Die Muskiet in die Kamer: Etniese Stereotipering en Rassediskriminasie

    Die wêreldwye definisie van rassediskriminasie is enige diskriminasie teen enige persoon op grond van velkleur, ras, etniese herkoms of oorsprong.

    Ingevolge Namibië se Verbodswet op Rassediskriminasie, nommer 26 van 1991 (Engl. Racial Discrimination Prohibition Act, 26 of 1991), is dade en gebruike van rassediskriminasie en apartheid strafbaar, ingevolge Artikel 23 van die Namibiese Grondwet, met betrekking tot openbare geriewe, die verskaffing van dienste en goedere, vaste goed en eiendom, opvoedkundige en mediese instellings, werk en betrekkinge, genootskappe, godsdiens, alles wat onenigheid tussen rasgroepe aanhits en bevorder en wat daartoe lei dat persone slagoffers van rassediskriminasie word. 

    Die verbodswet beskryf 'n rasgroep as 'n groep persone met verwysing na velkleur, ras, volkskarakter of burgerskap (nasionalitieit), of etniese oorsprong en herkoms. 

    Klousule 11 van die verbodswet stipuleer dat niemand in die openbaar taal mag gebruik, of geskrewe materiaal mag druk, uitgee of versprei, of 'n item* vertoon, of 'n daad of enigiets soortgelyk mag doen met die doel om: 

    1. enige persoon of 'n groep persone te dreig of beledig op grond van daardie persoon of persone se genootskap tot 'n gegewe rasgroep; of
    2. haat en onenigheid tussen verskillende rasgroepe of tussen mense van verskillende rasgroepe aan te hits, aanmoedig, en veroorsaak; of
    3. idees van rassemeerwaardigheid te versprei. 
    *Om verklarende doeleindes sluit ''item'' (Engl. ''article'') enige vlag, ordeteken (ook kenteken), embleem of simbool in. 

    Verder, ook in Klousule 11, mag niemand 'n lid wees of deelneem aan aktiwiteite, of organisasies en bewegings stig of ondersteun waarvan die doel is om idees van rassemeerwaardigheid teenoor lede van 'n ander rasgroep te versprei nie, of deelneem aan aktiwiteite wat daarop gemik is om soortgelyke idees te laat ontstaan, teweegbring, bevorder, en versprei.

    a) Etniese Vooroordeel en Rassistiese Stereotipering

    Etniese vooroordeel en rassistiese stereotipering is deel van 'n stel oortuigings wat verband hou met opvattings aangaande die tipiese kenmerke van lede van 'n gegewe etniese groep, rasgroep, bevolkingsgroep, kultuurgroep, of nasionaliteit (burgerskap). 

    Dit is gewoonlik 'n vaste oortuiging en veralgemening dat alle lede van 'n gegewe groep dieselfde kenmerke (spraakwyse, gedrag, gewoontes, voorkoms, ensv.) vertoon. Die lede van die teikengroep is dus ''tipies''. 

    Wanneer etniese vooroordeel en rassistiese stereotipering teenwoordig is, is beledigings op grond van ras algemeen en word almal oor dieselfde kam geskeer, soos byvoorbeeld met die volgende stelling: 

    ''Alle Basters en Kleurlinge is dronklappe en dwelmslawe.'' 

    b) Informele Rassisme en Rassistiese Bespotting

    Informele of algemene rassisme is subtiel en word skaars opgemerk behalwe deur die persoon of persone wat daardeur geteiken word. Dit is vervat in alledaagse uitdrukkings en woorde, ook name, wat rassisties van aard is maar omdat hulle daagliks of oor die algemeen gebruik word, en deel is van die omgangstaal, kom hulle gewoonlik voor in die vorm van grappe, wat die nabootsing van aksente en spraakwyse, gesigsuitdrukkings of liggaamshoudings insluit: 

    ''Hy is so klein soos 'n Boesman*.'' 

    ''Aitsa, jou slim meid!''  

    Omdat ander mense, 'n gehoor, gewoonlik daaroor lag word dit nie ernstig opgeneem of gerapporteer nie. Die skade wat informele rassisme en rassistiese bespotting hul teikens berokken is nietemin gelykstaande aan ras en etniese beledigings, en laat voel mense ontuis en onwelkom in 'n omgewing, ook voel hulle ''anders'', uitgesluit, en word dit soms gebruik om die teiken ''op sy / haar plek te sit'' om sodoende 'n status quo van rassemeerwaardigheid te behou. 

    c) Rasse-afknouery

    Rasse-afknouery vind plaas wanneer 'n persoon of persone onophoudelik geterg, gespot, verkleineer, gedreig, verneder, en skaam gemaak word oor hul voorkoms, etniese herkoms of agtergrond, godsdiens, kultuur en gebruike, die manier hoe hulle praat of aantrek. Dit wissel van grappe en snedige opmerkings tot aggressie en aanranding. Dit is veral algemeen in laer-en hoërskole en 'n goeie voorbeeld hiervan is:  

    ''Jy moet jou kroeshare relax.''

