Desember, 2019
Die son steek die vel op Walvisbaai. Dis somer, amper kersfees. Liggies hang in die palmbome. Binnelandse vakansiegangers stroom daagliks die woestyndorp binne om die hitte van die hooglande tydelik te vermy.
Op die B2-enkelweg hoofpad, by die ingang van die dorp, kruip 'n lang konvooi in eerste rat. Die drywers lê op hul hoeters, hul fronsende, dikwels swetende gesigte blink deur die voorruite.
Aan die kop van die konvooi, in die middel van die hoofpad, stap 'n singende groep mense. Kinders hardloop en huppel langs die grootmense. Gereeld kyk hulle op in afwagting, sien hul pa's se stram gesigte, en die glimlaggies verdwyn. Die mans, en 'n handjievol vroue, stap doelgerig, met hul vuiste in die lug.
Die leiers van die betoging loop heel voor. Hul ontevredenheid met die opkoms is in lyne tussen hul wenkbroue gekerf, teleurstelling lê vlak soos die strandmeer in hul stemme. Daar is immers meer as drie-duisend (3,000) van hulle in dieselfde bootjie. Omtrent 'n duisend mense, eintlik meer, moes na verwagting opgedaag het, maar het nie. Dis altyd so. Die afleggings het magteloosheid en moedeloosheid soos siekte onder hulle versprei.
Na baie jare op die oop see, in die winderige klamheid, op skepe wat kreun en stink, seemeeue en pelikane wat skreeu en skel, word hulle nou, vir ure, dae en maande aaneen, beperk tot die verstikkende engheid van sinkhuise. Hul waterbene is lam. Baie van hulle is lankal weg; binneland toe, ander suid na plase, sommige is terug na die noorde. Van hulle het selfmoord gepleeg...
Saam het hulle deur bultende nette vol perdmakriel, stokvis, en wat nog gesukkel, soms regdeur die nag in die koue gewerk, en kon hulle 'n net se gewig met die oog skat, hul bonusse meet aan die grom van die dieselenjin, aan hoe diep die buik onderwater hang.
Daarom moet hulle, wat nêrens heen kan vlug nie, wat moet bedel vir 'n pakkie pap, loswerk nou hier, dan daar moet doen vir kleingeld, die hele godse dag lank, vandag betoog. Hulle het vroue, kinders, ouers, broers en susters, wat op hulle steun.
Veral noudat die skokkende nuus in alle koerante is, op alle radiostasies uitbasuin word, in alle tale. Almal weet daarvan, tot die motorwagte in die parkeerterreine skerts van ''vrotvis'', lag wrang daaroor, vir hulle, wat eens op 'n tyd ook 'n dollartjie vir hulle in die hand kon druk.
Die minister is in die tronk, opgesluit vir bedrog van meer as 'n N$ 100 miljoen! Dis 'n ondenkbare bedrag geld vir hulle.
En hier moet hulle, vissermanne wat nie 'n blou sent het nie, wat hard en eerlik gewerk het vir 'n bank se sms, dikwels op die see beseer was en hulself moes gelap het, in die warm son loop en politieke slagspreuke skree op leë mae met hul honger kinders, plakkate vashou wat later 'n karige aandete se vuur sal aansteek, en verouderde vakbondliedjies sing wat vir jare al op dowe ore val...
September, 2014
By 'n spoggeleentheid in Windhoek, uitgevat in 'n snyerspak, het die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne, Bernhardt Esau, met trots gepraat van sy sosialistiese agtergrond en gespog dat hy 'n toegewyde vakbondman is wat altyd die werkers se belange op sy hart dra. Hierdie toespraak het hy by die amptelike bekendstelling van Paragon Seafood Products gelewer, een van die sakeman, Desmond Amunyela, se maatskappye.
Amunyela het vroeër in die jaar die regering se Dassault Falcon 7X-straler vir meer as 'n miljoen dollar gehuur sodat hy en Bernhardt Esau, en Dr. Hage Geingob, die eerste minister destyds, en Sakeus ''Sacky'' Shanghala, die voorsitter van die Regshervorming en Ontwikkelingskommissie, die Fifa Wêreldbeker-eindstryd tussen Duitsland en Argentinië, in Rio de Janeiro, Brasilië, kon bywoon. Duitsland het daardie jaar die Wêreldbeker met 'n enkele doel gewen.
