Volksverhaal: Die Boggelrug van Basra

Baie lank gelede woon 'n kleremaker en sy vrou in Basra, 'n kusdorp in Irak. Een soel aand wandel hulle deur die strate en ontmoet 'n man met 'n boggelrug wat hulle laat skater van die lag met sy grappe en manewales. Hulle nooi hom toe om aandete by hul huis te eet.

    Die boggelrug aanvaar onmiddellik die paartjie se uitnodiging en toe hulle by die kleremaker se huis kom, berei sy vrou vir hulle die heerlikste, geurigste disse voor. 
    Terwyl hulle eet, probeer die boggelrug sy gasheer laat lag en sy gasvrou beïndruk deur 'n groot stuk vis in sy mond te druk, maar daar is 'n lang visgraat in die stuk en toe hy sluk, gaan sit die graat dwars in sy keel. Die kleremaker en sy vrou is geskok toe die boggelrug verstik en sterf. 
    “Hier is nou groot moeilikheid!” gil die kleremaker op sy vrou. “Wat gaan ons doen?” 
    Kom,” sê sy en gaan haal van haar serpe en sluiers. Hulle draai die boggelrug se liggaam toe in die helder lappe en dra hom by die huis uit; sy dra voor en die kleremaker agter. 
    “Bly weg! Moenie nader kom nie!” skree die kleremaker se vrou in Basra se strate. “My kind het pokkies! Ons gaan dokter toe! Bly weg!” 
    Almal wat haar hoor hardloop onmiddellik weg want niemand wil siek word nie. 
    By die dokter se huis maak 'n bediende die deur oop. Die kleremaker se vrou sê
   “Vat hierdie silwer muntstuk, gee dit vir jou meester, en roep hom om na my siek kind te kom kyk.” 
   Toe die bediende met die trappe op hardloop om die dokter te ontbied, sit die kleremaker en sy vrou die boggelrug op die onderste trap neer en hardloop weg, huis toe. 
   Die dokter hardloop af met die trappe om die pasiënt te ondersoek maar, omdat dit donker is en hy vinnig hardloop, struikel en val hy oor die boggelrug op die onderste trap. Die dokter is geskok om te sien die persoon lê roerloos. 
    “Ag, nee man!” gil hy. “Ek het my pasiënt doodgemaak!” 
    Die dokter roep sy vrou en vertel haar wat gebeur het. 
   “Dis niks,” sê sy. “Kom ons gaan los die lyk in die buurman se jaart. Niemand sal ons verdink nie.” 
    Hulle dra die liggaam na hul buurman, 'n hofmeester, se tuin en sit dit regop teen 'n muur naby sy kombuisdeur. 
    Die hofmeester is gedurig besig om honde en katte uit sy jaart te jaag omdat hy vermoed hulle eet sy botter. Daardie aand kom hy huis toe, steek 'n kers in die tuin aan, en is verbaas om te sien 'n man sit naby sy kombuisdeur. 
    “O!” sê die hofmeester. “Ek verdink diere, maar dis die hele tyd jy wat my botter steel, vabond!” 
    Hy lig sy kierie op en slaan die boggelrug hard op die bors daarmee. Toe die liggaam omval, lyk dit vir die hofmeester die persoon is dood en word hy bang. 
    “My ewige botter!” gil hy. “Ek is vervloek!” 
    Hy tel die boggelrug op, gooi hom oor een skouer, en dra hom deur die verlate strate tot by die markplein. Daar sit hy die liggaam regop teen die muur in 'n donker gang en hardloop weg, huis toe. 
    Nie lank daarna nie loop die sultan (of koning) se makelaar deur die gang, oppad na die stoombaddens. Vroeër daardie week is een van sy tulbande gesteel. Toe hy om 'n hoek stap en die boggelrug in die gang sien sit, lyk dit vir hom asof die man die gesteelde tulband op sy kop het. Die makelaar maak toe 'n vuis en slaan die boggelrug  op die bors. 
    “Hou jou hande van my goed af!” skree hy ergerlik. 
    Die nagwag op die markplein hoor die makelaar skree en hardloop by die gang in. Hy sien hoe 'n man 'n ander man slaan en tree tussenbeide. 
    Toe hy die makelaar wegdruk en die dooie boggelrug sien, bind die nagwag die makelaar met 'n tou vas, sleep hom na die satrap (of goewerneur) se huis en kla die makelaar aan van moord. Die satrap vind die makelaar skuldig en beopdrag die dorp om hom te hang. 
    Die galg is in die middel van Basra opgerig, op die markplein. Die laksman kry alles gereed. Net toe hy die tou om die makelaar se nek sit, beur die hofmeester deur die skare tot by die galg en skree
   “Moenie daai man hang nie. Ek, dis ek wat die boggelrug doodgemaak het!” En die hofmeester vertel hoe hy die boggelrug in sy tuin met sy kierie op die bors geslaan het. 
    “Gryp hom! Hang die hofmeester!” skree die satrap
    Net toe die laksman die hofmeester aan die arm gryp, hardloop die dokter deur die skare tot by hulle. 
    “Ek weier dat 'n onskuldige mens om my skuld sterf!” En hy vertel hoe hy per ongeluk sy pasiënt doodgemaak het. 
    “Vat hom! Hang die dokter!” skree die satrap
    Net toe die laksman die tou om die dokter se nek vasmaak, kom die kleremaker deur die skare aangehardloop. 
    “Nee, wag!” skree hy. “Dis ek, ek is skuldig!” En hy vertel hoe sy gas aan 'n visgraat verstik en gesterf het. 
    'n Manshaarkapper, die barbier, wat alles hoor en aanskou, tree toe na vore en vra die satrap nederig of hy die boggelrug se liggaam van nader mog sien. Die satrap beopdrag die nagwag om die liggaam vir die barbier te bring. 
    Die barbier kniel toe langs die boggelrug. Hy haal 'n botteltjie uit sy sak, gooi olie uit op sy hand, en masseer die boggelrug se keel daarmee. Uit 'n ander sak haal hy 'n knyptang, maak die boggelrug se mond wyd oop, en haal 'n lang visgraat uit sy keel. 
    Die boggelrug hoes en maak sy oë oop. 
    “Sien julle,” sê die barbier, “hierdie man is nie dood nie.” 
    Almal, insluitende die satrap en die laksman, is vol bewondering vir die barbier. 
   Toe die sultan die boggelrug van Basra se merkwaardige verhaal hoor, beopdrag hy een van die paleis se skrywers om die verhaal in goue letters op perkament neer te skryf. 
    Danksy dáárdie opdrag kan jy dit ook nou hier lees, honderde jare later... 
    Fluit, fluit, die storie is uit. 

