Die Jakkals en die Druiwetros deur Essop (620 - 564 V. C.)

Mense sal iets wat hulle graag wil hê verkleineer wanneer dit buite hul bereik is.

- Essop (620 - 564 V. C.)

    Eendag sien 'n jakkals 'n tros druiwe hang aan 'n wingerdstok, wat om 'n boom groei. 

    Die druiwe is blink en rond, en die jakkals se mond water terwyl hy vol verlange na hulle staar. 

    Die ryp druiwetros hang van 'n hoë tak in die boom. Die jakkals moet spring om daarby uit te kom. 

    Hy spring die eerste keer maar, nie hoog genoeg nie. 

    Hy stap 'n entjie weg, hardloop terug na die boom, en spring weer maar, steeds nie hoog genoeg nie. 

    Die vasberade jakkals probeer weer en weer om by die druiwetros uit te kom. Hy spring en spring.

    Na 'n ruk gaan sit hy vies onder die boom en kyk op na die druiwe. 

    ''Ek is darem vir jou 'n dwaas,'' sê hy. ''Hier staan en maak ek my moeg vir suur druiwe.''

    Toe loop hy weg. 

***

    Nes 'n vorige verhaal van Essop, die beroemde Griekse slaaf, wat ook op hierdie blog verskyn, word Die Jakkals en die Druiwetros ook aan hom toegeskryf omdat dit goed strook met sy kenmerkende styl.

    Soos voorheen genoem, alhoewel betroubare inligting oor hom nou baie skaars is, het Essop daarin gespesialiseer om doodgewone verskynsels en voorvalle te gebruik om boeiende en treffende verhale te vertel wat tot vandag toe gelees word.

    Daar bestaan ook 'n Afrikaanse spreekwoord wat verband hou met ''suur druiwe'', afkomstig uit Essop se verhaal. Omdat hy nie die druiwe kon eet nie, het die jakkals sy teleurstelling weggesteek deur te sê die druiwe is suur.

    Die begeleidende tekening is die kunswerk van Ninochka (Getty Images).  

Opmerkings

Plaas 'n opmerking