Sy opspraakwekkende uitstappie na Brasilië nieteenstaande, het Esau die waters in die visbedryf al vir 'n geruime tyd lank vertroebel.
Aan die begin van September het drie (3) vismaatskappye, NAMSOV Fishing Enterprises, Emeritus Fishing Limited, en Atlantic Harvesters of Namibia Limited, die hooggeregshof genader met 'n dringende aansoek om die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne te dwing om aan hulle bykomende visvangkwotas vir perdmakriel toe te ken.
In hul gesamentlike aansoek het NAMSOV op 'n bykomende 13, 337 metrieke ton aangedring, Emeritus het 2, 238 metrieke ton gesoek, en Atlantic Harvesters 'n bykomende 2, 555 metrieke ton perdmakriel. NAMSOV en Atlantic Harvesters het aangevoer dat die minister hulle bykomende visvangkwotas ''belowe'' het. Esau het dit ten sterkste ontken.
Volgens hom het NAMSOV reeds die meeste visvangkwotas vir perdmakriel ontvang. Die maatskappy het aanvanklik aansoek gedoen om 100, 000 metrieke ton waarvan 31, 469 uiteindelik toegeken was. Atlantic Harvesters het 5, 911 metrieke ton ontvang. In Julie, 2014, het NAMSOV weer 1, 259 metrieke ton van hom ontvang, en Atlantic 'n bykomende 236 metrieke ton.
Esau het gesê dat hy van sy ministerie se ''reserwe visvangkwotas'' perdmakriel moes gebruik, ongeveer 10, 096 metrieke ton daarvan, om nog 'n ekstra 5, 908 aan NAMSOV en 'n ekstra 1, 110 metrieke ton aan Atlantic te gee, einde Julie. Alles getel, het NAMSOV dus 'n totale toekenning van 38, 636 metrieke ton van hom ontvang, en Atlantic 'n totale toekenning van 7, 257 metrieke ton. Die TTV (totale toelaatbare vangs) vir daardie jaar was 350, 000 metrieke ton.
NAMSOV en Atlantic Harvesters het egter voet by stuk gehou dat die minister nie visvangkwotas mog toeken aan maatskappye en verenigings wat nie visvangregte vir perdmakriel het nie.
Toe Bernhardt Esau gevra was hoekom hy weier om die perdmakriel visvangkwotas vir sulke gevestigde plaaslike vismaatskappye te verhoog, het hy gesê dat hy nie sal toelaat dat die Namibiese visbedryf deur enigiemand gemonopoliseer word nie, en bygevoeg dat ''wedywering'' vir visvangkwotas in die visbedryf onvermydelik is.
'n Paar dae daarna het 'n persberig aangekondig dat die bestuurende direkteur van Investec Namibië, James Hatuikulipi, die nuwe voorsitter van die Nasionale Visseryekorporasie (''Viskor'') is. Viskor besit drie (3) filiaalmaatskappye: Seaflower Whitefish, Seaflower Lobster, en Seaflower Pelagic Processing. By navrae het Hatuikulipi bevestig dat hy deur die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne, in sy hoedanigheid, aangestel was. Tamson Hatuikulipi, Bernhardt Esau se skoonseun, en James is neefs.
In 2014 was Usko Nghaamwa, Laura McLeod-Katjirua, Ulitala Hiveluah, Sheya Ndaendamwenyo, V. Groenewald, en Dr. Bennet Kangumu op Viskor se raad van direkteure. Ingevolge die bepalinge van die Wet op die Nasionale Visserykorporasie, nommer 28 van 1991, die sogenaamde ''Viskorwet'', moet die raad van direkteure een van hul eie lede verkies tot voorsitter, maar by navrae kon nie een van die raadslede verduidelik hoe dat Hatuikulipi, wat nie 'n Viskor-raadslid was nie, hul voorsitter geword het.
Usko Nghaamwa het gesê dat hy 'n brief van die minister, Bernhardt Esau, ontvang het waarin hy in kennis gestel was dat Hatuikulipi die nuwe voorsitter van Viskor is. Die raadslede het ook nie 'n vergadering met die minister gehad in verband met Hatuikulipi se aanstelling nie, alhoewel Esau glo die raad van direkteure daarvan verseker het dat 'n vergadering in verband daarmee sou plaasvind.
