Deel III: Die Internasionale Vrotvis-Korrupsieskandaal

Maart, 2021   

    ''Dis eintlik waaroor die hele korrupsie gaan,'' het Jóhannes Stefánsson gesê. ''Alles gaan oor toegang tot die grootste visvangkwotas deur middel van korrupte bande met sakelui en politici.

    ''Gewoonlik besit die burgers van 'n land die visvangregte en ontvang hulle visvangkwotas wat dan aan internasionale vismaatskappye soos Samherji verkoop word. Visvangregte moet geheel en al nie in die hande van politici wees nie...''

    Jóhannes Stefánsson, die voormalige bestuurder van Samherji se besigheidsbedrywighede op Walvisbaai in Namibië, is in Rykjawiek, die hoofstad van Ysland, gebore. Sy moeder is in 2016 aan Alzheimer se siekte oorlede, sy pa leef nog, Stefánsson se gesondheid is swak en onvoorspelbaar, hy het baie gewig verloor, is dikwels siek, byna alles kwyt wat hy besit het, en sy huwelik is daarmee heen. Hy sê hy sukkel om te slaap.

   Sy pa, 'n visserman, het vir veertig (40) jaar op vissersbote in die Nordiese See gewerk. Na hy self vir jare, nes sy pa, op vissersbote en later ook in visverwerkingsaanlegte gewerk het, is Stefánsson in 2007 by Samherji aangestel, Ysland se grootste vismaatskappy. Hy sê hy het met inheemse Yslandse kultuur grootgeword wat daaraan glo dat mense na mekaar en die omgewing moet omsien. Sy agtergrond, waardes, tesame met 'n charismatiese persoonlikheid, het daarvoor gesorg dat hy vinnig bevorder word, en in 2013 beklee hy die pos van bestuurende direkteur.

   Teen Julie, 2016, was Stefánsson egter keelvol vir Samherji.

   ''Samherji het alles en enigiets gedoen, net wat hulle kon, om die natuurlike hulpbronne van ander lande in die hande te kry. Hulle het mense met leë beloftes mislei om deure oop te maak. Die maatskappy het ook nie gehuiwer om omkoopgeld te betaal en die wet te oortree nie, solank hulle soveel geld moontlik uit die land kan maak en neem, en niks agterlos nie behalwe verbrande grond en geld in die sakke van 'n korrupte politieke klas.'' 

   Vyf (5) jaar tevore, in 2011, het Samherji onderneem om 'n visverwerkingsaanleg in Namibië te bou, om sodoende plaaslike werkskepping te bevorder en die Namibiese ekonomie te versterk. Daarvan het niks gekom nie, het Stefánsson gesê, want by navrae het die maatskappy die bou van die aanleg aanhoudend uitgestel en gesprekke daaroor vermy. Bo en behalwe dat Samherji se leë beloftes hom in 'n baie ongemaklike posisie vyf (5) jaar lank geplaas het, veral omdat hy hierdie aankondiging namens die maatskappy gemaak het, het Stefánsson teen daardie tyd ook al vir jare sonder betaling vir sy vakansies gewerk.

   Na hy in 2016 bedank het, het die maatskappy hom herhaaldelik versoek om onmiddellik na Ysland terug te keer. Terwyl hy hul oproepe geïgnoreer het, het hy inligting van sy werkrekenaar afgelaai en op vyf (5) hardeskywe gestoor; onder andere, meer as 38,000 eposse, verskeie memoranda, fotos, en videos. Vanaf Julie, 2016, tot en met Januarie, 2017, het Stefánsson in Kaapstad gewoon, met lyfwagte. 

   Hy is oortuig daarvan dat hy in 'n hotel in Suid-Afrika vergiftig is en dat Samherji daarvan weet. Dit het kort na hy sy bedankingsbrief ingedien het gebeur. Hy beskryf dat hy flou geval het, ongelooflik deurmekaar was, erge liggaamspyn ervaar het, en verskriklik dors was. Hy is anoniem in kennis gestel dat hy 'n sluipmoordteiken is en daarom het hy Suid-Afrika vroeg in 2017 verlaat. Hy sê die feit dat hy vandag nog leef is te danke aan die twee lyfwagte wat deurentyd saam met hom was. 

   Terug op eie bodem in Ysland, en bekommerd oor sy eie veiligheid, het Stefánsson onmiddellik met WikiLeaks in verbinding getree en duisende dokumente en foto's aan hulle oorhanding, onder die kodenaam ''Fishrot'' (Afr. ''Vrotvis''). Hy het ook met Al Jazeera se ondersoekeenheid in verbinding getree, wat in Oktober 2019, kort voor die algemene verkiesings in Namibië, 'n opspraakwekkende dokumentêre film, Anatomy of a Bribe, vrygestel het. 

