Ek was veertien jaar oud toe ek 'n Vrou (darekhoes / tarekhoes) word.
Die vroue van my buurt en familie het na ons huis gekom en my na 'n ander huis vergesel. Dit was 'n tradisionele Nama huis, !gubu oms, 'n ronde matjieshut met 'n houtpaal in die middel. Die vroue het my in die matjieshut gelos met 'n karos en komberse.
Ek moes vir 'n maand in die hut bly. Hulle het vir my kos en water gebring.
In die hut het ek Sâb* fyngemaak wat baie lekker ruik, en ek het rooiklip fyngemaal om poeier (!nâu) mee te maak wat ek op my gesig en aan my bene gesmeer het.
Na 'n maand het die vroue my kom haal en uit die matjieshut begelei en die mense van my buurt en familie het my soos 'n grootmens begroet en aangespreek. Hulle het kitaar en konsertiena gespeel en ek het uit die hut gedans.
Daarna moes ek Sâb aan bokke en skape smeer, aan mense se karre, winkels, en huise. Enigiets.
Sien jy, onse mense glo dat wanneer 'n kind in 'n vrou verander, die Sâb wat 'n Nuwe Vrou met haar eie hande maak en aansmeer hul kudde sal laat aanteel, hul besigheid laat groei, hul lewens verbeter.
Ons glo dit nou nog.
***
*Sâb is 'n natuurlike, handgemaakte tradisionele Khoekhoense parfuum wat van die geurige blare, stamme, en blomme van bosse en bome in die omgewing gemaak, en met beesvet, skaapvet, of Vaseline vermeng word. Dit word in 'n leë skilpaddop gehou en die wollerige stert van 'n haas word soms gebruik om dit aan diere, goedere, en mure te smeer. Die verteller is Flora Fransman van die Satco-reservaat in die ǁkharasstreek van Namibië. Die foto is verkry van Exploring Africa.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking