Operasie S: Die Opspraakwekkende Gevallestudie van Serrana en Sinovac

   ''Dit is die eerste studie van sy soort ter wêreld,'' het Dimas Covas, die direkteur van die Butantan-instituut, op 'n perskonferensie aan die einde van Mei, 2021, gesê. ''Hierdie is werklike data oor die gevolge van inenting op 'n bevolking wat die owerhede daarmee sal help om openbare beleid te formuleer.''

   Die Butantan-instituut is die vervaardiger van CoronaVac in Brasilië. In ander dele van die wêreld staan CoronaVac bekend as die Sinovac COVID-19-entstof wat deur die Sjinese maatskappy, Sinovac Biotech Ltd., ontwikkel is. Fase III van CoronaVac se toetse en proewe het in Brasilië, Tjille, Indonesië, die Filipyne, en Turkye plaasgevind. 

   As gevolg van hoë temperature in tropiese lande soos Brasilië en Indonesië, is CoronaVac die ideale entstof omdat dit nie benodig om gevries te word nie, en beide die entstof en sy bestanddele vervoer en gestoor kan word in yskaste tussen 2 - 8 °C, dieselfde temperature waarteen griep-entstowwe tans gestoor word.

   Die Sjinese entstof, wat op die tradisionele manier vervaardig word, met ander woorde, 'n onaktiewe vorm van die wierus word ingespuit om die immuunstelsel te stimuleer, was vroeër vanjaar hewig gekritiseer omdat sy proewe in Brasilië, Turkye, en Indonesië gewys het die doeltreffendheid van die entstof wissel tussen 50 - 90%. Boonop het Sinovac Biotech Ltd. en sy proefvennote, soos die Butantan-instituut, verkies om nie die entstof se wisselende doeltreffendheid aan te spreek nie, wat kritiek en twyfel aangewakker het.

   Ten spyte daarvan is Sinovac Biotech Ltd. daartoe in staat om 2 miljard dosisse entstof te vervaardig en het die maatskappy, teen April, 2021, reeds meer as 600 miljoen dosisse wêreldwyd afgelewer. Fase III van CoronaVac se resultate in Brasilië het 'n doeltreffendheid van 50.7% getoon om COVID-19-aansteking (met simptome) te verhoed, en was dit 83.7% effektief daarin om die ontwikkeling van ligte gevalle van COVID-19 (wat behandeling benodig) te verhoed. Die entstof se doeltreffendheid teen simptomatiese COVID-19 het tot 62% gestyg, een-en-twintig (21) dae of langer, tussen dosisse. CoronaVac se derde fase (Fase III) uitslae in Turkye, wat in Maart vanjaar aangekondig was, het 'n algehele doeltreffendheid van 84% getoon. 

   Wat, presies, het dan in Serrana gebeur?

   Die drie (3) lande met die meeste gevalle COVID-19 ter wêreld, op die oomblik, is die Verenigde State van Amerika (VSA) met meer as 33,5 miljoen gevalle en 600, 000 sterftes, tweede op die lys is Indië met meer as 29,6 miljoen gevalle en 380, 000 sterftes, en derde is Brasilië met meer as 17,5 miljoen gevalle en 490, 000 sterftes. Te oordeel aan die getalle, is dit duidelik dat Brasilië se sterftesyfer hoër is as Indië s'n, en die tragiese rede daarvoor is wierusstamme.  

   Die Brasiliaanse regering se grootste uitdagings met die COVID-19-pandemie is sy stadige inentingsveldtog wat gekniehalter word deur die onvoldoende beskikbaarheid van entstowwe, ook 'n gebrek aan landwye koördinasie, met die gevolg dat daaglikse aansteek en sterftessyfers hoog bly, maar dit is veral die ontwikkeling van kommerwekkende wierusstamme, soos P.1 (die sogenaamde ''Gamma'' van SARS-CoV-2), wat verlede jaar in die Brasiliaanse stad, Manaus, ontstaan het en tans genadeloos onder die plaaslike bevolking versprei. 

   P.1 is hoogs aansteeklik en die moontlikheid dat wierusdraers daarvan sal sterf is aansienlik hoër as die P.2 wierusstam, wat ook in Brasilië ontwikkel het. Dis egter kommerwekkend dat die P.1 geslagslyn reeds twee (2) nuwe wierusstamme, onafhanklik van mekaar, ontwikkel het en tans in buurlande en Noord-Amerika versprei.

