewe ouer heeltemal uit sy lewe verwyder om sodoende vry van hom te kan wees. 

    In verhoudinge en gevalle waar seuns hul moeders vermoor het, is bevind dat die ouer dominerend en veeleisend was, en het hulle onredelike beheer oor die kind uitgeoefen wat tot wrokke teen die moeder gelei het. Seuns in hierdie verhoudinge het hulself as as magteloos, klein, afhanklik en swak beskou. Moeders word om skynbare onbenullighede vermoor maar die geweld wat daarmee gepaardgaan is oordadig.

    So byvoorbeeld het Romeo Schiefer sy moeder, Francina, met 'n mes in die keel gesteek en herhaaldelik geskiet. In teënstelling het hy sy vader, Frans, een skoot toegedien en dit toe met 'n kussing voor die loop van die pistool. Te oordeel aan haar noodlottige beserings was dit duidelik dat Schiefer se moeder, Francina, die teiken van sy geweld was.

    Paul Mones, 'n prokureur in Los Angeles wat meer as 200 ouermoordsake behartig het, voer aan dat die afgryslikheid van sulke moorde gewoonlik in die kleiner besonderhede te bespeur is. 

    Romeo Schiefer het sy moeder met 'n mes gesteek terwyl hy voorgegee het hy gee haar die Tango krediet waarvoor sy gevra het. Die bankkaart en PIN-nommer wat die polisie in sy besit gevind het, behoort aan F. J. Schiefer: Francina Jacoba Schiefer.

    Sigmund Freud het destyds 'n teorie voorgehou dat die Oedipus en Elektra-komplekse, volgens hom, verhoudinge tussen kinders en hul ouers bemoeilik. Hedendaagse sielkundige en forensiese navorsers is egter van mening dat die prentjie baie meer ingewikkeld is, en Romeo Schiefer se geval is 'n goeie voorbeeld daarvan.     

***

*Nie haar regte naam nie.   

 Die foto is verskaf deur The Namibian koerant en is tydens Romeo Schiefer se verhoor in 2013 geneem. Sou u daarin belangstel om 'n bydrae te maak tot hierdie blad, in die vorm van gedigte, resepte, kortverhale, of nuusbrokkies, selfs raaisels, word u genooi om 'n epos te stuur na nossobgroep@gmail.com 

Opmerkings

  1. dis vreeslik as n ouer skel en aangaan dis omdat hule om gee vir hulle kinders om so dood te gaan vreeslik en n groot sonde... wat het hy nou daar uit gekry om sy ouers dood te maak niks... EFÉSIËRS 6:1-4 KINDERS, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder — dit is die eerste gebod met 'n belofte — sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde. En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.

    AntwoordVee uit

Plaas 'n opmerking