   Nadat Stefánsson se beweringe wêreldwyd bekend geword het, het Samherji 'n verklaring uitgereik waarin die maatskappy vir Stefánsson daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld aan Namibiese sakelui en politici betaal het, en dat die maatskappy onbewus was van enige ongeruimdhede. 

   Stefánsson gee toe dat hy deel was van die korrupsie in die Namibiese visbedryf. 'n Ondersoek het egter bewys dat hy nie beheer gehad het oor die bankrekeninge waardeur die beweerde omkoopgeld gevloei het nie. Daarby het die omkopery ook na bewering vir nog drie (3) jaar aangehou, nadat Stefánsson die maatskappy verlaat het...

   *Op die 5de Mei, 2021, het Jóhannes Stefánsson die WIN WIN Gotenburgse Volhoubaarheidstoekenning ter waarde van SEK 1M (1 miljoen Sweedse kroon = U$D 1,1 miljoen) ontvang. Die toekenning gee erkenning aan mense en organisasies wat korrupsie bestry veral met betrekking tot volhoubaarheid rondom ekologiese, omgewings- en maatskaplike kwessies.

   Augustus, 2015

   Tarah Shaanika, die hoofuitvoerende beampte van die Namibiese Kamer van Koophandel en Nywerheid, oftewel die NKKN (Eng. ''NCCI''), en Shakespeare Masiza, 'n bekende advokaat van Walvisbaai, het deur middel van voorleggings hul misnoeë uitgespreek oor voorgestelde wysigings aan die Wet op Mariene Hulpbronne, nommer 27 van 2000, voor die Nasionale Raad (NR).

   Die Wysigingswet op Mariene Hulpbronne, nommer 9 van 2015, is in Julie 2015 deur die Nasionale Vergardering (NV) sonder teenstand goedgekeur.

   Shaanika het gesê die NKKN versoek groter deursigtigheid in die Ministerie van Visserye en Mariene Hulpbronne se stelsel, veral die toekenning van visvangregte en kwotas. Volgens hom verhoog die voorgestelde wetswysigings die moontlikheid van magsmisbruik, nie net deur die huidige nie, maar ook toekomstige ministers.

   ''Natuurlike hulpbronne behoort aan die mense en nie aan die minister nie,'' het Shaanika gesê en bygevoeg dat 'n onafhanklike raad tot stand gebring moet word om visvangkwotas toe te ken.

    Die geskil het rondom die volgende artikels en klousules in die Wysigingswet op Mariene Hulpbronne, nommer 9 van 2015, ontstaan:

   Wet Nommer 9, 2015: Wysigingswet op Mariene Hulpbronne, 2015

      4. Artikel 38 van die hoofwet is verander - 

   (a) sodat sub-artikel (1) vervang word met die volgende sub-artikel: 

          ''(1) Die minister mag van tyd tot tyd 'n totale toelaatbare vangs bepaal op grond van die beste wetenskaplike inligting beskikbaar en na advies van die adviserende raad ingewin is, by kennisgewing in die staatskoerant'', en 

   (b) sodat sub-artikel (2) vervang word met die volgende sub-artikel:

          ''(2) Na die vasstelling van 'n totale toelaatbare vangs ingevolge sub-artikel (1) mag die minister bepaal dat die totale toelaatbare vangs vir 'n gegewe tydperk toegeken word aan die volgende kategorieë - 

          (a) kommersiële oes; 

          (b) nie-kommersiële oes; en

          (c) reserwe''.

      5. Artikel 39 van die hoofwet is verander -

   (b) deur die invoeging van die volgende sub-artikel na sub-artikel (3): 

          ''(3A) Sou die minister ingevolge artikel 38 (1) en (2) 'n totale toelaatbare vangs bepaal het vir toekenning vir nie-kommersiële oes of reserwe doeleindes, mag die minister nieteenstaande die bepalinge van artikels 32, 33, en sub-artikel (2) en (3), op aansoek, 'n kwota toeken aan die Nasionale Visserykorporasie van Namibië Bpk., gestig in terme van die Nasionale Visserykorporasie van Namibië Wet, nommer 28 van 1991, ten einde die doelwitte te bereik soos uiteengesit in artikel 3(3).''

   In sy voorlegging het advokaat Shakespeare Masiza, wat in Februarie 2021 aan COVID-19 beswyk het, namens 'n geheime groep kliënte herhaaldelik daarop gewys dat die woord ''reserwe'' in die wysigingswet wye magte verleen aan die minister, sonder enige inligting, inleiding, of verduideliking hoe sulke reserwes bepaal sou word. Dit gee, basies, die minister magte om visvangregte en kwotas toe te ken ''soos hy goeddink''. 

   Masiza het geweier om die name van sy kliënte bekend te maak en wou ook nie bevestig of ontken dat NAMSOV Fishing Enterprises een van hulle is nie. Hy het aan die Nasionale Raad verduidelik sy kliënte is bekommerd oor 'n uitspraak in die hooggeregshof in Desember, 2014, gelewer deur regter Shafimana Ueitele, dat die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne, Bernhardt Esau, ''onwettig en onreëlmatig'' opgetree het toe hy visvangkwotas aan partye toegeken het wat nie-regtehouers was. Masiza het verduidelik dat Esau perdmakriel-kwotas toegeken het aan ondernemings en verenigings wat die vorige drie (3) jaar nie visvangregte vir perdmakriel gehad het nie. 

   ''Op hierdie manier het die minister kosbare Namibiese hulpbronne ter waarde van meer as N$ 355 miljoen verkwansel tot die voordeel van sekere individue en ondernemings.'' 

   Aangaande die wysigingswet het Masiza gesê: ''...die minister wil die wetgewende proses misbruik om reg te kry dit wat hy weet hy nie by regte gemagtig is om te doen nie.''

   Hy het ook gehamer op die algehele gebrek aan raadpleging voordat wysigings aan die Wet op Mariene Hulpbronne aangebring is, en het die Nasionale Raad versoek om 'n komitee te stig wat die visbedryf by Bernhardt Esau se planne vir die bedryf sal moet betrek. 

   Masiza se kliënte het ook saamgestem dat 'n onafhanklike raad gestig moet word om visvangkwotas te hernu en toe te ken. Daarby moet die minister verplig word om die toekenning van visvangregte en kwotas in die staatskoerant te publiseer, soos deur die wet bepaal, en dat kwotahouers betyds in kennis gestel word indien, en die redes waarom, hul regte en kwotas nie hernu sal word nie, en hoekom ander weer vermeer of verminder word.

   Die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne, Bernhardt Esau, het op sy beurt teruggekap na Tarah Shaanika en hom 'n ''marionet'' genoem wat ook visvangkwotas het maar nooit van tevore oor enigiets gekla het nie. Volgens hom is Shaanika ''omgekoop'' deur NAMSOV om hul agenda te bevorder. Die NKKN het ook glo nie 'n spesiale vergadering gehou om sy lede se standpunte te bespreek nie.

   ''Hulle mog miskien die vorige minister om hul vingers gedraai het maar ons het vir hierdie land geveg, en vir die billike verdeling van sy hulpbronne. Nes my ouers nie lafaards was nie, is ek nie 'n lafaard nie.'' 

   Verder, het Esau gesê, is dit nie nodig vir 'n onafhanklike raad om toesig te hou oor visvangregte en kwotas nie omdat hy alreeds sy mede-besluitnemers genoegsaam raadpleeg aangaande die besluite wat hy neem. Hy het ook bevraagteken waarom juis visvangregte en kwotas deur 'n onafhanklike raad beslis moet word maar verkenningslisensies in mynwese word nie. Hy het ook beweringe ontken dat hy visvangkwotas ter waarde van N$ 355 miljoen aan hooggeplaaste individue met politieke bande toegeken het.

   Shaanika het op sy beurt ontken dat hy deur enigiemand beheer word en gesê dit is duidelik die minister neem die kwessie te ''persoonlik'' op.  

   Ten spyte van Shaanika en Masiza se voorleggings en voorstelle, en hul onbeantwoorde dog kwellende vrae, het die president van Namibië, Dr. Hage Geingob, op die 10de September 2015, die Wysigingswet op Mariene Hulpbronne, nommer 9 van 2015, goedgekeur en afgeteken, en op die 24ste September 2015, het die wysigingswet in die staatskoerant verskyn.

   Die einde van Deel III

   Dit is nie op hierdie stadium bekend wie hierdie foto van Jóhannes Stefánsson geneem het nieDeel III van die vrotvis-korrupsieskandaal is saamgestel en geskryf deur Anya Namaqua Links: anyalinks@gmail.com.

Opmerkings