Perspektief: Lees in die Tyd van Covid-19 deur Leilani G. van Wyk

“Jy hou mos van lees?” vra 'n kollega my.

    “Natuurlik!” antwoord ek sonder om twee keer daaroor te dink.

    Lees is een van my gunsteling dinge om te doen, juis omdat dit niks van my vereis nie. 

    Ek het nie nuwe drafskoene nodig om te lees nie, ook nie 'n sportsbra of 'n spanbroek sonder gaatjies nie (al my spanbroeke het gaatjies), en nog minder 'n spoggerige fiksheidshorlosie op my arm met 'n toep wat elke tree tel...

    “Natuurlik!” antwoord ek, al kan ek nie onthou wanneer laas ek 'n regte, egte papierboek opgetel het om te lees nie. 

    “Wel, hier is 'n paar boeke vir jou,” sê sy. 

    Liewe aarde! Kyk, enigiemand wat my ken weet ek is mal oor geskenke, maak nie saak hoe groot of klein nie. En, as jy my vra, is daar geen beter geskenk as 'n boek nie. Ek is een van daai anties wat vir Sannie op haar derde verjaarsdag 'n boek geskenk sal gee.

   Maar wag, wag, ek is nou heel van die pad af; my gedagtegang het ontspoor. In elk geval, terug by lees...

  Lees, volgens my, is vir lui mense omdat jy net jou oë gebruik en 'n bietjie fokus of konsentrasie nodig het. Plaas jou agterent dan in 'n stoel, of op 'n bed, en verdwyn in die boek van jou keuse. 

    Dis egter makliker gesê as gedaan. 

    Ek maak my reg om elke vry oomblik wat ek kry 'n boek oop te maak maar, dan dink ek... Laat ek eers gou daai sms stuur of 'n oproep maak. Sodra ek egter my selfoon in die hand het waai die plan om te lees by die venster uit. As ek my weer kom kry, is ek kniediep in videos op Facebook of TikTok, of ek gaan deur familie en vriende se status updates op Whatsapp. Dit is moeilik om daarvan weg te breek, die selfoon neer te sit, en 'n boek oop te maak.

    Ek het vier maande later eers een van die boeke gelees. Jy wonder seker hoekom so lank en hoekom ek uiteindelik begin het? 

    Alles rondom my was besig om in duie te stort as gevolg van Covid-19. Mense na aan en ver van my is besig om te sterf. Ek kon aanvoel hoe 'n donker wolk van verdriet dreig om my te versmoor. Ek, die een wat altyd probeer om iets mooi in alles te sien, sukkel om die silwer randjie om die donker wolk te sien. 

    Elke storie op sosiale media is meer neerdrukkend en ontmoedigend as die vorige een. Elke hoes of nies of neus se optrek stuur koue rillings langs my ruggraat af. 

    “Aan wat het ek gevat?”

    “Het ek my hande ontsmet?”

    “Was ek dalk in aanraking met iemand wat Covid onderlede het?”

    My gedagtes was my grootste vyand en my selfoon 'n noue tweede.

   Ek het die eerste boek opgetel en begin lees en vir 'n uur lank het ek heeltemal verlore geraak in die verhaal. Ek het nie eenkeer aan al die aaklige dinge gedink wat besig is om buite in die wêreld te gebeur nie. 

   Inteendeel, ek was in die skoene van 'n speurder wat 'n uitgeslape reeksmoordenaar probeer vastrek. Belaglik, ne? Miskien, maar vir my was dit 'n grashalm waarna ek gegryp het, 'n stok wat my uit die dryfsand van my verdriet gehelp het. 

    Ek vergryp my aan die boek want om deesdae TV te kyk is tydmors. Daar is niks op TV die moeite werd nie. My verbeelding is soveel ryker, meer kleurvol, en interressanter as enige fliek wat ek gekyk het. 

    Die skrywer voer my heen na 'n plek waar elke letter wat ek op 'n rekenaar se sleutelbord tik, 'n wapen is wat teen my gebruik kan word. 'n Plek waar die bad guy slimmer en meer uitgeslape is as enigiemand wat ek ken. Hy gebruik elke brokkie inligting wat jy ooit op die Internet geplaas het om jou na 'n gruwelike dood te lok.

    Die boek was so aangrypend en interressant dat ek dit nie wou toemaak en neersit nie. Ek was bang dalk mis ek uit, soos die Ingelse FOMO (fear of missing out).

    Saans vat ek die boek saam bed toe. Ek, wat gewoonlik binne drie sekondes aan die slaap raak, moes my arme oë oopdwing om nóg 'n hoofstuk te lees. Ek skrik wakker wanneer die boek op my gesig val. Môre moet ek in elk geval dieselfde hoofstuk oorlees want ek kon nie so lekker onthou nie. 

    Intussen het my stryd verander van ek-sukkel-om-te-lees na ek-sukkel-om-op-te-hou-lees. Skottelgoed was nie hulself nie, beddens maak hulself nie op nie... Ek was weer soos 'n astrante tiener wat gevra het:

    “Hoekom moet ek dit doen? Kan Ma nie sien ek lees nie? Laat iemand anders dit doen.”

    Ek was weer 'n ywerige leser wat nie kon wag om by die huis te kom om uit te vind wat volgende in my boek gebeur nie. Ek is so trots op myself jy sal dit nie glo nie.

    Ek het uiteindelik besef dat daar gebeure in die wêreld is waaroor 'n mens geen beheer het nie. Ek hoef nie toe te laat dat dinge waaroor ek geen beheer het my gemoed beïnvloed nie. Ek het besef dat ek nie alles hoef te weet nie. Ek hoef nie elke dag se Covid syfers te ken nie. Ek hoef nie te probeer om almal gelukkig te maak nie. Ek is nie pizza of 'n bottel rooiwyn nie. 

    Ek hoef nie elke SMS of oproep te antwoord nie. Ek mag toelaat dat my selfoon se battery afloop. Ek kan sonder data of belgeld wees en nie paniekbevange word nie. Die wêreld sal nie vergaan as ek nie help nie. Die son sal môre opkom, of ek dit nou so wil hê of nie. Die sterre sal skyn al is my selfoon dood en al lees ek nie vandag se koerant nie. 

    Ek het my mag herwin. Ek het in myself begin belê. En, dit het alles begin toe ek 'n boek oopmaak en lees...

    Hierdie artikel is geskryf deur Leilani G. van Wyk: leilanimesmo@gmail.com. Alle regte voorbehou. Leilani is 'n ywerige leser en aspirante skrywer. Haar liefde vir enige vorm van kuns het haar aangespoor om 'n loopbaan in argitektuur te volg, 'n beroep waarin sy reeds 22-jaar se ondervinding het as tegnoloog in dié veld. Buiten haar professionele lewe is sy 'n geliefde eggenote en moeder van drie (3) mense, een hondjie, en 'n katjie. Sy en haar gesin is woonagtig te Windhoek. 

        




Opmerkings