Jakkals het sy slaapplek verlaat en na die wonings van die khoena (Afr. “mense”, uitspr. kô-ên-a) gegaan.
Daar gekom, sluip hy by een van die matjieshutte in en lek die hele vet uit die pot. Maar terwyl Jakkals nog daar binne is, kom die khoena terug en keer hom vas.
Die khoeb (Afr. “man”, uitspr. kô-eb) van die woning vra hom: “Van watter plek kom jy, Jakkals?”
“Ek is 'n jakkals van Aroab. Ek eet die vrugte van die aro-bos, die vrugte van die hari-bos, en die vrugte van au-bos. Dis so!”
Toe sê die khoeb: “Is dit so! Kom, akkies sodat ek sien.”
Toe akkies die Jakkals aro-bessies.
Maar die khoeb vra hom weer: “Vanwaar is jy, Jakkals?”
Die Jakkals sê weer: “Ek is 'n jakkals van Aroab. Ek eet die vrugte van die aro-bos, die vrugte van die hari-bos, en die vrugte van au-bos. Dis so!”
En die khoeb sê weer: “Kom, laat ek jou akkies sien.”
Die Jakkals akkies toe hari-bessies.
Die khoeb vra hom nog 'n keer: “Waar kom jy vandaan, Jakkals?”
“Ek is 'n jakkals van Aroab. Ek eet die vrugte van die aro-bos, die vrugte van die hari-bos, en die vrugte van au-bos. Dis so!” sê die Jakkals vir die derde keer.
“Nou, akkies laat ek kan sien,” sê die khoeb.
En die jakkals akkies au-bessies.
Die khoeb vra hom nog 'n keer: “Waar kom jy vandaan, Jakkals?”
En weer antwoord die Jakkals: “Ek is 'n jakkals van Aroab. Ek eet die vrugte van die aro-bos, die vrugte van die hari-bos, en die vrugte van au-bos. Dis so!”
Die khoeb is nog steeds nie tevrede nie en sê vir Jakkals: “Kom ek kyk jou akkies.”
En toe akkies Jakkals die vet wat hy gesteel het.
Die khoeb vang hom vas maar die Jakkals tjank: “Aob*, toxoba*, moenie my so styf vashou nie, man!”
Toe die khoeb sy greep 'n bietjie verslap, ontsnap Jakkals en terwyl hy weghardloop skree hy: “Nou weet jy wie ek is!”
***
*Aob (Afr. ''man'')
*Toxoba (Afr. ''asseblief'', uitspr. tô-gô-bâ)
Hierdie ou Khoekhoense verhaal met dier motiewe, 'n jakkals wat kan praat, uit die pre-koloniale tydperk is die eerste keer in 1904 in Duits opgeteken. Die Duitse skrywer was te skaam om die oorspronklike verhaal met sy verwysing na “akkies” neer te skryf en het 'n eufemisme gebruik wat die oorspronklike karakter van die verhaal verander het.
Die Nossob weergawe van hierdie ou verhaal gebruik 'n egte Namibiese woord vir ontlasting om die egtheid daarvan te herstel. Die foto hierby van 'n rooi jakkals is geneem deur Biodiversity Explorer. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking