Gesondheid: Hoe om met Kinders te Praat oor COVID-19

   Winter in Namibië is gewoonlik die seisoen vir griep en verkoue maar sedert verlede jaar, 2020, is 'n aansteeklike nuwe siekte ook nou in ons land: COVID-19.

   Sanet Steenkamp, die uitvoerende direkteur van die Ministerie van Onderwys, Kuns, en Kultuur, het Maandag, die 7de Junie, 2021, aangekondig dat agt (8) skole in die Khomasstreek, tot dusver, en twintig (20) landwyd, moes sluit as gevolg van toenemende COVID-19 gevalle. Sy het gesê nog skole sal na verwagting in die nabye toekoms sluit om die verspreiding van die wierus te voorkom en dat 165 onderwysers positief getoets het vir COVID-19.

   Namibiese ouers wat seker wil maak hul kinders beskik oor die regte inligting in verband met COVID-19 word aangemoedig om die volgende gesprekke met hul kinders te voer:

   1) Vind uit wat jou kind weet

   Afhangende van die kind(ers) se ouderdom, kan ouers deur middel van vrae vasstel wat hul kinders gehoor het, wat hulle glo, en wat hulle dink van COVID-19. Vrae soos: ''Wat het jy / julle van die koronawierus gehoor?'' en ''Het jy / julle enige vrae oor die wierus wat in omloop is?'' Oop vrae bevorder gesprek en die uitruil van inligting sodat ouers presies kan peil wat hul kinders weet, en nie weet nie, van die siekte.

   *Hou die kind(ers) se lyftaal dop. Sommige sal saam gesels en andere sal nie belangstelling toon of vrae vra nie. Dis belangrik om in gedagte te hou dat COVID-19 inligting-uitputting plaasvind wanneer mense (en kinders) herhaaldelik iets hoor en uitgeput of moeg word daarvoor. Dit kan ook wees dat die kind(ers) angs ervaar in verband met COVID-19. 

   2) Wees eerlik maar gerusstellend

   Die ouer(s) moet hul kind(ers) gerusstel maar ook eerlik wees. Diepdelwende gesprekke met ingewikkelde mediese terme is onnodig. As die kind(ers) iets vra en die ouer weet nie die antwoord nie, sê liewer so. Moenie die verkeerde inligting oordra nie. Hierdie is 'n gulde geleentheid vir die ouer(s) om antwoorde te soek en die regte inligting op 'n latere stadium aan die kind(ers) oor te dra. 

   *Die ouer(s) word aangeraai om op hul eie persberigte te lees en mediese webwerwe te besoek om hul kind(ers) se vrae te beantwoord, sonder dat die kind(ers) aankondigings en verslae van stygende sterftesyfers, of die daaglikse dodetal, sien.

   Wees vriendelik, kalm, en gerusstellend. Kinders het skerp ore en sintuie, en kan vinnig aflei wanneer iemand kwaad, gespanne, of bekommerd is, wat aanleiding gee tot angs en vrees. 

   Kinders word ook soms bekommerd en dis belangrik dat hulle die vryheid en geleentheid gegun word om daaroor te praat. Laat hulle toe om vrylik oor COVID-19 te gesels en help hulle reg met 'n kalm, gerusstellende stemtoon.

   3) Moenie toelaat dat hulle magteloos en oorweldig voel nie

   Elke kind moet haar / sy eie masker hê en moet geleer word hoe om deeglik hul hande te was, en om ontsmettingsmiddele te gebruik. Dit is belangrik hulle besef hulle het ook beheer en dat hulle nie magteloos teen COVID-19 is nie. Maak hulle bewus daarvan om altyd hul maskers te dra en hande te was om die verspreiding van die wierus te voorkom. BB (baie belangrik): Alhoewel dit baie moeilik vir kleiner kinders is om afstand te hou van mekaar, hul ouers, en familielede, verstaan ouer (groter) kinders en tieners veilige, gesonde afstande.

   Wees daarop bedag dat kinders vinnig tot gevolgtrekking kom. Sodra iemand siek word, ongeag die siekte, sal hulle maklik aan almal wat belangstel verkondig dat so-en-so COVID-19 of ''korona'' het. Dit kan kommer en paniek veroorsaak. Verskaf kinders altyd met die regte inligting, en ook die naam van 'n siekte, sodat ouers nie aan die wêreld moet loop en verduidelik nie wat eintlik fout is met iemand.

   Skoolgaande kinders kan in verbinding bly met ouer familielede, tantes, ooms, hul oupas en oumas, deur middel van Whatsapp video-oproepe. Op hierdie manier kan hulle hul familielede sien en ook met hulle gesels, ingeval enigiemand COVID-19 opdoen en in afsondering moet verkeer, en veral wanneer ouer familielede kroniese siektes het en nie ingeënt kan word nie. Deur kinders toe te laat om gereeld met hul familielede te gesels en om hulle te sien, sal hulle gerusstel.

   4) Hou die gesprek aan die gang

   Die ouer(s) moet gereeld hul kind(ers) vrae vra in verband met COVID-19 om hulle op hoogte te hou van nuwe verwikkelinge, sonder onnodige besonderhede. Dit is 'n goeie idee om kinders daarvan te verseker dat almal, insluitende die regering, besig is om die verspreiding van hierdie nuwe siekte te beveg sodat hulle nie angstig en onseker oor die toekoms word nie.

   Kinders moet in kennis gestel word dat hul eie liggame en immuunstelsels hulle beskerm, so ook maskers en ontsmettingsmiddele, en dat dokters, verpleegsters, en alle hospitale siek mense versorg.   

   Die gevolg hiervan is dat kinders graag oordra wat hulle geleer het en op hierdie wyse sal die regte inligting wat hul ouers aan hulle verskaf het, heel waarskynlik aan hul maatjies oorgedra word.

   Beskerm jou gesin, jou gemeenskap, jou land. 

   Hierdie artikel was geskryf deur Anya Namaqua Links: anyalinks@gmail.com. Die foto hierby van 'n pa en dogter was in Februarie 2021 by Ruimte Laerskool te Rehoboth, Hardapstreek, Namibië, geneem.

 

Opmerkings