Fokus: Tuis met ''Dr. Covid'', Minister Kalumbi Shangula

   Toe hy jonger was, het dr. Kalumbi Shangula nooit daarvan gedroom dat hy eendag 'n dokter sou word nie; sover hy kan onthou het hy net in sport belang gestel. Hy het alle sportsoorte beoefen, van vlugbal tot sokker, en tot vandag is sokker sy gunsteling sport.

   Dr. Shangula was die 8ste Augustus, 1948, op Etilyasa in die Omusatistreek gebore, en is hy die derde van tien (10) kinders. Hy is 'n parliamentslid sedert 2018, en het die huidige president, dr. Hage Gottfried Geingob, hom in dieselfde jaar aangestel as Namibië se Minister van Gesondheid en Welsyn. Alombekend as ''Dokter Covid'', dr. Shangula baklei voor in die stryd teen Covid-19.

   ''Ek kyk net sport op TV, meestal sokker, maar altyd sport,'' het dr. Shangula tydens hierdie onderhoud gesê. ''Boks, tennis, en rugby, ek wissel tussen daardie kanale. My gunsteling sokkerspanne is Manchester United, dis nou my span, ook Barcelona van Spanje, en Bayern Munich van Duitsland. Ek sal enige sport kyk maar sokker bly my gunsteling.''

   Waarom die mediese beroep?

   Dr. Shangula het kleintyd sy pa se vee opgepas.

   ''My wiskunde-onderwyser het op 'n dag voorgestel dat ek medies moet studeer. Dis iets waaraan ek nooit gedink het nie. Ek het klas bygewoon sonder 'n toekomsplan omdat ons, daardie tyd, nie baie loopbaankeuses gehad het nie. Jy kon of 'n onderwyser of 'n predikant word, en nie een van daai beroepe het my belangstelling geprikkel nie. My wiskunde-onderwyser het 'n groot rol in my beroepskeuse gespeel.''

   Dr. Shangula was nie gretig om 'n mediese dokter te word omdat hy nooit dokters met donker velkleure gesien het nie, maar sy wiskunde-onderwyser het tog die moontlikheid daarvan in sy kop geplant. 

   Geleerdheid

   Hy het toe medies gestudeer in Moskou, in die destydse Sowjet-unie (Eng. Soviet Union), en sy eerste graad daar behaal. Daarna het hy 'n graad in Openbare Gesondheid aan Harvard-universiteit verwerf, 'n meestersgraad in Openbare Gesondheid en Aansteeklike-en Oordraagbaresiekte aan die Londen-universiteit daarna, 'n meestersgraad in Besigheidsadministrasie (MBA) behaal, en aanvullende sertifikate. 

   Waardes

   In die vroeë tagtigerjare het dr. Shangula en die staatspatoloog, oorlede dr. Elizabeth Hinananye-Shangula, getrou. Die mediese paartjie het drie (3) kinders, twee seuns en 'n dogter, saam groot gemaak. Dr. Elizabeth is oorlede in 2008.

   ''My oorlede vrou was ook 'n dokter en, ek dink, ons kinders het gesien hoedat ons sukkel, veral toe hulle gereeld wakker geword het in die aand omdat ons na pasiënte moes gaan omsien. Ek is seker daarvan dat hul ervaring 'n groot rol gespeel het in hul keuses om nie in ons voetspore te volg nie.''

   Na 'n gesprek met sy vrou, het die twee dr. Shangulas besluit om hul kinders toe te laat om hul eie beroepskeuses te maak.

   ''Ons het dit gedoen sodat hulle ons nie eendag verwyt oor hul loopbaankeuses nie. Hulle is die vryheid gegun om te kies wat hulle wil word, en hulle hou van besigheid en ekonomie. Ten minste het ek iets in gemeen met een van hulle wat ook besigheid gestudeer het,'' het dr. Shangula gelag. 