   Serrana is 'n dorp in die provinsie van Sao Paulo, Brasilië, met ongeveer 45, 600 inwoners. Dit word 'n ''slaapdorp'' genoem vanweë sy pendelgemeenskap; met ander woorde, inwoners wat nie in die dorp werk nie maar wel in omliggende dorpe en stede, en wat daagliks werk toe en terug pendel om by hul huise te slaap. 

   As gevolg van sy pendelgemeenskap, het Serrana tot onlangs nog 'n aansteeksyfer van 5% gehad, ongeveer 2, 275 gevalle, daagliks, wat een van die hoogste syfers in Brasilië was. Die stadsraad en inwoners was radeloos want op daardie stadium was slegs 10% van die land se bevolking teen COVID-19 ingeënt. 

   ''Aan die begin van hierdie jaar het ons geweldig onder COVID-19 gely. Dit het ons baie swaar getref,'' het die burgemeester van Serrana, Leonardo Capitelli, gesê. ''Ons klein gesondheidstelsel en geriewe het vinnig in duie gestort. Dit was asof 'n donker wolk oor die dorp gehang het.''

      Serrana is naby Sao Paulo se Universiteit van Geneeskunde geleë en daarom het navorsers aan die universiteit, in samewerking met die Butantan-instituut, die dorp gekies vir 'n gevallestudie genaamd ''Operasie S''. 

   Volgens Dimas Covas, die direkteur van die Butantan-instituut, en Marcos Borges, die hoofnavorser vir Operasie S, was die plan aanvanklik om 'n groot aantal inwoners, ongeveer 75% van die volwassenes, teen COVID-19 met CoronaVac in te ent om die entstof se doeltreffendheid te toets en om vas te stel hoe gou groepsimmuniteit (Eng. ''herd immunity'') sal ontwikkel. 

   Hul het die trap-wig metode gebruik en die dorp in 25 kleiner gebiede verdeel met vier (4) groot bevolkingsgroepe, wat die CoronaVac-entstof in opeenvolgende weke vanaf Februarie tot April, 2021, ontvang het. Volwassenes het die volle dosis, of twee (2) dosisse, van die entstof ontvang. Deur die inentings opeenvolgend te skeduleer, volgens gebied en bevolkingsgroep, het die navorsers in staat gestel om elke groep met die vorige groep te vergelyk, en elke gebied te vergelyk met die vorige gebied.

   ''Teen die tyd wat die derde bevolkingsgroep die tweede dosis entstof ontvang het, of 75% van die bevolking, het ons agtergekom dat die aansteeksyfer regoor die dorp onder beheer was,'' het Ricardo Palacios, hoof van mediese navorsing by die Butantan-instituut, gesê en daarop gewys dat wye inenting, indirek, selfs nie-geïmmuniseerde bevolkingsgroepe, soos kinders en tieners, beskerm. 

   ''COVID-19-gevalle onder mense wat nie die entstof ontvang het nie, het afgeneem wat bewys die verspreiding van die wierus het ook onder die teiken bevolkingsgroepe afgeneem.'' Palacios het bygevoeg dat die inenting van die volwasse bevolking daartoe gelei het dat COVID-19-gevalle onder kinders en tieners ook afneem.

   Alhoewel die volledige uitslae van Operasie S (Eng. ''Project S'') na verwagting eers aan die begin van Julie, 2021, bekend gemaak sal word, lyk dit tot dusver belowend: sterfgevalle in Serrana het met 95% verminder, hospitaalopnames het 86% gedaal, simptomatiese COVID-19-gevalle het met 80% afgeneem. Volgens Palacios was die deurbraak dat 75% van die volwassenes ingeënt was, wat dan ook die wierus in Serrana onder beheer gebring het.

   En, alhoewel daar vroeër vanjaar omstredenheid oor sy wissellende doeltreffendheid was, het die CoronaVac-entstof ander navorsers en entstofvervaardigers verstom met sy doeltreffendheid in Serrana, veral teen die P.1 (Gamma) en P.2 wierusstamme. Daarby was geen klagtes van ernstige newe-effekte teen die entstof geregistreer nie, en was daar ook geen COVID-19-verwante sterfgevalle onder diegene wat weer veertien (14) dae na die tweede dosis ingeënt was nie.

