Dis amper einde Augustus, 2013. Winde, tien knope sterk, wat elke oggend opstaan en teen sonsondergang loop lê, waai die blou uit die wolklose hemel, stof so fyn soos poeier hoog op in die lug, en maak die dag grou. As gevolg van die Augustus-winde, is die berge en heuwels op die horison wasig, die sonskyn flou.
Naby Kappsplaas, omtrent 60 meter voor Dordabis se afdraai, staan 'n bakkie in die veld. 'n Ongewone diep wal aan een kant van die B6-hoofweg, soos dit die helling na Windhoek klim, verskuil die voertuig van verkeer wat heen en weer ry.
Op die toneel is polisiebeamptes. Hulle is stil, loop stadig en beurtelings om die bakkie om dit van alle kante te bestudeer. Hul stewels kners met elke tree op die klipperige grond. Een of twee se gesigte frons want voor hulle staan 'n uitgebrande voertuig.
Dit is, of was, 'n wit, langbak, enkelkajuit Isuzu KB bakkie. Hulle soek dit juis.
'n Sterk petrolreuk hang om die voertuig. Die reuk waai in vlae teen hulle, dan vervaard die veld in. Om die bakkie lê swart brandmerke kol-kol op die vaal grond waar die inhalige vuur nóg brandstof gesoek en gras, bosse, los takke verslind het.
Die bakkie se bande is weggebrand; die skag staan op draaiskywe. Die verf het plek-plek gekook, blase gevorm. Die voorruit het in stukkies gebars. Die plastiekskerms van die ligte, die modderskerms bo die wiele, en die voorste buffer het heeltemal weggesmelt. Die kajuit is egter die donkerste; dit lyk soos die binnekant van 'n koolstoof. Die sitplek, paneelbord, en die binneste panele het weggebrand tot op die onderstel.
Die vuur het heel moontlik hiér ontstaan, bespiegel die polisiebeamptes, maar iets lyk nie reg nie...
As gevolg van die woedende hitte in die kajuit het die deur aan die drywer se kant geswel, oopgeswaai, en agter die stuurwiel van sy geliefde bakkie is die verbrande oorskot van Rudolph “Loffie” Rittmann (34).
***
Volgens Christoph, sy bewoë broer, was Loffie 'n hardwerkende, godvresende man wat goeie verhoudinge met sy ouers, familie, en vriende gehandhaaf het.
Hy het sy ouers op die plaas gehelp en hulle ook finansieël bygestaan. Sy moord is 'n geweldige skok vir hulle; albei het beroertes kort na die tyding gehad, en sukkel om sy dood te verwerk.
Loffie se vriende, mans en vroue, het van hom gehou omdat hy opreg was, gemaklik met, en toeganklik vir, almal. Sy vriendelike, opgewekte geaardheid en bereidwilligheid om na andere te luister, en veral sy goeie raad en behulpsaamheid, het respek afgedwing.
Hy was werksamig by die Natiskantore te Gobabis, 'n betroubare en toegewyde werknemer, maar bowenal 'n gesinsman wat lief was vir sy vrou en kinders, uitgebreide familie, die Bybel, die plaas, en sy wit Isuzu-bakkie wat altyd blink skoon en netjies was.
Ten tyde van sy dood was Loffie met Rachel Elizabeth (41) getroud, sewe (7) jaar ouer as hy, en die liefde van sy lewe. Hy wou haar alles gee en kon haar enigiets vergewe. Sy is sjarmant, aantreklik, met 'n weerlose en ongekunstelde selfversekerdheid wat Loffie se hart klein in sy borskas gemaak het. Saam het hulle 'n pragtige dogter, alhoewel albei ook kinders uit vorige verhoudings had.
***
Vrydag namiddag, 23 Augustus, 2013, is Loffie oudergewoonte ná werk weer reguit huis toe. Hy het 'n afspraak met 'n goeie vriend, Ronald*, vir later daardie aand.