    Afknouery, oor die algemeen, het 'n uitwerking op enige gemeenskap omdat dit beide die slagoffer van rasse-afknouery en die toeskouers daarvan nadelig beïnvloed en traumatiseer. Wanneer dit herhaaldelik gebeur, beïnvloed dit die gemoedstoestand van 'n hele gemeenskap en oor die lang termyn lei dit na afwykende of antisosiale gedrag soos hoë vlakke van aggressie onder lede van dieselfde groep en magteloosheid in die breë gemeenskap. 

    Waar rasse-afknouery gereeld plaasvind is dit nie vreemd om te sien dat mense uit sulke gemeenskappe verhuis nie, om op te let dat maatskappye en organisasies baie bedankings het, en ook dat personeel oor die algemeen hoër vlakke van afwesigheid en siekteverlof het, en werksaamheid (of produktiwiteit) gevolglik laer is.       

    d) Ingestelde of Sistemiese Rassisme

    Ingestelde of sistemiese rassisme is 'n vorm van rassisme wat vervat is in die wette, beleide, en reëls van in 'n gemeenskap, land, of organisasie. Dit lei onder andere na kwessies van diskriminasie in die strafreg, in aanstellings en werksgeleenthede, diensverskaffing en behuising, gesondheidsdienste, politieke mag en verteenwoordiging, en opvoeding. 

    Ingestelde of sistemiese rassisme is subtiel en word baie minder opgemerk en gerapporteer as interpersoonlike rassisme tussen persone of groepe. Dit is veral opvallend in die handelswyse van 'n gemeenskap, land of organisasie deur middel van prosedures, houdings, en gedrag wat neerkom op diskriminasie deur vooroordeel, onwetendheid, ondeurdagte reëls, etniese en rassistiese stereotipering wat veral etniese minderhede benadeel.

    e) Geïnternaliseerde Rassisme (''rassisme teenoor myself en my eie'') 

    Die gevaarlikste vorm van rassisme vind plaas wanneer 'n teikengroep van rassisme en rassediskriminasie die negatiewe opvattings en uitlatings oor hulself en hul eie etniese of rasgroep, kultuur, en godsdiens sonder twyfel aanvaar, en as gevolg daarvan lae selfbeeld ontwikkel en terselfdetyd lae agting vir mense soos hulle het. 

    Dis veral opmerklik in nie-blanke gemeenskappe, byvoorbeeld, waar ''witheid'' as 'n standaard en voorbeeld voorgehou wat nagestreef moet word, en lede van die nie-blanke teikengroep hul eie kultuur, gebruike, taal, spraakwyse, aksente, en voorkomste verander en verwerp om die standaard en voorbeeld na te volg. Mense wat hul eie identiteit verwerp en 'n ander volg weier dan ook gewoonlik om hul eie kulturele gebruike te beoefen wat tragies daartoe lei dat laasgenoemde stelselmatig verdwyn.

    Ter afsluiting, Namibië het 'n lang geskiedenis van rassediskriminasie wat gebaseer is op etniese stereotipering. Dit was formeel afgedwing en ingestel deur apartheidswette en diskriminerende beleide onder die vorige bedeling wat die oorgrote meerderheid van die land se bevolking benadeel en verdeel het. 

    Afgesien van ons land se rassistiese geskiedenis en die verbodswet op rassediskriminasie is dit ook elke Namibiese burger se plig om andere met respek te behandel, om regverdig teenoor andere op te tree, en om die sweer van etniese stereotipering en rassediskriminasie in ons gemeenskappe, instellings, skole, en werksplekke te beveg.

    Die redes hiervoor is voor die hand liggend. Niemand kan hul eie voorkoms (velkleur, hare, lengte, ensv.) bepaal óf vooraf kies nie, en niemand kan voor hul geboorte kies aan watter ouers, in watter taal, waar, en in watter gemeenskap hulle gebore moet word nie. Dis alles toevallig. Dis ook presies hoekom rassisme nie sin maak nie.

***

    Lees die verbodswet op rassediskriminasie hier, in Ingels: 
  1. Republic of Namibia, Annotated Statutes, Racial Discrimination Prohibition Act 26 of 1991https://www.lac.org.na/laws/annoSTAT/Racial%20Discrimination%20Prohibition%20Act%2026%20of%201991.pdf 
    Hierdie artikel is geskryf deur Anya Namaqua Links, 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep. Links het 'n graad in bedryfsielkunde en politieke wetenskap met 'n fokus op arbeidskonflik en oplossing, demokratiese modelle, ontwikkeling, en minderheidsverteenwoordiging in post-koloniale Afrika. Die foto hierby is van Jobat Duitsland se webwerf verkry. Kry ons in die hande en laat weet ons wat jy dink in die kommentaar en opmerkings afdeling, of by nossobgroep@gmail.com

Opmerkings