Deel I: Die Internasionale Vrotvis-Korrupsieskandaal

   April, 2021   

   Op 'n lang, geelhout bank, wat dien as die beskuldigdebank in die hooggeregshof, sit nege (9) mans langs mekaar. Almal dra mediese maskers, drie het sonbrille op. Almal is deftig geklee in snyerspakke en ontwerperskoene, duur hemde, sy sakdoeke wat uit hul baadjies se bo-sakke peul.

   Tussen die mans sit twee (2) voormalige ministers: Bernhardt Martin Esau (63), die voormalige hoof van die Ministerie van Visserye en Mariene Hulpbronne, en Sakeus ''Sacky'' Edward Shanghala (43), die voormalige hoof van die Ministerie van Justisie, en later, die Prokureur-generaal van Namibië

   Behalwe vir een, is almal tans opgesluit en verhoorafwagtend as gevolg van 'n korrupsieskandaal wat die land tot sy kern geskok het. 'n Korrupsieskandaal wat die regerende party, Swapo, se twee-derde meerderheid van dertig jaar gebreek het, en byna dié party 'n oortuigende oorwinning in die 2019 algemene verkiesings gekos het. 

   Tesame met die twee (2) voormalige ministers, op dieselfde houtbank, sit sewe (7) ander beskuldigdes: James Nependa Hatuikulipi (45), sy neef, Tamson ''Fitty'' Hatuikulipi, (Tamson is ook Bernhardt Esau se skoonseun), Ricardo Jorge Gustavo (45), Mike Nghipunya, die voormalige hoof-uitvoerende beampte van die Nasionale Visserykorporasie (Viskor / ''Fishcor''), Phillipus Mwapopi, Otneel Shuudifonya, en Pius Mwatelulo. Beskuldigde nommer tien (10), Marén Brynard de Klerk (52), die vermeende ''betaalmeester'' van die sogenaamde vrotvis-korrupsieskandaal, is na bewering nog steeds iewers in Suid-Afrika, na 'n senuwee-ineenstorting aan die begin van verlede jaar, 2020. Luidens plaaslike persberigte, vrees hy vir sy lewe. 

   Altesaam tien (10) mense, en elf (11) beslote korporasies, maatskappye, besighede, en trusts, wat met hulle verbind word, verskyn voor die hooggeregshof op aanklagte van bedrog, rampokkery, winsbejag, geldwassery, en bykomende aanklagte wat spruit uit Namibië se teenkorrupsie wetgewing, met spesifieke verwysing na die Teenkorrupsie Wet, nommer 8 van 2003.

   Vandag begin hul voorverhoor. 

   Die adjunkaanklaer-generaal, Edios ''Ed'' Edmund Marondedze, stel die hof en regter Christie Liebenberg in kennis dat drie (3) Yslanders, Adalsteinn Helgason, Egill Helgi Arnason en Ingvar Juliusson, en die vyf (5) maatskappye wat deur hulle verteenwoordig word, nie vandag in die hof is nie, maar dat die staat wel met 'n uitleweringsproses begin het sodat hulle, saam met die tien (10) ander beskuldigdes, ook in die hooggeregshof verskyn. 

   Ed Marondedze dien dan 'n aansoek in voor die hof dat die verklarings van staatsgetuies gesluit moet word, veral nadat sulke verklarings met die regsverteenwoordigers en firmas van die beskuldigdes gedeel word, om te verhoed dat die plaaslike en internasionale pers (koerante, radiostasies, uitsaaikanale, ensv.) die staatsgetuies se verklarings uitsaai en druk. Hy voer aan dat so iets al vantevore gebeur het; nadat die staatsaanklaer sy getuies se verklarings met die beskuldigdes se regsfirmas en verteenwoordigers gedeel het, het die staatsgetuies se verklarings in plaaslike en oorsese koerante verskyn. 

   James Diedericks, die regsverteenwoordiger vir Sakeus Shanghala, James Hatuikulipi en Pius Mwatelulo, teken kapsie aan teen Marondedze se versoek, ook die adjunkaanklaer-generaal se verskuilde beskuldiging dat staatsgetuies se verklarings glo in die verlede deur die beskuldigdes se regsfirmas aan die pers gelek is, en maak dit af as ''belaglik en onsinnig''.

   Omdat Marondedze se aansoek om geslote verklarings geen voorafgaande regsbeginsel het nie, keur regter Liebenberg dit af, en beopdrag die adjunkaanklaer-generaal om liewer seker te maak dat die dossiere met die staatsgetuies se verklarings aan die beskuldigdes se regsverteenwoordigers oorhandig word, teen die 6de Mei, 2021...