By 'n vorige geleentheid het Loffie vir Ronald in sy vertroue geneem en hom meegedeel dat Rachel egbreek pleeg. Ronald kon sien dit pla vir Loffie geweldig. Loffie het ruiterlik erken sy huwelik is onstabiel, hy voel onseker oor alles, en sy kommer en teleurstelling uitgespreek.
Die vorige jaar, in 2012, was Loffie en Rachel vir 'n lang ruk van bed en tafel geskei. Sy het toe in Okahandja gewoon waar sy die bestuurder van 'n kontantleenbesigheid was. Daardie einste jaar het Loffie vermoed sy het 'n buite-egtelike verhouding. Hy was egter nie seker van die feite nie, maar kort voor die einde van daardie jaar het sy hom benoud gebel en gevra dat hy haar in Okahandja moet gaan haal; hy het dit sonder verwyte en vrae gedoen.
Weer terug by hul huis in Gobabis, was Rachel egter gedurig op haar selfoon en aan die einde van 2012, verlaat sy hom wéér. Loffie vind kort daarna uit dat Rachel die verhouding met 'n werknemer van die kontantleenbesigheid, ene Rhyno du Preez (29), voortsit en dat hulle saam woon in Okahandja.
Hartseer en teleurgesteld bel Loffie toe vir Rachel om te vra dat sy haar besittings en goedere uit hul huis in Gobabis moet verwyder, en vroeg in die nuwe jaar, 2013, maak sy toe so, maar keer onmiddellik terug na haar minnaar, Rhyno, in Okahandja.
In Mei, 2013, verneem Loffie egter met skok dat die kontantleenbesigheid in Okahandja vir Rachel oor bedrog en diefstal afgedank het. Hy was weereens nie seker van alle feite nie. Hy het net gehoor dat Rachel glo uit Okahandja “gevlug” het en op daardie tydstip by haar suster in Gobabis woon. Omdat hy nog vir haar omgee, ten spyte van alles, gaan kuier hy haar daar en raak hulle weer versoen nadat sy hom gerusstel dat die gerugte van bedrog en buite-egtelike verhoudinge blote skinderstories is. Nie lank daarna nie, trek Rachel weer by Loffie in.
By die huis is sy egter baie rusteloos en behep met haar selfoon wat vir Loffie agterdogtig maak. Ook reis sy meer gereeld Windhoek toe - waarvoor weet hy nie.
Loffie is weer eens geskok toe die polisie vir Rachel op 11 Augustus, 2013, inhegtenis neem nadat die kontantleenbesigheid in Okahandja 'n saak van bedrog en diefstal teen haar gemaak het. Soos gewoonlik het hy haar geglo toe sy sweer sy is onskuldig, dis net skinderstories. Haar broer moes haar borggeld betaal.
Slegs twee (2) dae na haar vrylating is Rachel weer Windhoek toe, waarom weet Loffie nie, en toe weer op die 19de en ook op die 21ste Augustus, 2013. Haar doen en late is vir hom donker en geheimsinnig, nes die buite-egtelike verhouding met Rhyno, en die bedrog by die werk.
Daardie Vrydagaand, 23 Augustus, 2013, is Rachel darem weer terug by hul huis in Gobabis en amper haar gewone ou self. Loffie is nogal verlig hieroor, veral na die onstuimigheid en skokke van die afgelope jaar. Alhoewel hy haar reg op privaatheid respekteer, pla dit hom tog dat sy pal op haar selfoon bly.
Ná sowat 'n uur by die huis voel Loffie onverklaarbaar moeg; hy kan nie sy oë oophou nie. Hul dogter (12), sy oogappeltjie, slaap daardie aand oor by familie. Die huurder in die buitekamer is hoeka al weg vir die naweek.
Ten spyte van sy afspraak met Ronald, sleep Loffie sy tam lyf na die hoofslaapkamer, skakel die lig af, stryk neer op hy en Rachel se koninggrootte-bed, en verval onmiddellik in 'n donker, droomlose slaap...
