Die Khoe-Saan was eens op 'n Tyd die Konings op Aarde. Wat het gebeur?

    Omtrent 22,000 jaar gelede was hulle die grootste groep mense op aarde: die Khoe-Saan*, 'n gemeenskap van jagter-versamelaars in suider Afrika.

    Vandag is daar ongeveer net 100,000 van hulle oor. 

    In 2014 het Professor Stephan C. Schuster van die Nanyang Tegnologiese Universiteit in Singapoer nuwe navorsing bekend gestel oor hierdie jagter-versamelaar gemeenskap wat nou hoofsaaklik in armoede leef en hul kulturele gebruike word bedreig. Ons het met Schuster oor sy navorsing van die Khoe-Saan gesels. 

    Hoe het dit gebeur dat 'n groep wat eens op 'n tyd die meerderheid op aarde was, nou so klein is?

    Eerstens, die feit dat daar nou sewe (7) miljard mense op die aarde is maak dit vir ons onmoontlik om te verstaan hoe min mense daar in die verlede op aarde was. Omtrent 10,000 jaar gelede was daar minder as 'n miljoen mense op aarde, en omtrent 100,000 jaar gelede was daar maar slegs 'n paar 10,000. 

    Die hele genoom-volgorde* wat ons ontleed het, dui daarop dat ander groepe, wat nie Khoe-Saan was nie, nie so goed soos die Khoe-Saan floreer het nie.

    Wat het die balans versteur?

    Veranderinge in die klimaat. Voor ongeveer 22,000 jaar gelede was die suidelike dele van Afrika oor die algemeen klammer met hoër reënval, in vergelyking met droër dele in westelike en sentraal Afrika waar ander groepe gebly het. 'n Droër klimaat beteken minder wild om te jag, minder voedsel, en outomaties, minder kinders. 

    Die grootte van ander groepe het dus aansienlik gedaal terwyl die grootte van die Khoe-Saan gemeenskap deurentyd min of meer dieselfde gebly het. Maar, na die laaste ystydperk* het die klimaat verander, en om redes wat ons nog nie heeltemal verstaan nie, het die ander groepe in Afrika uitgebrei en versprei wat tot die aansienlike aanwassing van mense regoor die aarde gelei het. 

    Hoe handhaaf die Khoe-Saan hul leefwyse vandag?

    Hulle doen nie. Ons aanskou tans die einde van hul kultuur en jagter-versamelaar leefstyl wat geleidelik deur veeboerdery en landbou vervang word. 

    In Botswana, byvoorbeeld, is wetgewing dat jagter-versamelaars nie meer mag jag nie. Daar is ook grondgeskille met owerhede en in baie gevalle word die Khoe-Saan uit gebiede verdryf waar hulle gewoonlik jag en voedsel versamel, en word hulle ook van grond vervreem wat hulle heilig of gewyd beskou.

    Hulle word as nikswerd beskou in die breë gemeenskap en het geen of min verteenwoordiging op die politieke vlak. In baie opsigte weerspieël dit presies wat met die inheemse mense van Noord-Amerika gebeur het, wat terloops ook jagter-versamelaar gemeenskappe was. 

    Kan jy die Khoe-Saan kultuur beskryf en wat alles verlore gaan? 

    Die belangrikste is die taal. Hierdie is kliktale waarin verskillende klikke soos konsonante optree. Taalkundiges glo hoe groter die aantal klikke in 'n taal, hoe ouer die taal, en hierdie tale het vyf (5) klikke, meer as enige ander tale. Daar is natuurlik ook die pragtige musiek en hul unieke sangtradisie wat verlore sal gaan. 

    Wat van vaardighede en die soorte kennis wat eie is aan die Khoe-Saan? 

    Hulle beskik oor 'n magdom kennis van hul natuurlike omgewing, veral die weer, plante, bosse en bome, en ook die gedrag en gewoontes van wilde diere. Waar ek en jy net droë hout, dorings, en plante sal sien, sien hulle voedsel in verskillende vorme. Stap ons saam in die veld, loop en eet hulle gedurig omdat daar altyd iets is om aan te peusel, en dis kosbare kennis wat ons nie besit nie. 

    Die veld dien ook as hul apteek wat kruie en natuurlike medisyne verskaf vir siektes. Selfs die bejaardes in hul groep het helder gehoor en skerp sig wat verstaanbaar is aangesien hierdie mense se voortbestaan afhang van hul vaardigheid en vermoë om te jag. 

    Kan jy meer vertel oor hoe hulle jag?

    Hulle gebruik 'n klein boog en baie kort pyl wat hulle self maak. Hulle smeer dan 'n gif wat hulle van 'n sekere soort ruspe maak aan die pyl se punt. Hulle is ook meesterlik in strikke en wippe stel om diere mee te vang en hulle gebruik nie toue of metaal nie, slegs natuurlike goed soos takke, gras, en blare. 

    Daardie hele kennis sal verlore gaan as hul jonger geslag nie die geleentheid gegun word om hierdie leefwyse te volg nie. Dit is dalk reeds te laat. 

    Wat kan ons leer van die bevolkingspatrone wat jy bestudeer het?

    Die belangrikste agent wat veranderinge in bevolkings teweegbring is die klimaat. Ons wil ook hê mense moet besef dat daar tye in die geskiedenis was toe daar so min mense op aarde was dat ons amper uitgewis is. Ons sien dieselfde patroon by baie bedreigde spesies vandag. Ons beskou onsself nou as onkwesbaar maar, ons moet nooit dink die klimaat sal nie in die toekoms op so 'n manier verander wat ons in gevaar stel nie. Ons moet klimaat-kwessies ernstig opneem. 

***

    Hierdie artikel was geskryf deur Diane Cole vir NPR. Lees die oorspronklike artikel hier in Engels: https://www.npr.org/sections/goatsandsoda/2014/12/22/371672272/the-khoisan-once-were-kings-of-the-planet-what-happened

    *Khoe-SaanNeem asseblief hier kennis dat die inheemse jagter-versamelaar gemeenskappe van Namibië, Botswana, en Suid-Afrika die name ''Boesman'', ''San'' of ''Saan'' as neerhalend beskou, en het hulle reeds in 1996 by die eerste byeenkoms van die Working Group of Indigenous Minorities in Southern Africa (WIMSA) in Namibië gevra dat na hulle verwys moet word volgens hul verskillende nasies se name, met ander woorde, as die !Kung (!Xuun) nasie (van noordelike Namibië), die Tuu (wat ''mens'' beteken) nasie van Botswana en Suid-Afrika, die Tsjoe-Khwe nasie, en die Gǀui (ǀGwi) nasie van Botswana.

    *Ystydperk: Die laaste ystydperk, of die mees onlangse een, het in die laaste jare van die Pleistoseen plaasgevind, ongeveer tussen 110,000 en 12,000 jaar gelede. Die Pleistoseen was 'n aardrykskundige tydperk waartydens die klimaat op aarde aansienlik afgekoel het. 

    *Genoom-volgorde: 'n Hele genoom-volgorde, ook bekend as die volgorde van 'n volledige genoom, is die proses om die hele, of byna die hele, DNS-volgorde van 'n organisme se genoom te bepaal. Dit sluit in die volgorde van DNS in kromosome (std. Afr. ''chromosome'') en ook die DNS wat in mitokondria aangetref word. DNS is kort vir deoksiribonukleïensuur. 

    Die vertaling van hierdie artikel in Afrikaans is behartig deur vryskut navorser en skrywer, Anya Namaqua Links. Die foto hierby was deur Professor Stephan C. Schuster geneem.    

Opmerkings