Klassieke Khoekhoen Verhale: Die Verbond tussen Khoe, die Jakkals, en die Slang

    Lank, baie lank gelede, in die ou tyd toe Khoen (uitspr. koh-hen) en Dier nog met mekaar kon praat, reis Khoe (uitspr. koh-heh) alleen oor die vlaktes, deur die woestyn.

    Op 'n warm dag sien hy 'n Slang vasgevang onder 'n klip. Hy kry die Slang jammer. 

    Khoe verskuif toe die klip, maar die Slang pik hom! 

    Kort daarna loop Jakkals daar verby; nie per toeval nie want Jakkals het hulle dopgehou.

    Khoe verduidelik aan Jakkals wat met die Slang gebeur het. 

    Jakkals knik sy kop en sê

    ''Ek kan jou help.''

    Khoe stem in.

    Jakkals tel die klip op en plaas dit terug op die Slang sodat hy nie weer vir Khoe pik nie.

    Jakkals draai toe na Khoe en sê

    ''Onthou, ek het jou vandag gehelp en daarom mag ek van jou skape eet.''

***

    Die rooijakkals (Canis mesomelas) is 'n hondagtige roofdier wat in Namibië, Suid-Afrika, Botswana, en Simbabwe woon, met 'n baie kenmerkende roep en 'n groot, wollerige stert. Hondagtige spesies (Canidae) sluit in jakkalse, vosse, wilde honde en wolwe. Rooijakkalse is eintlik nagdiere wat soms ook in die dag opgemerk word. Hulle paar lewenslank en, belangrik, 'n paartjie het 'n permanente gebied waarin hulle woon en werpsels grootmaak. 

    Ongelukkig maak plaasboere gereeld hierdie pragtige roofdiere dood wat belangrike rolle in die plaaslike ekologie speel omdat hulle hoofsaaklik streepmuise, wilde rotte, springhase, ongewerwelde diere (soos insekte en wurms), reptiele (slange), en eiers eet, en hou hulle dus bogenoemde bevolkings, wat vinnig kan aanwas en weiding en oeste kan vernietig, onder beheer.

    Verskeie weergawes van hierdie ou verhaal, met bokke in plaas van skape, word oorvertel in die suide van Namibië. Dit herinner veeboere aan 'n oerverbond tussen Mens (Khoe) en Jakkals wat albei se bestaansreg erken en ook bevestig dat ieder se bestaan tot voordeel van die ander strek; in hierdie geval het Jakkals die Mens gehelp teen die Slang.

    Hierdie foto van 'n rooijakkals was in Etosha geneem.

Opmerkings