***
Tussen 18:00 en 19:00 dieselfde Vrydagaand, onmiddellik nadat Loffie op hul bed aan die slaap raak, bel sy vrou, Rachel Rittmann, vir Rhyno du Preez, haar minnaar, in Windhoek om te sê Rhyno moet dadelik Gobabis toe.
Sonder om twee keer te dink, stem Rhyno in, want dit is juis die oproep waarvoor hy die hele dag wag. Hy het vroeër die dag plastiek kabelbandjies gekoop en N$100 by sy broer, Engelhardt, geleen vir die taxi Klein Windhoek toe vanwaar hy 'n saamry geleentheid kry tot in Gobabis.
Hy en Rachel is die hele pad met mekaar inverbinding en was Rhyno nogal tevrede dat alles tot dusver seepglad verloop, nes hulle beplan het.
Rachel laat weet hom sy het gereël vir haar en Loffie se dogter om daai aand by familie oor te slaap. Sy sê ook vir hom dat sy vir Loffie slaappille ingegee het en dat haar man vas aan die slaap is.
Kort na sy aankoms op Gobabis, gaan Rhyno reguit na Loffie se huis waar hy vir Rachel buitekant voor die hek ontmoet. Sy laat hom in en loop hom vooruit die jaart in, die huis binne, en vra hom om vir eers in die sitkamer te wag. Sy gaan hoofslaapkamer toe waar Loffie lê en slaap, keer terug, en vat vir Rhyno daarheen.
Sonder om die lig aan te skakel, klim Rachel suutjies op die bed, gaan lê op haar kant langs Loffie, en skakel haar selfoon se flitslig aan sodat Rhyno in die donker kan sien terwyl hy Loffie se voete aanmekaar met kabelbandjies vasbind.
Maar Loffie sit skielik regop op die bed en sê hardop: “Daar's iemand in die huis.”
Adrenalien skiet deur sy are en Rhyno beduik vir Loffie. Die twee mans stoei met mekaar. Al is hy lomerig en onder die invloed van slaappille, veg Loffie verbete teen sy aanvaller.
Hulle val van die bed af. Rhyno probeer hom vasdruk maar Loffie baklei terug en stoei om los te kom.
Rhyno besef hy het hom onderskat; Loffie is verbasend sterk.
Toe hy begin moeg word en bevrees Loffie sal hom wen, skree Rhyno op Rachel om vir hom 'n mes te bring. Sy gaan haal 'n mes in die kombuis en gee dit vir hom terwyl hy steeds met Loffie stoei.
Toe probeer Loffie met sy laaste mag en krag om die mes uit Rhyno se hand te verwyder.
Voor Loffie die oorhand kon kry, steek Rhyno hom herhaaldelik in die bors.
Eers toe Loffie ophou beweeg en roerloos op die grond bly lê, staan Rhyno van die vloer af op.
Rachel gee vir hom skoon klere om aan te trek.
Daarna ry hulle saam in Loffie se geliefde Isuzu-bakkie na twee (2) OTMs waar Rachel geld uit Loffie se bankrekeninge onttrek. Sy gee vir Rhyno N$1,500 daarvan en koop tien (10) bottels water by die diensstasie want die dorp had nie water daardie dag nie.
Daarna maak hulle twee die hoofslaapkamer skoon met die water, dra Loffie se lyk na buite en laai hom in die bak saam met bebloede handdoeke en hul bebloede klere.
Rhyno ry alleen Windhoek toe. Rachel bly by die huis in Gobabis.
Net ná Hosea Kutako Internasionale Lughawe stop hy langs die B6-hoofweg, suig petrol uit die bakkie se tenk, laat loop die petrol in 'n leë plastiek bottel in, en sit hy Loffie se liggaam voor in die kajuit, agter die stuurwiel.
Terwyl hy op die lyk se skoot sit, ry Rhyno verder tot duskant die padblokkade naby Kappsplaas, en laat loop die bakkie van die pad af toe geen verkeer in sig was nie, langs 'n diep wal af, soos die B6-hoofweg die helling na Windhoek klim.
