Gesondheid: Hoe om Jouself te Versorg indien Jy COVID-19 Opdoen

   Dis winter en sodra jy nie lekker voel nie, gaan vir 'n toets sodat jy kan vasstel wat fout is. Die Ministerie van Gesondheid en Welsyn het gratis toetspunte vir COVID-19 in alle dorpe en stede van Namibië, en daar is ook privaat maatskappye wat toetse doen vir 'n fooi. 

   Dis belangrik vir jou, jou gesin, familie, vriende, werkgewer, werknemers, en breë gemeenskap om getoets word. 

   Die simptome van COVID-19 verskil van mens tot mens. Die meeste mense ervaar ligte tot matige simptome, en herstel volkome sonder om hospitaal toe te gaan. 

   Hier is die mees algemene simptome vir ligte, matige, en ernstige COVID-19:

    1) Die Mees Algemene Simptome van COVID-19

* Koors en kouekoors (voorkop is vuurwarm maar jy bewe asof dit yskoud is) 

* 'n Droë hoes (sonder slym)

* Moegheid, tamheid, uitgeput en lusteloos (wil net slaap)

* Loopneus of stopneus (dit voel asof die neusgate verstop is) 

   2) Minder Algemene Simptome van COVID-19

* Spier-en liggaamspyne 

* Seer keel

* Maagwerk

* Pienk oë / rooi oë (inflammasie van die deurskynende membraan wat die oë bedek) 

* Hoofpyn 

* Die verlies van reuk en smaak sintuie (kos is smaakloos, en 'n gesukkel om te ruik)

* 'n Veluitslag, of vingers en tone wat kleur verander

* Naarheid en opgooi

   3) Ernstige Simptome van COVID-19

* Verward en deurmekaar

* Hoë koors (bo 38 °C) 

* Sukkel om asem te haal

* Kort van asem (hyg)

* Borskas wat aanhoudend pyn 

* Drukking op die bors

* Spraakverlies

* Onvermoë om onafhanklik te beweeg

* Onvermoë om wakker te word en wakker te bly

* Blou lippe, blou gesig of naelvlees, of gryserige lippe, gesig of naelvlees, afhangende van velkleur 

   Mense wat ligte tot matige simptome ervaar, moet asseblief by die huis bly tot hulle beter voel. Skakel onmiddelik jou huisdokter, die naaste hospitaal, of 0800 100 100 sodra jy ernstige simptome ervaar.  

   Dit vat gewoonlik tussen vyf (5) en ses (6) dae vir COVID-19-simptome om kop uit te steek, en in sommige gevalle, tot veertien (14) dae.

   COVID-19 en griep is albei aansteeklike asemhalingsiektes maar word deur verskillende wierusse veroorsaak. Die siekte, COVID-19, ontstaan as gevolg van besmetting met 'n nuwe kroonwierus (koronawierus) genaamd SARS-CoV-2, en griep ontstaan as gevolg van besmetting met een van twee (2) wierusstamme, hoofsaaklik, stam A of B (daar is ook stamme C en D). Stam A is die enigste griepwierus wat 'n pandemie onder mense kan veroorsaak. 'n Voorbeeld hiervan is varkgriep (Eng: swine flu), ook bekend as die H1N1-griep. Stam C is 'n ligte griep, en stam D kom net voor by beeste. 'n Voorbeeld van stam B is die Victoria wat hoofsaaklik onder kinders en tieners voorkom.

   BB (baie belangrik): Dit lyk asof SARS-CoV-2 (die nuwe kroon / koronawierus) makliker en vinniger versprei as griep en meer ernstige siektes veroorsaak by mense. Omdat COVID-19 soms soos griep vertoon, is dit belangrik om getoets te word, om COVID-19 uit te skakel, en die regte diagnose te kry.

   Sodra jy positief toets vir COVID-19, bly by die huis

   As gevolg van persberigte en nuus op sosiale media, kan COVID-19 skrikwekkend klink, veral vir mense met onderliggende gesondheidsprobleme, maar die meeste mense het ligte gevalle van COVID-19, en die meeste mense wat die wierus opdoen, voel binne 'n paar weke weer beter.

   BB (baie belangrik): As jy positief toets, en het onderliggende gesondheidsprobleme, laat weet onmiddellik jou huisdokter, of skakel 0800 100 100 en vra om hulp. Moenie dokter, of hospitaal, toe gaan nie. Verhoed dat die wierus verder versprei.