Onmiddellik na Hatuikulipi se aanstelling as voorsitter, het Esau 'n perdmakriel visvangkwota van 10,000 metrieke ton aan Viskor ''geskenk''. Viskor het teen daardie tyd reeds sy stokvis (Eng. ''hake'') visvangkwotas vir die seisoen ontvang. Dit was duidelik dat die minister die Wet op Mariene Hulpbronne, nommer 27 van 2000, met die skenking oortree het omdat Viskor nie visvangregte vir perdmakriel gehad het nie.
In 'n hofuitspraak in Desember, 2014, in die saak tussen NAMSOV Fishing Enterprises, Atlantic Harvesters of Namibia Limited, en die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne, het regter Shafimana Ueitele bevind dat Bernhardt Esau se skenking van visvangkwotas vir perdmakriel aan Viskor, en die toekenning van visvangkwotas aan die Namibian Large Pelagic and Hake Longlining Association, en ook die Namibian Small Pelagic Fishing Association, ''onwettig en onreëlmatig'' was.
Ten spyte daarvan, het regter Ueitele nie die toekenning van die visvangkwotas ter syde gestel nie.
Die einde van Deel II.
Die foto hierby was in 2019 deur Eveline de Klerk geneem vir New Era, toe werklose vissermanne in Walvisbaai betoog het. Deel II van die vrotvis-korrupsieskandaal was saamgestel en geskryf deur navorser en vryskut skrywer, Anya Namaqua Links: anyalinks@gmail.com.
Hierdie artikel werp behendig lig op menslike lyding van vissermanne en skilder die skrille kontras van kille en wrede ontnugtering deur leë beloftes van oudminister Bernard Esau.
AntwoordVee uitDie annekdote oor die flambojante Brasiliaanse toer ontketen paslike woede teen die agtergrond van wydverspreide armoede en lyding. Dit herinner aan George Orwell se "Animal Farm" waarin politieke gepeupel elitistiese gemak deur korrupte praktyke smaak ten koste van hul ontgogelde verdrukte en ontmagtigde ondergeskiktes. Dis welgedaan.
Uit hierdie saga blyk dit nou deur te skemer dat daar moontlik 'n heksejag op Bernard Esau deur 'n komplot as sagte teiken uitgevoer word omdat hy bykomende toekenning van viskwotas aan comrades teengestaan het om monopolie te vermy. Die res, ten spyte van hul aandele, was ongelukkig in die pad van die visier. Dit blyk reggekry te wees deur kumulatiewe skuldoplegging om die reuse sondes van ver groter vetkatte te verbloem.
Die joernalis behoort die volgende twee punte in hieropvolgende skrywes aan te wakker:
Dat alle Namibiese vismaatskappye deur 'n onafhanklike kommissie geondersoek en etiese forensiese oudits op hul besighede uitgevoer word.
En dat die hof, met spesifieke verwysing na regter Uetele, geondersoek word om vas te stel hoekom hy versuim het om 'n besluit te neem om die toekenning van onwettige viskwotas tersyde te stel.
Hierdie artikel werp behendig lig op menslike lyding van vissermanne en skilder die skrille kontras van kille en wrede ontnugtering deur leë beloftes van oudminister Bernard Esau.
AntwoordVee uitDie annekdote oor die flambojante Brasiliaanse toer ontketen paslike woede teen die agtergrond van wydverspreide armoede en lyding. Dit herinner aan George Orwell se "Animal Farm" waarin politieke gepeupel elitistiese gemak deur korrupte praktyke smaak ten koste van hul ontgogelde verdrukte en ontmagtigde ondergeskiktes. Dis welgedaan.
Uit hierdie saga blyk dit nou deur te skemer dat daar moontlik 'n heksejag op Bernard Esau deur 'n komplot as sagte teiken uitgevoer word omdat hy bykomende toekenning van viskwotas aan comrades teengestaan het om monopolie te vermy. Die res, ten spyte van hul aandele, was ongelukkig in die pad van die visier. Dit blyk reggekry te wees deur kumulatiewe skuldoplegging om die reuse sondes van ver groter vetkatte te verbloem.
Die joernalis behoort die volgende twee punte in hieropvolgende skrywes aan te wakker:
Dat alle Namibiese vismaatskappye deur 'n onafhanklike kommissie geondersoek en etiese forensiese oudits op hul besighede uitgevoer word.
En dat die hof, met spesifieke verwysing na regter Uetele, geondersoek word om vas te stel hoekom hy versuim het om 'n besluit te neem om die toekenning van onwettige viskwotas tersyde te stel.