Toe die bakkie stilhou, gooi hy petrol uit oor Loffie se liggaam in die kajuit, die bebloede handdoek, klere, die plastiek bottel agter in die bak, steek alles aan die brand, en stap tot by die padblokkade vanwaar hy 'n saamry geleentheid kry Windhoek toe.
Die selfoonrekords wat later as bewysstukke voor die hooggeregshof ingedien is, wys dat Rhyno du Preez en Rachel Rittmann deurentyd met mekaar in verbinding was.
***
Die polisie het vir Rachel Rittmann en Rhyno du Preez 'n week later, op 1 September, 2013, inhegtenis geneem vir die grusame moord op haar man, Rudolph Henry Rittmann.
Hulle is vroeg die oggend saam in die bed verras by 'n huis in Otjomuise, te Windhoek.
Toe hulle om hul name gevra is, het Rhyno die polisie valse name gegee. Rachel het geweier om onder die kombers uit te kom en haar gesig te wys. Sy is egter positief geïdentifiseer deur kommissaris De Klerk van die Namibiese polisie.
Tydens ondervraging het Rachel die polisie ingelig dat Rhyno Loffie uit sy eie vermoor het en dat sy noodgedwonge deel van sy moordadige plan was omdat sy bang vir Rhyno is. Hul verhouding is stormagtig, het sy gesê, hy het haar op 'n vorige geleentheid aangerand.
Toe die polisie vir Rhyno inlig dat Rachel hom van Loffie se moord beskuldig, het hy begin huil en praat. Dit was duidelik sy het hom in die rug gesteek en boonop vreet sy gewete hom op, het hy gesê.
“As dit nie vir haar was nie, het haar man vandag nog gelewe,” het hy later in die hof gesê.
Oppad na Gobabis, tydens die moordondersoek, het Rhyno die polisie langs die pad laat stilhou en vir hulle gewys waar hy sy belt en 'n klomp plastiek kabelbandjies weggegooi het, nie ver vanwaar hy Loffie se liggaam in die bakkie uitgebrand het nie.
Ses (6) jaar later, op 22 Oktober, 2019, het regter Christie Liebenberg vir Rhyno Richardo du Preez en Rachel Elizabeth Rittmann skuldig bevind aan moord, sameswering tot moord, dwarsboming van die gereg, en is Rachel alleenlik ook skuldig bevind aan diefstal van Loffie se selfoon, sy beurs, bankkaarte, geld, identiteitsdokument, en sy Isuzu-bakkie.
Ná deeglike oorweging van die bewyse en getuienis voor die hof, het regter Liebenberg Rhyno du Preez en sy broer, Engelhardt, se getuienis in verband met die verloop van gebeure geloofwaardig gevind, en Rachel ongeloofwaardig bestempel.
Engelhardt het voor die hof getuig dat hy, Rachel, en Rhyno by 'n gewilde eetplek in Windhoek in 2013 ontmoet het, waar Rachel hom gevra het of hy nog daarvan droom om Engeland eendag te besoek, en hom toe gevra het of hy 'n geheim kan hou. Sy het daarna, breedvoerig, 'n plan met hom en Rhyno gedeel om haar man, Loffie, te vermoor. Twee weke na die ete, het Rhyno vir Engelhardt gebel om te sê dat hulle nie meer met die plan sal voortgaan nie. Ten spyte hiervan is Loffie egter twee (2) maande later op soortgelyke wyse vermoor, byna presies soos Rachel beplan het.
Regter Liebenberg het ook bevind dat die minnaars om verskillende redes saamgesweer het om Loffie te vermoor. Rhyno du Preez, 'n werklose ambagsman, het vir Rachel in 2012 ontmoet nadat sy vir hom 'n vriendskap versoek en 'n boodskap op Facebook gestuur het. In Junie, 2012, woon hulle reeds saam in Okahandja, en in November daardie jaar is hy by die kontantleenbesigheid wat Rachel bestuur het aangestel. Rhyno was regtig verlief op Rachel en sou enigiets doen om haar te behou, maar hy was ook buitengewoon besitlik en jaloers op haar man, Loffie, omdat laasgenoemde 'n goeie werk met 'n inkomste en 'n huis had, en vir sy vrou en kinders kon sorg, dinge wat Rhyno nie kon nie.