   Dokter Kok

   ''Ek geniet enige, en alle, tradisionele en inheemse disse; dis van my gunsteling geregte. Alle soorte. Ek is die liefste vir varswatervis-geregte, en wanneer ek Katima Mulilo besoek, en dis die seisoen vir brasem, sal ek dit eet vir solank moontlik. Ek is lief vir brasem, rooiborskurper (Eng. tilapia), en seekossoorte ook.

   ''Toe ek 'n sukkelende student was, het ek gekook en terselfdetyd geëet! Wat ookal klaar gekook was, het ek opgeëet, wat beteken ek kon die potte onmiddellik was sodra ek klaar geëet het. Maar toe ek trou het die kombuis 'n verbode gebied vir my geword en het ek my maar uit binnelandse sake gehou. Ek het opgehou kook tot vandag toe.''

   Dr. Shangula geniet ook osjikoendoe (Osh. oshikundu), 'n gewilde, nie-alkoholiese drankie wat van broodmanna (Osh. mahangu) in die noordelike streke van Namibië gemaak word.

   ''Ons het osjikoendoe altyd tuis gemaak maar soms was dit moeilik om die bestanddele te kry. Tuisgemaakte osjikoendoe bly maar die lekkerste. Ek hou ook van vrugtesap en drink, soms, alkohol by verjaarsdagpartytjies en troues, 'n glas wyn, maar nie bier nie.''

   Oos, wes, tuis bes

   Na 'n lang dag sien dr. Shangula uit daarna om saam met sy gesin te verkeer. 

   ''Ek geniet dit om my mense by die huis te sien, en my honde, Lumen en Daniella. Ons gesels oor allerhande goed, ek vra hoe dit met almal gaan, ons besluit wat ons vir aandete eet, dan kyk ons wat die huis nodig het, ek kyk nuus en sport, ons eet, en gaan slaap. 

   ''Ek gaan vroeg bed toe en staan vyfuur op, 'n gewoonte wat ek ontwikkel het toe my kinders nog klein was, en ek hulle wakker moes maak en gereed moes kry om skool toe te gaan.''

   Wysheid in ballingskap

   ''Ek woon, op die oomblik, 'n groot universiteit by - die lewe. Om te lewe is gelyk daaraan soos om 'n groot universiteit by te woon. In ballingskap het ek baie moeilike tye deurgemaak wat my 'n sterk karakter gegee het. Ek het verdedigingsmeganismes en hanteringsvaardighede ontwikkel, en 'n vermoë om nie toe te laat dat moeilike tye my onderkry nie.

   ''Ek sê altyd vir mense hulle moenie toelaat dat omstandighede, of 'n situasie, hulle oorweldig nie. Bly altyd in beheer daarvan. Dis 'n waardevolle oorlewingstrategie om aan te kweek.'' 

   In ballingskap het dr. Shangula strawwe militêre opleiding in die Sowjet-unie ontvang. ''Dit het my laat besef dat ek nogal heelwat kan hanteer. My hanteringsvaardighede het verbeter en ongeag die probleme op jou pad, moet jy weet hoe om oor hulle te kom.''

   Persoonlikheid

   Min mense weet dat dr. Shangula hom amper nooit vererg, of kwaad word nie. 

   ''Ek raak nie geïrriteerd of kwaad nie. Ek vererg my glad nie, maak nie saak wat nie, en voordat iets in rusie kan ontaard, stap ek weg; as jy kwaad raak kan jy besluite maak waaroor jy later spyt sal wees. Dit is een van my beste eienskappe. 

   ''My kinders ken my goed; ek stry nooit nie. As hulle iets doen waarmee ek ongelukkig is, gaan sit en gesels ons daaroor.'' 

   Hierdie artikel was oorspronklik geskryf deur Siririka Paheja (psiririka@nepc.com.na) vir die New Era-koerant. Die vertaling daarvan was behartig deur Anya Namaqua Links: anyalinks@gmail.com. Lees die oorspronklike artikel hier, in Engels: https://neweralive.na/posts/shangula-shares-his-love-for-sport  

Opmerkings