   Hierdie voorlopige uitslae uit Serrana is belangrik vir ontwikkelende lande soos Namibië, wat ook 'n tradisionele Sjinese entstof, deur Sinopharm ontwikkel, deel van sy inentingsveldtog teen COVID-19 gemaak het. Namibië het tot dusver een (1) tradisionele entstof, Sinopharm, en een (1) wierale (of virale) oordragsagent-entstof, Covishield se (OxfordAstraZeneca, aan sy bevolking beskikbaar gestel. 'n Soortgelyke gevallestudie met die (Oxford) AstraZeneca-entstof wat deur die Fiocruz-instituut in Brasilië vervaardig word, is onlangs van stapel gestuur in 'n ander Brasiliaanse stad, Botucatu, wat ongeveer 148,000 inwoners het. 

   Burgemeester Capitelli vertel dat die twee (2) hospitale op die dorp nie meer onder druk is nie. ''Ons sien nou 'n Serrana voor en na Operasie S. Ons plaaslike ekonomie groei weer, nuwe maatskappye stel daarin belang om hier te belê, ons inwoners het weer hul ou lewens terug, en elke dag word dinge beter.''

   Omdat die provinsiale hoofstad, Sao Paulo, en die omliggende dorpe steeds gebuk gaan onder COVID-19, en die Brasiliaanse regering daarmee sukkel om genoeg entstowwe aan provinsies te verskaf, bly maskers steeds op baie gesigte in Serrana. Die regering se gesondheidsmaatreëls, soos die behoud van veilige afstande, beperkinge op byeenkomste, ontsmetting, en maskers, is steeds van krag op die dorp, en word toegepas.

   Serrana is amper weer sy ou self; 'n slaapdorp met 'n pendelgemeenskap. Die haarsalonne en restaurante is weer oop en besig, die atmosfeer op die dorp is ontspanne.

   ''Alles is eintlik nou weer oop, en die atmosfeer is soveel anders, ligter en vreugdevol, as tevore. Ons voel veilig hier maar vir die dorpe rondom ons is COVID-19 steeds 'n uitdaging,'' het Ricardo Luiz, die eienaar van 'n bekende restaurant gesê.

    Operasie S sal nietemin voortgaan vir 'n jaar, tot Februarie, 2022, waartydens navorsers die vier (4) bevolkingsgroepe noukeurig sal monitor. Hulle hoop dat CoronaVac sy doeltreffendheid tot dan sal behou ten spyte van wierusstamme wat geneig is om veral onder oningeënte bevolkingsgroepe te ontstaan. Bowenal, hoop hulle dat Serrana sy oorwinning oor COVID-19 vir 'n lang tyd sal geniet.

   Geskryf deur Anya Namaqua Links: anyalinks@gmail.com. Links is 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep, 'n maatskaplike navorser en skrywer. Hierdie foto van 'n ouma, moeder, en kinders in Serrana, Brasilië, was deur Associated Press (AP) geneem.

   ErratumDie Oxford / AstraZeneca-entstof is nie 'n bRNS (boodskapper ribonukleïensuur) entstof soos voorheen aangedui in hierdie artikel nie; dit is 'n wierale (of virale) oordragsagent-entstof. 

   Lees hier verder oor die Serrana-gevallestudie: 

   1) How a Vaccination Experiment known as ''Project S'' Transformed One Small Brazilian Cityhttps://edition.cnn.com/2021/06/06/americas/serrana-vaccination-experiment-intl-latam/index.html 

   2) Sinovac Shot Controls COVID in Brazil Town after 75% Coveredhttps://www.bloomberg.com/news/articles/2021-05-31/sinovac-shot-controlled-covid-in-brazil-town-after-75-covered 

   3) Brazil COVID: Deaths Plunge after Town's Adults Vaccinatedhttps://www.bbc.com/news/world-latin-america-57309538  

   4) Mass Vaccination Creates Healthy Oasis in Brazilian Cityhttps://www.reuters.com/world/americas/mass-vaccination-creates-healthy-oasis-brazilian-city-2021-05-31/      

 



 


 

Opmerkings