Briewe: 'n Wêreldwye Skema om Geweld teen Vroue te Bekamp deur Antonio Guterres

   Terwyl die wêreld worstel met die aanslag en gevolge van COVID-19, bedreig 'n synsgelyke en grusame pandemie die helfte van die wêreld se bevolking. Reeds in die vroeë maande van die pandemie het die Verenigde Nasies (VN) met kommer voorspel dat kwarantyn en grendels heel moontlik 'n ontstellende 15 miljoen bykomende gevalle van geslagsgeweld, elke kwartaal, tot gevolg kan hê. Dit lyk, ongelukkig, asof daardie voorspelling 'n werklikheid geword het.

   Hierdie week vergader verskeie leiers in Parys, en aanlyn, vir die Generation Equality Forum om 'n dringende beroep vir geslagsgelykheid. By hierdie vergadering wil ek 'n beroep doen op lande, maatskappye, en individue om deel te neem aan 'n wêreldwye onderneming, met beproefde uitslae, om die vrees en onsekerheid wat die gesondheid, menseregte, menswaardigheid, en lewens van vroue en tienervroue bedreig, te beëindig.

   Vanaf gesinsgeweld tot seksuele uitbuiting, mensehandel en slawerny, kinderhuwelike, vroulike geslagsverminking, en aanlyn-teistering, gewelddadige vrouehaat floreer in die skaduwee van die COVID-19-pandemie. 

   Om die volledige syfers en data in te samel en beoordeel vat tyd maar die koers se tendens is duidelik. In twaalf (12) lande wat deur die Verenigde Nasies gemonitor word, het die aantal voorvalle van geweld teen vroue en tienervroue wat by verskeie instansies aangemeld was met 83% tussen 2019 en 2020 gestyg, en sake by die polisie met 64%.

   In die vroeë maande van die pandemie het oproepe na hulplyne met gemiddeld 60% toegeneem dwarsoor die Europese Unie (EU). Die oproepe na 'n Peroewiaanse hulplyn teen seksuele geweld, het byna verdubbel in 2020, in vergeleke met 2019. In Tailand het meer as dubbel die aantal vroue en tienervroue gesinsgeweld eenhede by hospitale besoek, as in 2019. 

   Soortgelyke statistiek en verhale word wêreldwyd waargeneem en dra by tot 'n aanwesige epidemie van geweld teenoor vroue en tienervroue. Voor die aanvang van die COVID-19-pandemie, het die Verenigde Nasies geskat dat een (1) uit elke drie (3) vroue geweld van mans in hul leeftyd sal ervaar. 

   Meer as 'n jaar gelede het ek baie bekommerd geraak. Ek het gevra vir 'n wêreldwye skietstilstand, om vrede in elke huis, 'n einde aan geweld oral, in strydsones sowel in mense se huise, sodat ons kan verenig in die stryd teen COVID-19, die mensdom se gemeenskaplike vyand.

   Meer as 'n 140 lande het hul ondersteuning daarvoor gegee. Ongeveer 800 maatreëls is deur 149 lande aanvaar en toegepas, waarvan die meerderheid op die verskaffing van skuiling, regshulp, en ander hulpdienste gekonsentreer het. 

   Dis betreurenswaardig dat baie van hierdie maatreëls en verrigtinge beperk en van korte duur was. Nog erger, sommige lande is besig om hul ondersteuning daarvoor te onttrek, om geregtelike beskerming vir slagoffers terug te trek, en staan letterlik op die kantlyn en aanskou hoe vroue en tienervroue, insluitend kampvegters vir menseregte, deur geweld geteiken word.

   Ongelukkig, omdat geweld teen vroue en tienervroue deurtrekkend is en wêreldwyd voorkom, het dit tot die slotsomming gelei dat dit op die een of ander manier ''onvermydelik'' is, en onmoontlik om te beëindig. Hierdie manier van dink en redeneer is skadelik, selfverydelend, en eenvoudig verkeerd. Ondanks die uitdagings van die afgelope jaar, kon die Verenigde Nasies met behulp van finansiële ondersteuning, verskaf deur die Europese Unie (EU), bewys dat verandering wel moontlik is. 

   In die loop van 2020, het die Spotlight Initiative om geweld teenoor vroue en tienervroue te beëindig, merkwaardige uitslae in 25 lande behaal. Vier-en-tagtig (84) wette en beleide om vroue en tienervroue te beskerm was aangeneem en versterk. Die vervolging van oortreders het met 22% toegeneem. Sowat 650,000 vroue en tienervroue het ondersteuning en hulpdienste ontvang, ten spyte van grendelbepalinge en inperkinge op beweeglikheid. Nagenoeg 900,000 mans en tienermans, insluitend stamhoofde, kerkleiers, manlike taxi-drywers, en jong aanlynspelers was betrek om oplossings te help vind. Ook in hierdie lande het die nasionale begrotingstoewysings om te reageer en geweld teen vroue en tienervroue te voorkom met 32% gestyg, wat volhoubaarheid aandui. 

   Die vergadering in Parys, in verband met hierdie beproefde skema, sal seker maak dat daar nie van die volgende geslag tienervroue verwag word om in vrees te lewe omdat ons nie opgetree het nie. Daar sal mettertyd baie lesse geleer word oor wat die wêreld reg gekry en verkeerd gedoen het met die hantering van die COVID-19-pandemie. Een van die eerste lesse moet wees om seker te maak dat hierdie skandelike, verborge pandemie, waaronder die helfte van die mensdom ly, onmiddellik eindig. 

   Antonio Guterres is die negende (9de) Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies (VN). Hierdie foto van hom was geneem deur Jean-Marc Ferre, vir UN Photo. Die vertaling van Guterres se brief in Afrikaans was behartig deur Anya Namaqua Links: anyalinks@gmail.com.      

Opmerkings