Gedig: My Land deur Gert Jakobs

My Land...


Is 'n mishandelde vrou

Sy lê maar stil

En laat die kinders

Doen wat hulle wil


Hulle brand

Hulle plunder

Hulle breek af

Sy is moeg en uitgeput


Sy huil

Bly maar sterk in die seer

Van haar kinders

Is daar nie meer


Die grafte is versadig

Maar bly gulsig

En hul monde oop

My land is 'n mishandelde vrou

Van al haar waardigheid

Gestroop. 


(Geskryf na aanleiding van COVID-19 sterftes en die onluste in KwaZulu-Natal)


***

    Gert Jakobs is 'n kreoolse digter van Upington in die Noord-Kaap, Suid-Afrika. Hy dig in sy moedertaal, Afrikaans, en baie van sy gedigte het Christelike temas. Van sy gedigte het al in hul kontrei se plaaslike koerant, Die Gemsbok, verskyn.

    Gert is 'n motorwag van beroep wat sy taal deur middel van die digkuns laat sing. Hy het 'n blad op Facebook, Kalahari Gedigte, waar hy gereeld gedigte plaas en kommentaar lewer oor hedendaagse gebeure. 

    Om meer van sy gedigte te lees, volg hierdie skakel na sy blad: https://www.facebook.com/Kalahari-gedigte-1113628295512294

    Hierdie gedig is die oorspronklike werk van Gert Jakobs. Alle regte voorbehou.   


Opmerkings