Mening: Die Baster Kapteinsverkiesing en Belangegroepe deur Andre Izaaks

   Ek sit nou en dink nou aan die Baster-kapteinsverkiesing en die gepaardgaande geraaskal.

Een ding is seker, om Basters te verenig is soos om katte te probeer bymekaar maak en aan te jaag; ʼn haas onmoontlike onderneming. Ter illustrasie hiervan, daar is blykbaar alreeds 'n verkose Basterkaptein aan bewind van sake.
Luidens berigte is hy verkies uit en deur afstammelinge van die oorspronklike 30-stuk Baster-families wat in die laat 19de eeu van Suid-Afrika na Rehoboth gekom het.

Benewens hierdie berigte is daar ʼn waarnemende kaptein wat instrumenteel was in die proses wat aanleiding gegee het tot die huidige toedrag van sake naamlik die aanwysing van twee kandidate wat dit volgende maand in ʼn verkiesing gaan uitspook.

Die verkiesing van ʼn nuwe Basterkaptein is genoodsaak na die afsterwe van John Mcnab, in Oktober 2020. Hy het sedert 1999 as kaptein gedien.

Verwarring rakende die verkiesing vier hoogty. Talle Rehobothers was onbewus dat daar n gekose kaptein is en het slegs deur plasings op sosiale media daarvan kennis geneem.

Die daargestelde prosedures, vervat in dokumente wat, onder andere, die vroëre handel en wandel, moets en moenies van die Basters neergestip het, is bekend as die Vaderlike Wette. Om die Babelse verwarring te onderstreep, dit staan ook bekend as die Voorvaderlike Wette.

Daar is ook onsekerheid oor die werklike doel van ʼn Kaptein en Raad. Sommige is dit eens dat die kapteinskap vir Rehoboth tot geen voordeel hoegenaamd strek nie; dat dit ʼn uitgediende reliek uit die 19de eeu is. Voorafgenoemde feite ten spyt, blyk dit dat verkiesingskoors Basters behoorlik beet het en groot opgewondenheid heers oor die huidige veldtogte.

Die Basters, of boorlinge van Rehoboth, is regoor die land versprei. Vanaf Katima Mulilo tot Oranjemund, is daar beswaarlik ʼn gehuggie in Namibia waar jy nie iemand van Rehoboth sal raakloop nie. In een of ander stadium lei die pad terug Rehoboth toe. Ouers toe, familie toe, huis toe. Van daar af, plaas toe.

Basterfamilies het tot 50 jaar gelede hoofsaaklik bestaan uit plaasbewoners wat ʼn lewe uit vee en saaiboerdery gemaak het. Dié bestaansboerdery het kos op die tafel gesit en kinders groot gemaak. Die soeke na ander maniere om ʼn bestaan te maak tesame met onvermydelike periodieke droogtes het hom uiteindelik na die stedelike gebied gelok.

Die platteland het in sy bloed gebly. ʼn Groot aantal Basters is vandag nog betrokke by boerdery.
Sy grond is sy heiligdom.

Soos Toon Van den Heever se myner wat in die donker skagte smag na die ''winde op die Hoëveld, ruim en vry'', so is die Baster se sugte na ''waar ʼn mens nog vry kan asemhaal en aan ʼn God kan glo''.

Daar is egter ʼn twee-ledige dimensionaliteit eie aan die Baster. Dié van oordrewe nasietrots.

Iemand wat homself as ʼn trotse Baster beskryf is niks vreemds in Rehoboth nie.

ʼn Deurdagte kopkrap sou egter ʼn skadu oor die oënskynlik onskuldige stelling werp. Hoekom sou iemand trots wees oor ʼn ''gelukkige'' ongeluk? Iets waaroor hy geen inspraak gehad het. Sou hy dan minder trots was as hy van ʼn ander etniese groep was? Inderdaad, het die ander etniese groepe geen rede om ''trots'' (wat dit ook al impliseer) te wees?

Hierdie skrywer is jare gelede tydens ʼn gesprek met een van die ou Volksraadslede ontnugter toe die eens agbare lid opgemerk het dat daar ʼn rede is hoekom ''God verskillende stamme en nasies gemaak het''.

Hierdie stiksienige sienswyse is ongelukkig tekenend van die deursnee Baster, en strek hom tot aansienlike nadeel met betrekking tot sy aansien in die breë Namibiese samelewing. Dit bring sy geloofwaardigheid in gedrang en reduseer, in die oë van sy medelandgenote, sy status tot dié van tweede-klas inwoner.

Voorafgenoemde motiverings, gekoppel met die hunkering na vervloë dae, is die dryfkrag agter die populariteit van die huidige Kapteinverkiesing.

Die mens het nou maar eenmaal die vermoë om met nostalgie aan die verlede terug te dink... Sodoende word slegs die goeie onthou.

Die Rehobother is g’n uitsondering in dié verband.

Daar word vergeet dat die destydse Regering van Rehoboth, tesame met Kapteins en Volksraad ook maar baie uitdagings die hoof moes bied en by tye onder sekere faksies van die gemeenskap erg onpopulêr was.

Hoekom sal dit anders met die toekomstige Kapteinskap wees?

Bepeins vir ʼn oomblik die feit dat die huidige kaptein kwansuis aangestel is uit en deur die nasate van die oorsponklike families wat die destydse uittog uit Suid-Afrika meegemaak het.

Wie het dit en op watter wyse is dit geverifieer?

Kan mens dit anders as ʼn oefening in absurditeit beskryf?

Insgelyks die ander twee kandidate. Oënskynlik manne met integriteit, maar het hulle enige idee van hulle posbeskrywing, die eise van die kantoor?

Die kaptein as gesag en opperhoof van die tradisionele owerheid word nie deur die Namibiese regering erken nie. Wat sal sy mandaat wees en wat word gehoop om te vermag?

Hoe relevant sal die wette van 1870 op ʼn multi-kulturele gemeenskap in Rehoboth wees?

ʼn Regsgeleerde se inskrywing op sosiale media som dit duidelik op: ʼn Kliënt van haar is onlangs na 30 jaar in die gevangenis vrygelaat. Daar word toe van dié oud-gevangene verwag om e-posse te lees en aanlyn vorms te voltooi. Met ʼn skaam glimlag het hy erken dat hy geen benul het wat van hom verwag word nie. Te verstane, want die Internet en meegaande elektronika is maar slegs sedert die middel negentigs deel van ons woordeskat.

As die wêreld dus in 30 jaar soveel verander het, hoe kan ons dit eers oorweeg om reëls en uitgediende denkwyses van 150 jaar gelede as rigsnoer vir ons alreeds gekompliseerde bestaan te gebruik? Kan ʼn vrou byvoorbeeld as kandidaat vir kaptein staan?

Die vrae is legio. Eenheid onder die inwoners word dikwels van openbare verhoë gepredik. Die verkiesing het egter op ʼn vals noot afgeskop. Rehobothers bestaan nie net uit Basters nie.

Nie net het die verkiesing van ʼn kaptein, myns insiens, geen doel nie, maar dit sal net die katalisator wees wat die kat behoorlik tussen die duiwe gaan loslaat en die reeds brose verhouding tussen belange-groepe in Rehoboth net verder beduiwel.

***

    Hierdie mening is geskryf deur Andre Izaaks en die foto is van Andre en die liefde van sy lewe, sy vrou Cecilia. Andre is 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep, ook 'n Afrikaanse skrywer en digter in eie reg. Stuur gerus 'n boodskap na andreizaaks@gmail.com. 

Opmerkings