'n Huldeblyk aan Gaob Eduard Afrikaner deur Bernardus Clinton Swartbooi

   Terwyl ons weereens 'n dapper en geliefde leier, Gaob Eduard Afrikaner, van die Afrikaner-stamowerheid, ter ruste lê, word ek, die leier van die Landless People's Movement (LPM) en al ons ondersteuners, opnuut hartseer oor sy skielike heengaan.

   Gaob Afrikaner het hoofman van die Afrikanerstam geword, in 2016, en was ook deurentyd 'n lid van die Nama Traditional Leaders Association (NTLA).

   Hy was 'n nederige man, 'n wyse man, stil sterk, en 'n merkwaardige leier. Hy was 'n bate vir beide die Nama-volk en Namibië

   Alhoewel hy altyd sag gepraat het was al sy besluite deurdag en sy toewyding aan sy medemens onberispelik. Hy het diepgaande begrip gehad vir Nama-samelewing, kultuur, en gebruike. 

   Die ontleedkundige wyse waarop hy probleme benader en oplossings gevind het, sy strategiese denkwyse, het herinner aan die ryk geskiedenis en erfenis van die Afrikanerstam. 

   Sy nagedagtenis sal ons altyd met droefheid vul vir 'n waardige leier wat tot met sy laaste asem onverbiddelik en onbaatsugtig vir sy mense opgestaan het, vir die herstelling van hul waardigheid, en om genoegdoening vir die afstammelinge van die slagoffers van die volksmoord. 

   Gaob Afrikaner was van beroep 'n onderwyser, vir baie jare. Hy het vermy om enigiemand onnodig pyn en lyding te veroorsaak, en was bowenal regverdig teenoor almal. Hy was daarop ingestel om sy eweknieë sowel sy ondergeskiktes gelyk te behandel, en dat mense mekaar moet verstaan. 

   Sy afsterwe is 'n groot verlies vir die mense van Namibië, die Afrikaner-stamowerheid, en die volksmoordkomitee. 

   Ons is geëerd en geseënd dat ons die voorreg gehad het om hom te ken want hy was regtig 'n seëning. Namens die LPM betuig ek ons innige meegevoel met sy vrou, familie, en die Namibiese volk. 

   Ons sal nie ophou met die stryd om geregtigheid nie, om herstelling en genoegdoening te eis van die Duitse regering. Ons sal voortgaan en ons stryd verskerp met die wete dat ons mense in Namibië en in die buiteland nooit die ooreenkoms vir ontwikkelingshulp tussen Duitsland en die Namibiese regering sal aanvaar nie, 'n ooreenkoms wat hom voordoen as herstelling en genoegdoening, aangesien sulke ooreenkomste in die verlede nooit die belange van die gemeenskappe wat geteiken was vir uitwissing gedien het nie.

   Ons sal aanhou aandring op herstelling en genoegdoening en die fakkel oorhandig aan die volgende geslag solank as wat die Duitse en Namibiese regerings besluite namens, en sonder die deelname van, die betrokke gemeenskappe maak. 

   Ons voorouers kan nie rus nie. Mag hulle ons bestuur en die pad wys tot die wêreld besef en sien dat Duitsland ons groot verliese toegedien het, en moet betaal vir hul misdade teen ons mense. 

   Mag die edelagbare en sagmoedige siel van Gaob Eduard Afrikaner in ewige vrede rus en aansluit by ons voorouers.

   Hierdie huldeblyk aan Gaob Eduard Afrikaner, geskryf deur die leier van die LPM, het oorspronklik in die New Era-koerant verskyn: https://neweralive.na/posts/tribute-gaob-afrikaner-was-a-leader-of-great-consequence?fbclid=IwAR0bsJG31pMvK1rdoKIkpofxzfcrFk-58EgtiITyaV-Ohz8JCkSEMRzR4HA 

   Die vertaling daarvan is behartig deur Anya Namaqua Links. 

Opmerkings