Kommentaar & Kritiek: Die Gesondheidsowerheid se Teleurstellende Kommunikasie met Namibiërs

   Die krisis waarin die Ministerie van Gesondheid en Welsyn hom tans bevind met betrekking tot wanopvattinge rondom entstowwe, beklemtoon die regering se swak, teleurstellende Covid-19-kommunikasie.

   Vrydag, die 18de Junie, 2021, het Namibië die eerste drie (3) maande mylpaal behaal sedert die aanvang van sy nasionale inentingsveldtog teen Covid-19, en hier moet ons eerlik en reguit sê die Namibiese gesondheidsowerheid se kommunikasie rondom entstowwe is, tot dusver, uiters teleurstellend.

   Die gesondheidsowerheid se amptelike reaksie op wanopvattinge oor Covid-19-entstowwe, wat sosiale media oorstroom en besoedel, is ondeursigtig, onsamehangend, en, oor die algemeen, van swak gehalte.

   G'n wonder so baie mense glo leuens en samesweringsteorieë oor entstowwe nie.

   G'n wonder daar is huiwering en agterdog teenoor entstowwe nie.

   G'n wonder 'n onlangse opname deur Afrobarometer het bevind dat byna twee-derdes van Nambiërs glo dat gebed Covid-19 sal verslaan.

   G'n wonder NANU (Namibian Nurses Union), die verpleërvakbond wat die voorlyn teen Covid-19 moet verdedig, het 'n maand na die aanvang van die nasionale inentingsveldtog verklaar dat 'n oorgrote meerderheid verpleegkundiges entstowwe met agterdog bejeën en hulle nie teen COVID-19 wil inent nie.

   En, g'n wonder sommige dokters gee hul pasiënte verwarrende inligting, sommige versprei selfs onwaarhede oor entstowwe, en ondersteun hulle onbeproefde, moontlike skadelike behandelings nie. 

   Namibië ondervind tans 'n dodelike derde vlaag en ons moes al teen hierdie tyd duidelike kommunikasie en toeganklike inligting ontvang het in verband met Covid-19-entstowwe. 

   Dit is uiters waarvoor die Wêreldgesondheidsorganisasie uitdruklik op die 11de Junie, 2021, gevra het, in 'n verklaring gerig aan alle gesondheidswerkers, wêreldwyd: ''Duidelike en betroubare kommunikasie is belangrik om mense te help die keuse maak om ingeënt te word.''

   Te oordeel aan die heersende verwarring, is dit baie duidelik dat daar nie 'n omvattende kommunikasieveldtog vir die Namibiese gesondheidsektor geformuleer was nie, vir private sowel as openbare gesondheidswerkers, sodat almal dieselfde boodskap oor die huidige gesondheidskrisis, en Covid-19-entstowwe, aan die publiek oordra.

   En, dit is nie asof die gesondheidsowerheid nie genoeg tyd gehad het nie om 'n omvattende, samehangende strategie en inligtingsveldtog rondom entstowwe te beplan nie, want die inentingsveldtog is onlangs eers, op die 18de Maart, 2021, van stapel gestuur.

   Vroeg in Oktober verlede jaar, 2020, in 'n bespreking oor entstowwe, het Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur van die Ministerie van Gesondheid en Welsyn, en die ministerie se Covid-19-taakspan, bevestig dat hulle aan 'n kommunikasie strategie en veldtog werk rondom entstowwe. Wat het daarvan geword? 

   DIT WAS AGT (8) MAANDE GELEDE; ses (6) maande voordat die nasionale inentingsveldtog afgeskop het. Wat het van daardie kommunikasie strategie en veldtog geword? Waarom is dit nooit geimplementeer nie? 

   Noudat die derde vlaag verwoesting saai en die getalle laat lyk hulle sleg, wil die gesondheidsowerheid mense dreig; mense wat vir langer as 'n jaar blootgestel is aan leuens, onwaarhede, en samesweringsteorieë teen Covid-19-entstowwe. Die gesondheidsowerheid het oorgenoeg tyd gehad om die inligtingsruimte te oorstroom met boodskappe wat hierdie tsoenami van leuens op Whatsappgroepe en sosiale media doeltreffend sou teënstaan. 

   Ons wil nie ons eie beuel blaas nie maar ons het hulle gewaarsku. 

   Byna 'n jaar gelede, in Julie, 2020, het ons in 'n voorlegging aangeraai dat: 

   ''...die Namibiese gesondheidsowerheid noodkommunikasiemaatreëls en meganismes moet daarstel om vroegtydig, toepaslik, toeganklik, en deurlopend met mense te kommunikeer, vanlyn en aanlyn, alle feite, ontwikkelinge, en ander belangrike gesondheidsverwante inligting, veral tydens 'n openbare gesondheidskrisis, soos die Covid-19-pandemie.

   ''Net so moet die betrokke regeringsowerhede, soos die Ministerie van Inligting- en Kommunikasietegnologie in samewerking met openbare gesondheidsowerhede en die staatsmedia, ook doeltreffende krisis- en noodkommunikasie meganismes en strategieë daarstel om waninligting voor te spring en betyds teë te werk.''

   Dit het nie gebeur nie. 

   Kyk rond...wat ons nou aanskou is die werklike gevolge van onbetwiste leuens en onwaarhede. 

   Hierdie is die gevolge van 'n ''waninligtingspandemie''.

   Dit moes, en kon, regtig baie beter hanteer word.

Foto: Mnr. Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur van die Ministerie van Gesondheid en Welsyn (Namibian Sun). Hierdie kommentaar en kritiek is deur Frederico Links, die redakteur en hoofnavorser by Namibia Fact Check, ook 'n navorser by die Institute of Public Policy Research (IPPR), geskryf.

   Lees die oorspronklike artikel hier, in Engels: https://namibiafactcheck.org.na/news-item/comment-health-communication-confusing-messaging-misinforms/?fbclid=IwAR2w_wz2eCC11VDwp3jxc_dp0YkfR3hz5Nz9g3PxmFfzeXS5Q32C5zprfbs 

   Lees hier, verder: 

1) Namibians worried about Covid-19 impacts but believe prayer is more effective than vaccines, Afrobarometer survey findshttps://afrobarometer.org/press/namibians-worried-about-covid-19-impacts-believe-prayer-more-effective-vaccines-afrobarometer 

2) Union says nurses skeptical of Covid vaccineshttps://www.namibian.com.na/210751/archive-read/Union-says-nurses-skeptical-of-Covid-vaccines 

3) Statement for healthcare professionals: How Covid-19 vaccines are regulated for safety and effectivenesshttps://www.who.int/news/item/11-06-2021-statement-for-healthcare-professionals-how-covid-19-vaccines-are-regulated-for-safety-and-effectiveness 

4) #AskTheExperts, episode 3, Mr. Ben Nangombe and his team of experts respond to questions about Covid-19https://www.youtube.com/watch?v=M83c3YwwA5o 

5) Countering the ''Disinfodemic'': Namibian Social Media and Covid-19 Disinformation, Links, Frederico, Issue 1, July 2020: https://ippr.org.na/wp-content/uploads/2020/07/COVID_PAPER1_disinfo.pdf 

     

Opmerkings