Wêreldnuus: Onwettige Immigrante Koop COVID-19 Behandelings op Swartmark (V. S. A.)

   Volgens 'n verslag, wend onwettige immigrante in die V. S. A. hulle tot die swartmark om onbeproefde behandelings vir COVID-19 te koop, onder andere 'n middel vir die ontwurming van beeste en perde, omdat hulle nie toegang tot gesondheidsdienste het nie.

   Almal wat in die V. S. A. woon mag gratis 'n COVID-19-entstof kry, het die Amerikaanse Departement van Binnelandse Veiligheid onlangs gesê, maar volgens 'n verslag in The New York Times, is dit moeiliker vir sommige mense in daardie land om behandeling vir COVID-19 te kry, as vir ander. 

   Volgens die verslag spandeer onwettige immigrante derduisende dollars op onbeproefde COVID-19-behandelings omdat hulle nie toegang tot gesondheidsdienste het nie. 

   Die Times het berig hierdie behandelings sluit in medisyne vir malaria, penisillien, 'n teen-parasiet middel wat beeste en perde ontwurm, en kruiemengsels wat op die swartmark verkoop word. 

   Gesondheidswerkers en kampvegters het aan die Times vertel dat veral mense wat nie mediese fondse en versekering het nie, hulle tot alternatiewe COVID-19-behandelings wend. Sommige bejeën ook die regering en gesondheidswerkers met agterdog omdat taal 'n probleem is. 

   ''My gemeenskap is bang die regering wil van ons ontslae raak,'' het Oralia Maceda Mendez aan die Times gesê. Mendez is 'n kampvegter vir die regte van inheemse mense uit Oaxaca (uitspr. wha-ga-ka), Mexico (uitspr. mê-gie-koh), en woon in Fresno, Kalifornië

   Sy het gesê sommige onwettige immigrante probeer die wierus op hul eie behandel met penisillien, antibiotika, of vitamiene- en kruiemengsels wat reisigers in Mexico gekoop het.

   ''Ek is glad nie verbaas dat mense uitgebuit word nie,'' het sy ook gesê. ''Ons het nie die nodige gesondheidsdienste nie.'' 

   Die Amerikaanse Administrasie vir Voedsel- en Medisyne (AVM) en die Federale Handelskommissie het tot dusver honderde besighede gewaarsku teen ''gesondheidsverwante COVID-19-swendelary'', is onlangs bekend gemaak. Enigiemand wat ''bedrieglike aansprake met betrekking tot die behandeling, genesing of voorkoming van COVID-19 maak'' kan boetes van tot U$D 43,792 (meer as N$ 620,000) opgelê word, vir elke oortreding.

   Die Times het berig dat verkopers en verskaffers by 'n vlooimark in Fresno ''medisyne'' verkoop om COVID-19 te behandel, sonder enige mediese bewyse. Dit sluit in die teen-parasiet middel, Ivermectin, wat gebruik word om beeste en perde te ontwurm en 'n vlaag vergiftigings aan die begin van die pandemie veroorsaak het, toe mense dit gebruik het om die wierus self te probeer behandel. 

   Die Fresno-vlooimark het ook hidroksiklorokien verkoop, 'n malaria medisyne wat deur Donald Trump, die voormalige Amerikaanse president, ondersteun was voordat die AVM dit herroep het, en deksametasoon, 'n steroiede wat Trump glo gebruik het terwyl hy besig was om te herstel.

   Dit is ''teleurstellend maar nie verbasend nie'' dat mense met lae inkomste soveel geld op sulke behandelings bestee omdat hulle ''desperaat is en oorweldig word met verkeerde inligting oor die wierus'', het Rais Vohra, die waarnemende hoof van die Fresno provinsiale gesondheidsdepartement gesê

   Sandra Celedon, die voorsitter van Fresno Building Health Communities, het weer vertel dat baie Latyns-Amerikaanse immigrante met lae inkomste gesê het hulle het hul spaargeld op onbeproefde vitamiene- en kruiemengsels, en peptiedterapieë gespandeer. Sommige ''medisyne'' het meer as 'n U$D 1,000 (of, meer as N$ 14,000) gekos. 

   ''Hierdie mense is die armste van armes, en tog vra hierdie dokters steeds kontant vir hul onbeproefde behandelings,'' het Celedon bygevoeg.

   Die verslag het ook genoem dat selfs wanneer die behandeling nie gevaarlik is nie, dit mense vertraag om professionele hulp te soek, dikwels tot dit te laat is. 

   Soortgelyke behandelings kan ook beperk watter soort behandeling dokters 'n pasiënt kan gee as gevolg van newe-effekte en teenwerking met ander medisyne, het dr. Kathleen Page, 'n spesialis op die gebied van aansteeklike siektes by die Johns Hopkins Universiteit van Geneeskunde in Baltimore, aan die Times gesê. Onwettige immigrante uit Mexico en sentraal Suid-Amerika wat noodhulp by die hospitaal kom soek vertel dikwels dat hulle reeds ''behandeling'' ontvang het soos vitamiene, antibiotika, en tuisgemaakte medisyne. 

   Hierdie artikel was oorspronklik geskryf deur Grace Dean vir Business Insider, 22 Junie, 2021 (lees dit hier in Engels): https://www.businessinsider.com/undocumented-immigrants-unproven-covid-cures-malaria-drugs-penicillin-treatment-health-2021-6?utm_source=facebook.com&utm_medium=social&utm_campaign=sf-bi-uk&fbclid=IwAR3umzsY5aTeVsTNbu2m_4P9iaXwTb30zgZfPEMH3Tdil_kzHQXjk3JNZMk 

   Die vertaling uit Engels was behartig deur Anya Namaqua Links: anyalinks@gmail.com. Die foto hierby is van Shutterstock

   Lees hier, verder: 

1) Why You Should Not Use Ivermectin to Treat or Prevent COVID-19https://www.fda.gov/consumers/consumer-updates/why-you-should-not-use-ivermectin-treat-or-prevent-covid-19 

2) Ivermectin: Why a Potential COVID Treatment isn't Recommendedhttps://www.gavi.org/vaccineswork/ivermectin-why-potential-covid-treatment-isnt-recommended-use?gclid=CjwKCAjwt8uGBhBAEiwAayu_9QNWJY9Q4cfhuPOlA1OuSmcCydXhK-bt_Kndv_Lusy79WOAYgNworhoCUuQQAvD_BwE 




  

  


 

        

     

 

Opmerkings