***

Alhoewel verskillende weergawes van hierdie verhaal tans bestaan en oorvertel word, ook in verskillende tale, bevat dit die kern van 'n oorspronklike verhaal wat ongelukkig nie meer bestaan nie en wat vermoedelik slegs mondelings oorgedra is. 
    'n Weergawe van Die Boggelrug van Basra het in 1775 in 'n Egiptiese uitgawe van “Die Nagte” (Eng. The Nights) verskyn. The Nights verwys natuurlik na die beroemde versameling volksverhale uit die Midde-Ooste, genaamd “Arabiese Nagte” (Eng. Arabian Nights) of “Duisend Nagte en Een” (Eng. One Thousand and One Nights), wat oorspronklik in Arabies geskryf en saamgestel is tydens die goue era van Islamitiese kultuur, vanaf die 8ste tot die 14de eeue N. C. (na Christus). Die oorspronklike naam van “Die Nagte” is ''Alf Laylah wa-Laylah'' of أَلْفُ لَيْلَةٍ وَلَيْلَةٌ
    Die verhale in hierdie merkwaardige versameling is oor honderde jare bymekaar gemaak deur verskillende skrywers (soos die skrywer in die paleis na wie in Die Boggelrug verwys word), vertalers, en geleerdes in westelike, oostelike, en suidelike Asië, asook Noord-Afrika, en van die verhale is vermoedelik ouer as Christendom. 
    Dit is derhalwe glad nie verstommend dat 'n uitgawe van “Die Nagte” in Egipte ontdek is nie omdat baie van die verhale in dié versameling oorspronklik spruit uit antieke en middeleeuse Arabiese, Egiptiese, Indiese, Persiese, en Mesopotamiese kultuur en literatuur. 
    “Die Nagte” is briljant en uniek omdat alle verhale in die versameling binne die raamwerk van 'n hoofverhaal plaasvind; met ander woorde, die hoofverhaal van Koning Shahryar (uitspr. sja-rie-aar) en die legendariese Shahrazad (uitspr. sja-ra-zaad). 
    Die aanpassing, vertaling, en navorsing van Die Boggelrug van Basra is behartig deur Anya Namaqua Links. Hierdie is dan ook die Nossob Xoa Xrup (Skryfgroep) se eie en eerste Afrikaanse weergawe van hierdie ou verhaal. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com

Opmerkings