Rachel sou weer enigiets doen om geld in die hande te kry nadat die kontantleenbesigheid haar laat opsluit het vir bedrog en diefstal. Sy het haar minnaar belieg en manipuleer om haar man te vermoor. Indien sy skuldig bevind was aan bedrog en diefstal, sou sy in elk geval tronk toe. Ironies genoeg het sy Loffie se moord beplan sodat sy die kontantleenbesigheid kan terugbetaal met 'n verwagte uitbetaling van Loffie se lewenspolisse. Om dit te bewerkstelling, was sy drie (3) keer in Windhoek om die begunstigdes op sy lewenspolisse te verander en Loffie se testament in haar guns te wysig.
Toe sy voor die hof gevra is of sy lief was vir Rhyno, het Rachel Rittmann geweier om die vraag te antwoord.
***
Die tragedie van die moord op Rudolph “Loffie” Rittmann is bowenal die verlies van 'n waardevolle lid vir sy gemeenskap. Loffie het sy ouers onderhou, hulle op die plaas gehelp, was 'n verantwoordelike werknemer, 'n vriend wat andere se lewens verhelder het, 'n vader en versorger wat sy laste met geloof en glimlagte geskouer het, en 'n mens met 'n klein hart vir sy vrou. Hul kinders het albei ouers verloor.
Rachel se oppervlakkigheid ten opsigte van Loffie se basiese reg tot sy lewe, menswaardigheid, en besittings is tipies van iemand met narsistiese persoonlikheidsafwyking of 'n psigopaat. Haar handeling en optrede vóór en ná sy moord, die rede waarom sy besluit het om hom te vermoor, die openbaring van haar plan aan Rhyno en sy broer, Engelhardt, in 'n eetplek, die gereelde ritte Windhoek toe, spreek boekdele oor haar karakter.
In die hof het Rhyno vir Rachel baasspelerig en “dominerend” genoem, iemand wat elke aspek van hul lewens beheer het en alle besluite wou maak.
Regter Liebenberg het ook bevind dat Rachel weier om verantwoordelikheid vir haar deelname in Loffie se moord te aanvaar ten spyte daarvan dat sy teenwoordig was tydens sy moord, dat sy nie vir Loffie beskerm, gewaarsku, of gehelp het nie, inteendeel, sy het die moordwapen in die kombuis gaan haal en aan sy moordenaar oorhandig, dat sy vooraf reëlings getref het vir hul dogter om nie daardie aand by hul huis te wees nie, en dat sy tot op hede geen berou betoon nie, in teënstelling met Rhyno du Preez wat sy samewerking vir die polisie gegee en Loffie se familie om vergifnis gevra het.
Rhyno du Preez is 'n vonnis van 34-jaar opgelê en Rachel Rittmann is die eerste Namibiese vrou wat in twintig (20) jaar lewenslange tronkstraf opgelê is.
Op 10 Desember, 2020, het Rhyno du Preez tydens selinspeksie ineengestort en is hy dood met aankoms verklaar by Katutura staatshospitaal. 'n Woordvoerder vir die Namibiese Korrektiewe Dienste (NKD), kommissaris Sam Shaalunlange, het in 'n verklaring gesê dat tronkpersoneel daarvan bewus was dat Rhyno hoë bloeddruk had en dat hy onmiddellik te hulp gesnel is, maar was dit reeds te laat.
***
*Nie sy regte naam nie.
Hierdie fotos van Rachel Rittmann en Rhyno du Preez is deur die joernalis, Werner Menges, vir The Namibian koerant geneem. Sou u daarin belangstel om 'n bydrae tot hierdie blad te maak, deur middel van gedigte, resepte, kortverhale, of nuusbrokkies, selfs raaisels, word u genooi om gerus 'n epos te rig aan nossobgroep@gmail.com.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking