Khoekhoense Geloof: TsûǁGoab (Seer Knie), die Eerste Khoeb

Abo îtse TsûǁGoab (|nanub) is die Opperwese en hemelse Voorvader van alle Khoe-stamme. Hy is alomteenwoordig, wys, 'n vegter met bonatuurlike krag, 'n magtige towenaar. 
    Alhoewel Abo îtse TsûǁGoab vele kere sterf word Hy met elke Nuwe Maan (|asa ǁkhâb) wedergebore. 
    Hy is die Heilige Reën, die Reënwolk (|nanub) wat die aarde, grond, plante, bome, en gewasse seën, laat bloei en groei. 

    Abo îtse TsûǁGoab (|nanubis die Eerste Khoeb (uitspr. k'xô-êb), en van Hom kom al Sy Mense, Khoena. Hy is Khoe. 
    Hy het die Berge, die Klippe, en die Rotse geskape waaruit die Eerste Khoena opgerys het. 
    En dit is waarom ons tot vandag toe nog sê: 
    Tita ǂgurokam Khoen di |gui Khoe.” (Ek is Eerste Volk / I am First Nation
    Maar, Abo îtse TsûǁGoab (|nanub) het 'n Gehate Vyand, 'n mededinger, ǁgaunab, die Bose Gees
    Mans wat boosdoeners is terwyl hulle lewe, kwaadwillig, met onheil staan, is alombekend as ǁgaunab, en dieselfde soort vroue is Sarês. 
    'n Warrelwind wat skielik van nêrens kom en verwoesting saai, word derhalwe ǁgaunab genoem en beskou as 'n Slegte Teken, 'n waarskuwing van Siekte en Dood en Rampe (droogte, vloede) en Pes en Plae, 'n aanduiding dat ǁgaunab oppad is, of teenwoordig is, want vernietiging en verwoesting is sy doen en late, sy handewerk
    Dit is daarom dat ons tot vandag toe ''!gû'' (gaan!) skree vir 'n warrelwind, en vir sterk winde wat ruk aan bome, aan ons wonings, wat die aarde, die grond, en die waters versteur. 
    Khoeb voer 'n lang en bitter oorlog teen ǁgaunab omdat ǁgaunab 'n groot aantal van Sy Mense, Khoena, doodmaak en vernietig.

En tydens hul gevegte word Khoeb herhaaldelik deur ǁgaunab oorval en verslaan, maar ná elke geveg Staan Hy Weer Op en is Hy sterker as tevore. Uiteindelik is Hy so sterk dat hy ǁgaunab met net Een Hou van sy kirib (knopkierie) verslaan; 'n dodelike hou agter ǁgaunab se oor wat vir ǁgaunab tot teen die aarde vel. 
    En terwyl die vyand so op die grond lê en sterf, dien die sluwe ǁgaunab vir Khoeb een laaste hou toe met sy kirib op Khoeb se Heilige Knie (anu ǁgoab)en toe Sy Knie breek en vou, en Hy weer daarna regopstaan, is ǁgaunab se Oorwinnaar se naam Abo îtse TsûǁGoab (Onse Liewe Heer Seer Knie)
    Abo îtse TsûǁGoab (|nanub), die Opperwese en hemelse Voorvader van alle Khoekhoen, kon daarna nie met Sy Mank Been reg loop óf hardloop nie. Sy Spoor lyk ook só. 
    En Hy is altyd met ons, Sy Mense:  
   Tita ǂgurokam Khoen di |gui Khoe.” (Ek is Eerste Volk / I am First Nation) 
    Ama'e 

***

Hierby is 'n foto van 'n oorspronklike knopkierie tans in die Brooklyn Museum te New York, in die V. S. A. Knopkieries is hoogs doeltreffende wapens waarmee diere gegooi is tydens jagtogte, maar veral om vyande langs, agter, of teen die kop mee te slaan, of op hul ledemate. Knopkieries het in die verlede gesorg vir talle beserings, sommige noodlottig, en breuke. Hulle is nog steeds gevaarlik en vereis tegniese bemeestering van jagters en krygers. Die woord “knopkierie” is 'n samestelling van die Afrikaanse woord “knop” en die Khoekhoense woord “kirib”, wat sinspeel op die geluid wat 'n knopkierie maak soos dit deur die lug beweeg. Die Khoekhoe woord vir knop is “!gubu” (rond). Vandag word knopkieries ook as wandelstokke gebruik alhoewel hulle wapens is. 

Opmerkings