   Hoe het Namibië, in sy kort geskiedenis, hierdie lae punt bereik?

   Augustus, 2014

   Byna sewe (7) jaar gelede, moes Trachurus Fishing Enterprises, 'n filiaalmaatskappy van NAMSOV Fishing Enterprises (Edms.) Bpk., noodgedwonge 'n honderd-en-twintig (120) van sy werknemers summier aflê, omdat Trachurus se visvangkwota drasties, sonder kennisgewing of waarskuwing, deur die voormalige Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne, Bernhardt Esau, ingekort is. 

   Toe Trachurus die Ministerie van Visserye en Mariene Hulpbronne benader met navrae oor sy opgeskorte visvangkwota, het die adjunk-minister, Samuel Ankama, hulle kortaf in kennis gestel dat hy geen kennis daarvan dra nie, en dat Trachurus direk met die minister, Bernhardt Esau, in verbinding moet tree. Daarvan het niks gekom nie.

   Die Latynse woord ''trachurus'' is 'n samestelling van die Griekse woorde trachys, wat ''grof'' beteken, en oura, wat ''stert'' beteken. Dis 'n vanpaste beskrywing en naam vir die genus, of geslag, van die seevissoort, perdmakriel (Eng. ''horse mackerel''), die spil waarom die vrotvis-korrupsieskandaal draai.

   Die Atlantiese perdmakriel (Trachurus trachurus) is 'n kwesbare spesie vissoort wat in dele van die oostelike Atlantiese oseaan broei en leef. Dit is 'n bron van omega-3 vetsure, fosfor, en met slegs 2 gram vet in sy vlees, is dit 'n gesonde, en relatief goedkoop, bron van noodsaaklike seeproteïne. Perdmakriel is 'n gesogte vissoort in Europa en Japan, waar getalle die afgelope jare skerp gedaal het as gevolg van oorbevissing. 

   Om die Atlantiese perdmakriel teen uitwissing te vrywaar, het die Namibiese regering 'n beperking op vangste ingestel deur middel van 'n totale toelaatbare vangs (TTV), vir elke seisoen. Die TTV vir perdmakriel is tans 330,000 metrieke ton wat met behulp van 'n puntetelling-stelsel in kwotas opgedeel word. In Augustus, verlede jaar, was kwotas vir perdmakriel aan 'n honderd-en-tagtig (180) maatskappye en organisasies toegeken, met visvangregte. 

   In die Namibiese visbedryf, speel die Ministerie van Visserye en Mariene Hulpbronne die hoofrol in die toekenning van visvangkwotas en visvangregte vir perdmakriel, binne die beperkinge van elke seisoen se TTV (totale toelaatbare vangs). 

   Die plaaslike visbedryf is mededingend en winsgewend en duisende maatskappye doen gereeld aansoek om veral die visvangregte en kwotas vir twee (2) van Namibië se gesogste vissoorte: perdmakriel en stokvis (Eng. ''hake''). Die Namibiese visbedryf dra meer as N$ 10 miljard by tot die land se jaarlikse BBP (bruto binnelandse produk), hoofsaaklik in uitvoere. Dit is ook 'n waardevolle plaaslike werkverskaffer. Daar was voorheen sprake dat die TTV binnekort gelykop verdeel sal word tussen plaaslike en internasionale maatskappye, maar dit is onduidelik of iets daarvan gekom het.

   Die einde van Deel I.                   

   Die foto hierby is van die Heinaste, die sogenaamde ''vrotvisskip'', wat voorheen aan Samherji HF van Ysland behoort het. Die skip was in 2020 aan die Tunacorgroep verkoop. Deel I van die vrotvis-korrupsieskandaal was saamgestel en geskryf deur navorser en vryskut skrywer, Anya Namaqua Links: anyalinks@gmail.com.    

 

 

            


     

 

              

 

Opmerkings

  1. Baie dankie vir so 'n kraakvars blikkie in hierdie internasionale skandaal. Dit is eenvoudig en verstaan vir die gemiddelde persoon en gee ons ook die geleentheid om agter die skerms en toe deure te loer. My hoop is dat dit alle hofverrigtinge gaan dek in terme van hoogtepunte om ons op hoogte van verwikkelinge te hou . Die hoop vestaan ook dat die joernalis dieper sal delf en ook op hoë lui se aandele daarin verslag sal lewer. Ek bid jou God's beskerming en rykste seën toe.

    AntwoordVee uit

Plaas 'n opmerking