'n Besoek aan die Sam !Khubis (uitspr. sam-koebies) gevegsterrein, in die Rehoboth distrik, is byna verpligtend vir enigiemand van Baster afkoms.
Dis dalk verregaande om dit te vergelyk met die Hajj pelgrimstog na Mekka wat Moslems minstens een keer in hul lewens moet maak maar, dalk tog nie so vergesog nie.
Die Slag van Sam !Khubis word elke jaar sedert 1915 herdenk toe Baster families in daardie terrein skuiling gesoek het teen opmarsende Duitse magte.
Nadat die verhouding tussen die Duitse koloniale regering en die Baster-gemeenskap versuur het, omdat die Basters geweier het om wapens op te tel teen vermeende indringers uit Suid-Afrika, is talle Baster troepe ontwapen.
In daaropvolgende skermutselings is Duitse en Baster troepe gedood wat tot die kansellasie, aan die Duitse kant, van die Vriendskap-en Beskermingsverdrag van 1885 gelei het. Duitse owerhede het begin om meer soldate na Rehoboth te stuur wat veroorsaak dat Baster-gesinne na Sam !Khubis gevlug het.
Op die 8ste Mei, 1915, het die Duitsers 'n aanval op Sam !Khubis geloods wat tot die aand geduur het. Die Basters het die ergste gevrees en was oortuig hulle sou totaal en al uitgewis word.
As Godvresende mense het hulle 'n gelofte daardie dag afgelê om hul Skepper tot in ewigheid te herdenk as Hy hulle sou red uit die hand van die vyand.
Wonderbaarlik het die vyand die volgende dag onttrek.
Op die keper beskou kan die gebeure by Sam !Khubis as 'n belangrike gebeurtenis in die stryd teen kolonialisme beskou word.
***
So het ek dan in Mei, 1986, die besoek aan Sam !Khubis saam met my ouers en sibbe meegemaak. Ooms en tantes en hul kinders was ook deel van die besoekers.
Die gevegsterrein is in 'n oopte tussen 'n aantal klipkoppies geleë.
Stoere Baster families beskou dit as 'n plegtige geleentheid en neem soms verlof by hul werkgewers om die twee-dae se herdenking ter plaatse by te woon.
Tydens die geleentheid vergader honderde gesinne op die terrein, elkeen met sy tent en vuurtjie waarop 'n potjie gewoonlik staan en prut.
Die gebeure neem 'n feestelike atmosfeer aan, maar word gekenmerk deur ordentlike en stigtelike gedrag - alkohol word byvoorbeeld op die terrein verbied - terwyl daar deurgaans ter nagedagtenis aan De Gelofte 'n beduidende godsdienstige inslag handhaaf word.
Tydens ons besoek het die destydse Basterkaptein, J. G. A. (Hans) Diergaardt, die verrigtinge bygewoon. Dit was voor onafhanklikheid en die Volks-en Kapteinsraad van Rehoboth was aan die spits van verrigtinge. Politieke toesprake gekenmerk deur vurige patriotisme en kerkdienste het met reëlmaat mekaar afgewissel.
Na onafhanklikheid het selfs die Namibiese stigterspresident, Dr. Sam S. Nujoma, op 'n keer die verrigtinge bygewoon.
Daar vind douvoordag tydens die tweede oggend 'n merkwaardige geleentheid op die terrein plaas; 'n skynaanval wat die geveg van jare gelede naboots. Verskeie skote, uit hedendaagse groot kaliber gewere, word afgevuur wat die veldslag uitbeeld en die toeskouer met 'n ontstellende terugblik oor die lot van sy afgestorwe geslagte laat.
Die ligging van die terrein veroorsaak dat die geweerskote teen die klipkoppies eggo, en in die stilte van nag en newel, 'n bykans onheilspellende atmosfeer skep. Later dieselfde oggend vind 'n erediens plaas wat 'n voorloper tot die afsluiting van die plegtighede is.
Tydens dié geleentheid het ek en 'n neef op die terrein rondgeloop en op 'n leë patroondoppie afgekom.
Met die terugkom by ons tent het my avontuurlustige, en ek moet byvoeg, ondeunde neef besluit om die doppie in die vuur te gooi.
Die volgende oomblik was daar 'n geweldige slag.
Brandende hout, kole, en as spat in allerhande rigtings, en daar blyk byna 'n herhaling van die oggend se skynaanval te wees soos die klank van die ontploffing tussen die klipkoppies weergalm. Omstanders het behoorlik rondgeskarrel om aan die ''aanval'' te ontkom.
Ons was onbewus daarvan dat daar nog kruit in die oënskynlike leë patroondoppie was.
Die einde van die verrigtinge ter herdenking van Sam !Khubis was gelukkig naby want ons vuur was in sy peetjie en heeltemal geblus.
Hierdie kortverhaal is geskryf deur Andre Izaaks, 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep, Afrikaanse skrywer en digter in eie reg. Alle regte voorbehou. Hy kan in die hande gekry word by andreizaaks@gmail.com. Die foto hierby is in 2015 geneem en te vinde op die Facebook-blad van Sam Khubis (Sam !Khubis).
Goeie inslag vanne byna verlore en ongepubliseerde geskiedenis van ons Volk. Kan u nie
AntwoordVee uit