   Hier volg raad om jouself by die huis te versorg indien jy COVID-19 opdoen: 

   1) Ek het Koors

* Rus gereeld (geen strawwe werk of oefeninge nie, asseblief)

* Drink vloeistowwe, verkieslik water, om ontwatering te verhoed want koors verhoog die liggaamstemperatuur, en drink genoeg sodat jou uriene (of pie) liggeel vertoon en skoon bly

   2) Ek Hoes

As jy 'n droë hoes het: 

* Moenie op jou rug rus, of lê en slaap nie

* Lê liewer op jou sy

* Pak kussings om jou sodat jy min of meer regop kan bly, en jou borskas en maag vrylik beweeg

* Om hoes te verlig, eet 'n teelepel heuning, as jy dit in voorraad het, om die keel te streel

* Hoes altyd in 'n sakdoek, tiesjoe (Eng. tissue) of stuk toiletpapier en plaas die gebruikte tiesjoe en toiletpapier in 'n plastieksak

   3) Algemeen

* Om jou gesin te beskerm, hou jou beker, koppie, waterglas, borde, en eetgery eenkant. Hou ook jou tandeborsel, waslap, en handdoek eenkant. Eet in jou kamer, of alleen  

* Dra altyd 'n masker oral (veral in die kombuis) en hou 'n gesonde afstand van almal (tussen 1,5 en 2m)

* Eet gesond en bly aktief

* Was hande, gereeld, nadat jy aan handvatsels, slotte, en sleutels gevat het, waaraan ander mense ook gereeld vat

* Ontsmet gereeld oppervlakke waaraan baie gevat word, soos krane byvoorbeeld, en jou selfoon se skerm 

* Vermy dit om aan troeteldiere te vat en bly liewer op 'n afstand (daar is nog nie inligting oor hoe die wierus hulle raak nie)

* Hou kuiergaste weg; bly liewer in verbinding deur middel van boodskappe, epos, sosiale media, en Whatsapp video-oproepe

* Laat almal toets wat saam met jou woon

   4) Vir Getroudes en Paartjies wat Saamwoon

* COVID-19 is nie 'n geslagsiekte nie en word nie deur blote omgang oorgedra nie, maar dit is teenwoordig in speeksel

* As een van 'n paartjie positief toets vir COVID-19, raai gesondheidsowerhede aan dat hulle liewer veilige afstande behou vir ten minste veertien (14) dae

* Al dan nie, dra maskers gedurende omgang om aansteking te verhoed 

* Maak gebruik van latex handskoene, kondome (vir mans, en DG / dieselfde geslag paartjies) en tandheelkundige rubberwalle (Eng. oral / dental dams) vir vroue, en DG paartjies, ook vir paartjies wat MIV-positief is

* Dis moontlik om COVID-19 op te doen as jou maat met iemand intiem verkeer wat nie saam met julle woon nie.

   5) Rokers (sigarette en pype)

* Mense wat ligte of matige COVID-19 opgedoen het, word aangeraai om minder te rook, rookpleisters (Eng. patch) te gebruik, of nikotien-kougom en sproeie te gebruik totdat hulle ten volle herstel

* Rokers word ook oor die algemeen aangeraai om die tabak te los omdat die voorlopige uitslae van 'n beperkte aantal gevallestudies wys dat hulle ernstige simptome van COVID-19 kan ontwikkel, en meer gereeld intensiewe sorg moet ontvang 

* Om hoeka, of waterpyp, of hubbly met nat, gegeurde tabak te rook word sterk afgeraai omdat een pyp dikwels met ander mense gedeel word, en dit moeilik is om die pype skoon te maak. Hoeka of hubbly word gewoonlik in groepe gerook wat nie veilige afstande van mense behou nie

   6) Is Daar Medisyne vir COVID-19?

   Die meeste mense wat ligte tot matige COVID-19 opdoen, herstel gewoonlik vanself volkome binne tien (10) tot veertien (14) dae. Ander gevalle ervaar weer simptome etlike maande lank nadat hulle nie meer besmet of aansteeklik is nie. 

Die Wêreldgesondheidsorganisie (WGO) beveel nie enige medisyne aan om COVID-19 self te behandel, te voorkom of genees nie, insluitende antibiotika. 

    Hierdie artikel was saamgestel en geskryf deur Anya Namaqua Links: anyalinks@gmail.com. Die foto hierby was verskaf deur iStock.  

   Lees hier, verder (in Engels): 

1)  Coronavirus disease (COVID-19), World Health Organisation (WHO)https://www.who.int/emergencies/diseases/novel-coronavirus-2019/coronavirus-disease-answers?adgroupsurvey=%7Badgroupsurvey%7D&gclid=Cj0KCQjw2tCGBhCLARIsABJGmZ5w0eEPxRdEXnFx2SFbiXF6abLU2IyDPb85DgU2Sttx6e8KVWz6oGkaAn44EALw_wcB&query=symptoms+of+covid+19&referrerPageUrl=https%3A%2F%2Fwww.who.int%2Femergencies%2Fdiseases%2Fnovel-coronavirus-2019%2Fcoronavirus-disease-answers 

2) Coronavirus disease (COVID-19) Advice for the Public, World Health Organisation (WHO): https://www.who.int/emergencies/diseases/novel-coronavirus-2019/advice-for-public?gclid=Cj0KCQjw2tCGBhCLARIsABJGmZ6zJVcIOD5Jf82PaS6d8EImZMLvWLTlAgueEN26qWBke4RwdqsaajMaAqPlEALw_wcB 


Opmerkings